Daar wás aan die een kant die verligtende ideaal, maar daar was eweneens die donkerder kant van iemand soos die Markies de Sade
Johan Myburg
Daar wás aan die een kant die verligtende ideaal (die era staan immers ook bekend as die Verligting) met die verhelderende intellek en ideale van iemand soos Immanuel Kant (1724-1804), maar daar was eweneens die donkerder kant van iemand soos die Markies de Sade (1740-1814).
Dié era se interpretasie van die Klassieke era was so uiteenlopend dat die skrywer Umberto Eco in sy On Beauty na verskillende weergawes van Klassisisme verwys.
Dit word alom aanvaar dat die argeologiese ontdekkings by Herculaneum (1738) en Pompeii (1748) die belangstelling in die Klassieke aangevuur het. Dié twee dorpe in die destydse Romeinse Ryk is onder lawa en vulkaniese as begrawe toe Vesuvius in 79 uitgebars het. Die opgrawings het benewens ongeskonde beelde en argitektuur ook eerstehandse kennis van die Klassieke beskawing aan die lig gebring.
En soos wat inwoners van Britse kolonies jare later ‘more British than the British’ was, was die strewe in die nieu-Klassieke tyd so te sê om meer Klassiek te wees as die Klassieke self. Die nadraai van en die hewige reaksie op die Barok het dalk ook ’n rol gespeel.
As illustrasie hiervan was die nieu-Klassieke oordeel dat die tuine van Versailles ’n aanduiding is van hoe tuine nié moet lyk nie: die naturalistiese benadering van die Britse Capability Brown se landelike tuine met ruïnes het die toon aangegee en in argitektuur het die eenvoud van Palladio se ontwerpe die oordaad van die Barok vervang.
Die totstandkoming van die Franse republiek in 1789 was ’n verdere hupstoot vir die nieu-Klasssieke benadering: die sober deugde van en toewyding aan die republiek het in die kuns van die tyd neerslag gevind.
Jacques-Louis David (1748-1825) word as die fakkeldraer van die nieu-Klassieke skilderkuns en ideale gereken. Hy was ’n vurige ondersteuner van die rewolusie en ’n volgeling van Napoleon. Toe Jean-Paul Marat, ’n rewolusie-leier, in 1793 in sy bad vermoor is, het David se geskilderde weergawe van Marat in sy bad nie net die dood van die leier gedenk nie, maar as ’t ware met elke kwashaal die edel eenvoud en patriotiese toewyding, so deel van die nieu-Klassieke ingesteldheid, benadruk.
Maar ’n mens kan ook nie anders nie as om die verband te sien tussen Die dood van Marat, 1793, en Jacob Philipp Hackert (1737-1807) se Groot teater, Pompeii, 1793, ’n skildery van ruïnes met Pompeii smeulend op die agtergrond. Soos Marat se lewelose regterarm verbeeld die ruïnes iets van die kortstondigheid van die lewe en die onafwendbaarheid van verganklikheid.
Die beklemtoning van die rede, van die verstand, is in die nieu-Klassieke tyd deur die verkenning van die droomwêreld aangevul. In sy skildery Die nagmerrie, 1782, het die Switserse skilder Johann Heinrich Füssli (1741-1825) vooruitgegryp na die Romantiek wat mettertyd die verskriklike, soos in die werk van De Sade, as ’n bron van plesier sou sien.
As Francisco de Goya (1746-1828) in 1799 sy Los Capricios publiseer met op die voorblad ’n ets van homself, slapend en met die onderskrif ‘Die slaap van die rede bring monsters voort’, dan is dié monsters nie dieselfde as Füssli s’n wat ekstase tot gevolg het nie.
Vir Goya is die mens se rede ’n komplekse affêre wat soms die edelste goed kan voortbring. En ander kere weer die ondenkbaarste wreedhede.
(hooffoto)
Jacques-Louis David se skildery Die dood van Marat, 1793 (165 cm x 128 cm). Dié skildery hang in die koninklike kunsmuseum in Brussel, België.