Johan Myburg skryf oor die mens se vroegste tekeninge op rotse
Johan Myburg
Om oor die groot kuns van alle eeue te begin skryf, is nogal ‘n uitdaging: Iewers moet jy begin en iewers moet jy kan ophou. En in die proses gaan ‘n mens insluit wat iemand anders sou uitlaat. ‘n Keuse bly immers subjektief. Dikwels begin só ‘n ondersoek met die kuns van die Grieke, of dalk dié van die Egiptenare. Maar lank voor dié roemryke beskawings, meer as 30 000 jaar gelede, lank voordat die mens kon lees of skryf, het ons voorsate hulle merk al op klip gelaat.
Hierdie reeks begin dus met die oeroue rotskuns wat ‘n mens op al wat ‘n vasteland is, aantref: van die Lascaux-grot in Europa tot die uitbeelding van die Australiese inboorlinge se siening van die “droomtyd”, ’n bewussyn wat volgens hulle tot die totstandkoming van ondermaanse lewe aanleiding gegee het. Dis van dié droomtyd waaroor Bruce Chatwin in The Songlines so onderhoudend geskryf het.
Maar dit is eweneens elemente uit ’n ander droomtyd, dié van die San, wat in talle rotstekeninge en gravures regoor Suid-Afrika gestalte gekry het.
Dié betreklik gevorderde vorm van visuele kuns, soos die navorser Bert Woodhouse na die San se rotskuns verwys, word maklik as primitief en selfs as barbaars afgemaak. En as daar waardering voor bestaan, kom dit eerder uit die oord van die argeologie of antropologie as van die visuele kunste.
Dokumentasie van Suid-Afrikaanse rotskuns het in die vroeë 18de eeu begin en gaandeweg het die belangstelling toegeneem, namate meer plekke met rotskuns gevind is. Dit was egter eers nadat George William Stow se noukeurige 19de-eeuse natekeninge in die 1930’s in drukvorm verskyn het, dat die belangstelling van argeoloë geprikkel is en teorieë oor die herkoms en betekenis van die rotskuns toegeneem het.
Die San se rotskuns, vroeër as dié mense se uitbeelding van Suid-Afrikaanse fauna beskryf, is in die tweede helfte van die vorige eeu deur navorsers getipeer as die uitbeelding van “reëndiere” wat uit die San se folklore spruit. In dié volksverhale is ’n sterk reënbui wat op een spesifieke plek uitsak, byvoorbeeld as die “been” van die reën(dier) verbeeld. In die toringbou van cumulonimbus-wolke het die San geglo woon ’n menagerie van reëndiere.
Uitbeeldings van elande en seekoeie, slange en sôe met etlike tepels is dus nie maar net ’n beskrywing van diere nie, maar van ‘n tablo met mitiese reëndiere wat vir lewegewende reën verantwoordelik is.
Teen die 1950’s, toe wetenskaplikes toenemend besorg geraak het om ’n rekord van Suid-Afrika se rotskunserfenis saam te stel, was daar mense soos die kunstenaar Walter Battiss wat benewens die wetenskaplike waarde van rotskuns ook die kunswaarde daarvan gesnap het.
Battiss het heelwat navorsing in die Noordoos-Kaap en Vrystaat gedoen en kopieë van talle van dié werke gemaak. In 1948 het hy die klassieke werk The Artists of the Rocks uitgegee.
Vroeg in die 20ste eeu het rotskuns JH Pierneef geïnteresseer. Sy kopie van ‘n reëndier in die Rouxville-omgewing (Stow het in die 1870’s ook ‘n weergawe van dié rotstekening gemaak), is een van die werke wat hy in 1944 in Johannesburg in ‘n uitstalling vertoon het om openbare aandag op rotskuns te vestig.
Nietemin meen Esmé Berman in haar Art and Artists of South Africa dat rotskuns, met die uitsondering van Battiss, die aandag van weinig Suid-Afrikaanse kunstenaars, swart of wit, getrek het.
(hoof foto)
‘n Natekening van rotskuns in die Rouxville-omgewing in die Vrystaat, gemaak deur George William Stow, die 19de-eeuse Suid-Afrikaanse geoloog, kartograaf en skrywer. In dié werk word sagte reën (die sogenaamde “sy”-reën teenoor die harde reënbui van die “hy”-reën) as ‘n reënkoei met ‘n reënboog voorgestel. Dié waterverftekening is deel van die Lloyd-Bleek-versameling van die Universiteit van Kaapstad.