Die duidelikste invloed op die Kubiste was die latere werke van Paul Cézanne asook uitstallings van kerfwerk uit Afrika wat teen die einde van die 19de eeu gewild geword het in Parys
JOHAN MYBURG
Pablo Picasso se Sittende vrou (naak), 1909/10, olie op doek (921 x 730 mm), deel van die Tate-versameling.
Tussen 1907, die jaar waarin Picasso met sy Les demoiselles d’Avignon as’t ware lewe gegee het aan die Kubisme, en 1925 het dié beweging septer geswaai as een van die belangrikste kunsbewegings van die 20ste eeu. In 1912 is uitstallings van die Kubiste reg deur Europa aangebied en in 1913 het die VSA ook daarvan kennis geneem deur middel van die Armory-uitstalling in New York.
Die term “kubisme” is in 1911 die eerste keer gebruik om die werk te beskryf van ’n groep kunstenaars wat in Parys uitgestal het. Opvallend was nie Pablo Picasso óf George Braque – allerweë bekend as die hooffigure van die Kubisme –deel van dié uitstalling nie. Dié twee het wel van 1908 tot 1914 saam gewerk en was, soos Braque dit gestel het, “soos bergklimmers gebind deur tou”. Teen 1911 het hulle werk só ooreengestem dat hulle dit self kwalik kon onderskei.
Die 1911-uitstalling waarmee Kubisme as avant-garde-beweging in die kollig gekom het, het die werk ingesluit van Juan Gris (1887-1927), Ferdinand Léger (1881-1955), Jean Metzinger (1883-1957), Albert Gleizes (1881-1953) en Robert Delaunay (1885-1941). Die uitstalling het heelwat aandag getrek en die kunstenaars is in die pers fel gekritiseer. Kubisme is gesien as waansinnig en gevaarlik.
Praat ’n mens oor Kubisme moet jy die denkklimaat van die vroeg-20ste eeu meteen in gedagte hou. Die invloed van Darwin, Marx, Nietzsche, Freud en Einstein het ’n beduidende rol gespeel om vorm te gee aan die manier waarop daar gedink is oor die heelal, die geskiedenis, die ekonomie, godsdiens en die mens se gevoelslewe. En dié invloede het in die Kubiste se werk na vore gekom.
Maar die duidelikste invloed op die uitkyk van die Kubiste was die latere werke van Paul Cézanne asook uitstallings van kerfwerk uit Afrika wat teen die einde van die 19de eeu gewild geword het in Parys.
Cézanne was op soek na die onderliggende struktuur in die natuur en vir hom was die uitdaging hoe om dít weer te gee op ’n plat skilderdoek. Voor Cézanne was daar twee maniere om ’n prent te verbeeld: lyn en skadu. Cézanne het ’n derde manier ingebring: vlakke. Met sy gebruik van verskillende vlakke op ’n plat doek het hy die momentum gebied waarmee die Kubiste die wêreld verower het. Picasso het by geleentheid na Cézanne verwys as sy enigste leermeester.
Let byvoorbeeld op die vlakkigheid waarmee Paul Cézanne dié toneel, Mont Saint-Victoire, 1906, geskilder het en vergelyk dit met die Kubistiese benadering in dié skildery van George Braque, sy Huis by L’Estaque, 1908.
Hoewel latere Kubiste meer met abstraksie geëksperimenteer het, was Picasso en Braque se benadering deurgaans representatief. Picasso was onomwonde daaroor dat “daar nie iets soos abstrakte kuns bestaan nie”. “Jy moet altyd by iets (figuratief) begin,” het hy gesê.
Wat Picasso en Kie. so gefassineer het van Kubisme was die vryheid wat dit meegebring het. Braque het hierdie Vryheid aangegryp en materiaal wat voorheen nie in skilderkuns gebruik is nie, ingespan in sy werk. Materiaal soos muurpapier, koerantpapier, laaghout en wat nie al nie. Dié tegniek, bekend as collage, het ’n nuwe veld vir die visuele kunste oopgesluit. Sy oogmerk met collage was om die klem op die oppervlak as die subjek te vestig.
Terselfdertyd het beeldhou ook ’n klap weg gekry van die Kubisme. Picasso het in 1912 sy Kitaar gemaak van plaatmetaal en draad en daarmee ’n beeldhou-revolusie ontketen. Tot op daardie stadium was Westerse beeldhou gekenmerk aan gekerfde hout, gekapte klip of geboetseerde klei gegiet in brons. So is daar mense wat meen Picasso se bydrae tot die beeldhoukuns was dalk groter as dié tot die skilderkuns.