Dié houtdruk is een van ’n reeks van 36 drukke wat Hokusai (1760–1849) van die berg Foedji gemaak het
Deur JOHAN MYBURG
Die golf, dié een wat vir ewig gestol, voortdurend skuim stuif met die berg Foedji in die verte, is een van die bekendste prente in die kunsgeskiedenis. Veral die Westerse kunsgeskiedenis. Nie net omdat afdrukke daarvan in heelparty kunsmuseums hang nie, maar omdat dié prent Westerse kuns so ingrypend beïnvloed het.
Dit is moeilik om te dink waar die Impressionisme sou gewees het as dit nie was vir Katsushika Hokusai se Kanagawa Oki Nami Ura (vertaal as Die groot golf duskant Kanagawa, soms genoem Groot golf of net Die golf) nie. Dié houtdruk is een van ’n reeks van 36 drukke wat Hokusai (1760–1849), ’n tydgenoot van Francisco de Goya, van die berg Foedji gemaak het. Hoewel dié berg in Japan as ’n gewyde plek gereken word en afdrukke (ukiyo-e) van Hokusai se prente later as soeweniers gewild geword het, was Japan in die tyd toe Die golf gemaak is, tussen 1829 en 1832, nie juis op die buitewêreld ingestel nie.
Benewens handel met China en Korea, was Nederland destyds Japan se Westerse handelsvennoot in Nagasaki. Dié kontak met die Weste verduidelik onder meer Hokusai se gebruik van Pruisiese blou, ’n sintetiese pigment wat in die vroeë 19de eeu wyd in Europa gebruik is en sinoniem met “aizuri-e” (blou gedrukte prent) geword het. Die prent bestaan uit drie komponente: Die see, drie bootjies met mense en die berg. Die handtekening van die kunstenaar is in die linkerboonste hoek aangebring. “Met die kwas van Iitsu,” staan daar.
LEES OOK: Kuns: Die nagwag
Hokusai, wat sy naam meer as 30 keer in sy leeftyd verander het, het ook as Iitsu bekendgestaan. Die bootjies, vinnige vaartuie bekend as “oshiokuri-bune” waarmee vis vervoer word, is gewoonlik sowat 12 m tot 15 m lank, wat sou beteken dat die golf tussen 10 m en 12 m hoog moet wees. Tradisioneel is houtdrukke in Japan nie as besonderse kunswerke geag nie – dit is eerder as illustrasies in tekste gebruik. Derhalwe is daar van Hokusai se 36 afbeeldings van die berg Foedji nie van meet af aan ophef gemaak nie. Dit was eers teen 1859 dat Japanse drukwerk Europa bereik het en die werk van kunstenaars soos Claude Monet en Vincent van Gogh begin beïnvloed het. In 1867 is die Exposition Universelle in Parys aangebied en vir die eerste keer was ’n Japanse pawiljoen met ukiyo-e deel van dié uitstalling. Monet was daar en mettertyd het hy 250 Japanse prente aangekoop, onder meer 23 van Hokusai.
Die Japanse meester, asook dié land se benadering tot kuns, het Monet betower. Die Franse kritikus Edmond de Goncourt (1822–1896) het breedvoerig oor die invloed van Hokusai op Westerse kuns geskryf. Dié invloed het verder as die visuele kunste gestrek en ook musiek ingesluit, veral dié van Claude Debussy asook die latere Art Nouveau-styl. Houtdrukke Die prent word op ’n gawe houtblok (gewoonlik kersiehout) uitgeteken, waarna dit in reliëf uitgekerf word. Die plat vlakke is die dele waar die pigment sal kleef en wat eindelik die afdruk op die papier sal laat. Die kleure word in verskillende lae gedruk. Na gelang van die gehalte van die hout kan duisende afdrukke gemaak word voordat die blok verweer. Deesdae word die oplaag genommer en is die vroegste drukke die gesogste versamelstukke. Tussen 5 000 en 8 000 drukke van Die golf is destyds gemaak.