Skoonheid is gesien as die produk van proporsie en harmonie, skryf Johan Myburg
Johan Myburg
Dié term het egter sy status verloor en deesdae is “visuele kunste” die beskrywing wat vir dissiplines soos skilder- en tekenkuns, nuwe media, asook beeldhou-, installasie- en performance-kuns gebruik word. Kortom, vir kuns wat ‘n appèl op die oog maak.
Sonder om hare te kloof of puur kategories te dink, is skone kunste nie meer ‘n voldoende beskrywing vir alle vorms van visuele kuns nie, en “skoonheid” is ook lank nie meer ‘n voorvereiste vir kuns nie.
Die term “skone kunste” (in Engels “fine arts”) hou met ‘n skoonheidsideaal verband wat lank die Westerse kunsgeskiedenis oorheers het. Soos alle goeie dinge kom dit van die ou Grieke.
Skoonheid is as die produk van proporsie en harmonie gesien. En vir proporsie en harmonie was dit nodig om te kon tel; om goed af te baken. Die oneindige, dit wat nié getel kon word nie, was vir Pythagoras en sy navolgers in die sesde eeu VHJ gelykstaande aan ‘n nagmerrie. Jy moes goed kon besyfer om dit te kon bevat. En toe wiskundige wette, geskoei op waarnemings van die natuur, vasgelê is, het skoonheid meteen gestalte gekry: in musiek, in argitektuur, in beeldhou, in wat nie al nie.
Deur die Middeleeue het dié skoonheidsideaal momentum gekry en teen die Renaissance was die band tussen kuns en skoonheid bra solied. Soos in Leonardo da Vinci se Studie van die proporsies van die menslike lyf van om en by 1530 is die skilderkuns ook van ‘n matematiese onderbou voorsien.
Maar teorie hou nie altyd met praktyk rekening nie. Dis een ding om teorie in die plasing van pilare vir ‘n gebou toe te pas. Maar vergelyk ‘n mens byvoorbeeld die voorstellings van Venus deur Botticelli, Cranach en Giorgione wonder jy: Is daar van dieselfde mate van proporsie sprake? Is dié proporsie meetbaar?
So vroeg as die Renaissance het dit al geblyk dat skoonheid bepaal word deur dié persoon wat dit skoonheid noem. Smaak, met ander woorde.
Dis een ding om te wil sê kuns moet die natuurwette eggo om as skoonheid te kan kwalifiseer. Die probleem is dat kuns meer is as die napraat van natuurwette. Namate elemente soos ornamentasie, kleurgebruik, die nukke van die kunstenaar, sienings van die werklikheid (soos wreedheid, verraad en die dood) én die onwerklikheid (soos drome, fantasie, irrasionele vrese) sterker na vore begin tree het, het die skoonheidsideaal getaan, met tye opgeflikker en soms hoog gebrand. As maatstaf vir kuns was skoonheid as sodanig egter nie meer voldoende nie.
Dis een ding om aan te voer dat daar ‘n korrekte verhouding tussen die lengte van die vingers en die hand, en tussen die hand en die res van die lyf moet wees. Maar dis ‘n gans ander saak wie bepaal wat die “korrekte verhouding” is.
Picasso of Dalí se werk sou byvoorbeeld volgens dié maatstaf kwalik as “skone kuns” kon kwalifiseer.
Teen die einde van die Renaissance is daar van die gedagte afgesien dat skoonheid uit volmaakte proporsie voortkom. In die plek daarvan is skoonheid as ‘n soort spanning, ‘n soeke na iets agter die wiskundge reëls vir die werklikheid gesien.
(Hooffoto)
‘n Weergawe van die Vetruviaanse man van Leonardo da Vinci soos dit verskyn het in sy Studie van die proporsies van die menslike lyf.