Die negende Joburg Art Fair (JAF) word van 9 tot 11 September in die Sandtonse Konvensiesentrum aangebied. Dié kunsskou word gereken as een van die voorste forums vir die visuele kunste in Afrika.
Johan Myburgh
Die 2016 JAF bring kuns byeen in 90 uitstallings in die kategorieë kontemporêre en moderne kuns, spesiale projekte, solo-projekte deur galerye, beperkte oplaag en kunsforums. Die galerye wat werk vertoon kom van 12 lande – reg oor Afrika asook van Europa en die VSA.
Vanjaar se kategorie vir spesiale projekte fokus op Oos-Afrika en die werk van kunstenaars uit Kampala, Addis Abeba, Bujumbura, Nairobi en Dar es Salaam word vertoon. Die 2016 kunstenaar-in-die-kollig is die Keniaans-Amerikaanse Wangechi Mutu van wie ? multi-media-installasie deur Keyes Art Mile uitgestal word. Ander kunstenaars met ? Oos-Afrika-verbintenis is Aida Muluneh (Ethiopië) en Jim Chuchu (Kenis) en daar is ook die Keniaanse The Nest Collective en omgewingspesifieke werke deur Serge Alain Nitegeka wat in Burundi gebore is en in Johannesburg woon en werk asook werk van die Ugnadese Sanaa Gateja.
? Eerste op die JAF is die insluiting van TEDxJohannesburg, ? reeks gesprekke oor die visuele kunste in Afrika. Dié program word aangebied deur Ogogiii, ? internasionale tydskrif wat twee keer per kwartaal verskyn en sake dek soos pan-Afrika-ontwerp, kultuur en sake-aspekte wat spesifiek van belang is vir die vasteland. Dié gesprekke met kunstenaars, kurators en belanghebbendes in die kunswêreld vind plaas in die Theatre on the Square op die Nelson Mandela-plein in Sandton.
TEDxJohannesburg is ? gemeenskap van nuuskierige oopkoppe met ? belangstelling in nuwe idees en wat dit op verskillende maniere, ook op die internet, die wêreld instuur. TEDx se vertrekpunt is dat vindingryke idees wat die wêreld ingestuur word die wêreld mettertyd kan verander.
Die ENB-kunsprys word oudergewoonte op die JAF aan die wenner oorhandig en die ontwerper wie se werk vanjaar in die ENB-sitkamer gevier word, is Kossi Aguessy wat in Togo gebore is en in Brittanje, die VSA en Frankryk woon en werk.
Aguessy het industriële en binnenshuise ontwerp studeer aan die St. Martins- kuns-en-ontwerpkollege in Londen. Benewens ontwerper is hy ook skilder en beeldhouer. Sy futuristiese, multikulturele werk is opgeneem in die versameling van die Paryse Beaubourg-museum.
Die JAF word aangebied deur ArtLogic. Besoek die JAF op Vrydag 9 September van 11:00 tot 20:00, Saterdag 10 September van 10:00 tot 19:00 en Sondag 11 September van 10:00 tot 17:00. Toegang is R130.
Dieselfde naweek wat die JAF in Sandton aangebied word, vind die Joburg Fringe in Arts on Main in Maboneng in die stad plaas.
Joburg Fringe is die ideale plek om die werk van ontluikende kunstenaars raak te sien en op te raap.
Die week voor dié twee kunsskoue is die Joburg Art Week in volle swang in die Goudstad. Dié kunsweek begin met die gebruiklike First Thursdays, die eerste Donderdag van elke maand met galerye in Parkwood, Braamfontein en Newtown wat tot laat oopbly. Op Vrydag 2 September vind die opening van Art Week plaas en daarna kry verskillende streke van die stad die geleentheid om hul kuns ten toon te stel: Saterdag 3 September is dit Soweto; Sondag 4 September is dit Maboneng, Doornfontein en die Johannesburg Kunsmuseum se beurt; Maandag 5 September is daar verskeie rolprentvertonings; Dinsdag 6 September kom Alexandra aan die beurt en die afsluiting is op Woensdag 7 September.
[iframe width=”560″ height=”315″ src=”https://www.youtube.com/embed/qJFCMk91jKw” frameborder=”0″ allowfullscreen=””]
As lusmaker voor die 2016 Joburg Art Fair kan jy kyk na dié video wat van ? vorige JAF gemaak is.
Die volledige lys galerye met kontemporêre kuns wat deelneem aan die 2016 Joburg Art Fair:
- ARTCO Art Gallery – Aachen
- Art First – Londen
- Barnard Gallery – Kaapstad
- Blank Projects – Kaapstad
- Christopher Moller Gallery – Kaapstad
- David Krut Projects – Johannesburg, Kaapstad, New York
- Espaço Luanda Arte – Luanda
- Everard Read en CIRCA Galleries – Johannesburg, Kaapstad, Londen
- First Floor Gallery Harare – Harare
- Galerie Pascal Janssens – Gent
- Gallery MOMO – Joburg, Kaapstad
- Galerie NOKO – Port Elizabeth
- Goodman Gallery – Johannesburg, Kaapstad
- Hazard Gallery – Johannesburg
- In Toto Gallery – Johannesburg
- Kalashnikovv Gallery – Johannesburg, Berlyn
- Lizamore & Associates – Johannesburg
- Mariane Ibrahim – Seattle
- ROOM Gallery & Projects – Johannesburg
- Salon 91 – Kaapstad
- SMAC Gallery – Kaapstad, Stellenbosch, Johannesburg
- STEVENSON – Kaapstad, Johannesburg
- Sulger-Buel Lovell – Kaapstad, Londen
- SMITH studio – Kaapstad
- Tiwani Contemporary – Londen
- WHATIFTHEWORLD – Kaapstad, Johannesburg
- Worldart – Kaapstad