In plaas van koninklike portrette om dié heersers te vlei, het die heldedade van die nuwe republiek die nuwe brood en botter vir kunstenaars geword
Johan Myburg
In plaas van koninklike portrette en taferele om die heersers te vlei, het die heldedade van die nuwe republiek die nuwe brood en botter vir kunstenaars geword. En daarmee het kuns as propaganda ’n nuwe fase betree.
Toe Napoleon Bonaparte en sy leër in 1796 naby Arcola in Italië aankom en Napoleon die Franse driekleur in die grond stamp, was Antoine-Jean Gros (1771–1835), een van Jacques-Louis David (1748–1825) se leerlinge, teenwoordig. Hy het dié oomblik verewig in Napoleon op die brug van Arcola (1901) en daarmee die guns van Napoleon, die eerste konsul van Frankryk, gewen. Napoleon het hom onmiddellik deel van sy geselskap gemaak, hom op die kommissie benoem wat moes besluit op oorlogsbuit wat in die Louvre opgeneem kan word, en hom later ook die eretitel van baron gegee.
Maar dis met sy skildery van Napoleon wat die plaagslagoffers in Jaffa besoek waarmee Gros as kunstenaar naam gemaak het toe dié werk in die Salon de Paris van 1804 vertoon is. 1804 was ook die jaar waarin Napoleon homself tot keiser verklaar het.
Die skildery verbeeld Napoleon in 1799 tydens sy Egiptiese veldtog waar hy sy soldate in Jaffa besoek wat builepes opgedoen het. In die middel van die skildery, goed belig en in die rykste kleurgebruik, reik Napoleon grootmoedig na een van die geplaagdes uit. Agter hom dui die wolk kanonrook daarop dat die stad ingeneem is. Op ’n stadstoring wapper ’n oorgroot Franse vlag triomfantelik.
Die feite vertel egter ’n ander verhaal as wat Gros uitbeeld. Nadat hy die stad geplunder het, het Napoleon ook duisende Moslem-soldate wat hulle aan die Franse oorgegee het, buite die stad laat vermoor. Om ammunisie te spaar, is dié gevangenes met bajonette doodgesteek.
Sy eie manskappe het nie veel beter behandeling gekry nie. Ná sy besoek aan die moskee buite Jaffa waar die Franse soldate verpleeg is, het Napoleon opdrag gegee dat die plaagslagoffers met ’n oordosis opium vergif moet word.
Die rampspoedige Egiptiese veldtog (en die episode by Jaffa) was nie deel van Napoleon se grootste uur nie en daarom het hy Gros opdrag gegee om dié skildery te maak as ’n vorm van beeldpoetsery, gereed vir die kroningsgeleentheid teen die einde van 1804.
’n Mens kan kwalik die messiaanse trekke in die skildery miskyk: Napoleon in contraposto, die hand uitgesteek asof hy Christus is wat Lasarus uit die dood wek.
Propaganda werk. Soms.
Maar soos Bob Marley gesê het: “You can fool some people sometimes, but you can’t fool all the people all the time.” Oorsprong: Abraham Lincoln
Beethoven het byvoorbeeld sy derde simfonie (1804) aan Napoleon opgedra, maar toe dié aankondig dat hy van plan is om homself as keiser te kroon, het Beethoven dié huldiging teruggetrek en Napoleon as “’n tiran” uitgekryt. Die simfonie het die Eroica geword.
Namate die Napoleontiese keiserryk gekwyn het – tot en met die verbanning van Napoleon na Sint Helena in 1815 – het ’n sterk skeut melancholie sy kop in die werk van skilders soos Théodore Géricault (1791-1824) begin uitsteek.
Miskien was dié vreemde hunkering reeds een van die faktore wat tot die Romantiek van die 19de eeu aanleiding gegee het.
(hooffoto)
Jean-Antoine Gros se Napoleon se besoek aan die plaagslagoffers in Jaffa, 1804 (530 cm x 718 cm). Dié werk is in die versameling van die Louvre in Parys