In Vrouekeur van 6 November skryf Johan Myburg in die rubriek “deur die kunstenaarsoog” oor die werk van die beweging bekend as die Kubisme.
JOHAN MYBURG
Die term “kubisme” is in 1911 die eerste keer gebruik om die werk te beskryf van ’n groep kunstenaars wat in Parys uitgestal het. Opvallend was nie Pablo Picasso óf George Braque – allerweë bekend as die hooffigure van die Kubisme –deel van dié uitstalling nie. Dié twee het wel van 1908 tot 1914 saam gewerk en was, soos Braque dit gestel het, “soos bergklimmers gebind deur tou”. Teen 1911 het hulle werk só ooreengestem dat hulle dit self kwalik kon onderskei.
Die duidelikste invloed op die uitkyk van die Kubiste was die latere werke van Paul Cézanne asook uitstallings van kerfwerk uit Afrika wat teen die einde van die 19de eeu gewild geword het in Parys.
Cézanne was op soek na die onderliggende struktuur in die natuur en vir hom was die uitdaging hoe om dít weer te gee op ’n plat skilderdoek. Voor Cézanne was daar twee maniere om ’n prent te verbeeld: lyn en skadu. Cézanne het ’n derde manier ingebring: vlakke. Met sy gebruik van verskillende vlakke op ’n plat doek het hy die momentum gebied waarmee die Kubiste die wêreld verower het. Picasso het by geleentheid na Cézanne verwys as sy enigste leermeester.
Let byvoorbeeld op die vlakkigheid waarmee Paul Cézanne dié toneel, Mont Saint-Victoire, 1906, geskilder het en vergelyk dit met die Kubistiese benadering in dié skildery van George Braque, sy Huis by L’Estaque, 1908.
Kyk ook na dié insiggewende video oor die werk van Paul Cézanne, die brugbouer tussen die 19de en die 20ste eeu en ook genoem die vader van die Kubisme.