In dieselfde jaar waarin haar werk vertoon is as deel van die Suid-Afrikaanse paviljoen op die 56ste Venesiese Biënnale, het Jo Ractliffe ook ’n uitstalling in die Metropolitan Museum of Art in New York.
JOHAN MYBURG
In dieselfde jaar waarin haar werk vertoon is as deel van die Suid-Afrikaanse paviljoen op die 56ste Venesiese Biënnale, het Jo Ractliffe ook ’n uitstalling in die Metropolitan Museum of Art in New York.
The Aftermath of Conflict: Jo Ractliffe’s Photographs of Angola and South Africa het in Augustus geopen en is nog tot 6 Maart in dié kunsmuseum, een van die wêreld se toonaangewendstes.
In dié uitstalling bring sy werk byeen uit drie van haar fotoreekse waarin sy fokus op die nadraai van die Angolese burgeroorlog (1975-2002) en die raakvlakke met die Grensoorlog (1966-1989).
Vir so baie Suid-Afrikaners was Angola in die 1970’s en 1980’s ’n plek waaroor gepraat is, maar wat eintlik maar net in abstrakte vorm in mense se verwysingsraamwerk bestaan het. Dit was die plek “waarheen broers en kêrels gestuur is om militêre diensplig te gaan doen”.
Haar oogmerk met dié reekse is juis om die aandag te vestig op dié streek se komplekse geskiedenis in ’n poging om “’n plek vir herinnering te skep”.
Die 23 werke waaruit die uitstalling bestaan sluit in enkelfoto’s, diptieke en triptieke uit die reekse Terreno Ocupado (2007), As Terras do Fim do Mundo (2010) en The Borderlands (2013).
In Terreno Ocupado (“besette land”) vergestalt sy Luanda as ’n veelvlakkige plek met die letsels van historiese sowel as hedendaagse onstabiliteit. Dis veral haar foto’s van die plakkersbuurte van die stad waarin grond na vore kom as iets wat beset is, versaak is en waar bloed gevloei het.
Haar 2010-fotoreeks, As Terras do Fim do Mundo (“die lande aan die einde van die wêreld”), fokus op die Grensoorlog tussen die Suid-Afrikaanse magte en dié se bondgenote aan die een kant en aan die ander dié van die verbode Namibiese bevrydingsbeweging, die Angolese regering en hulle bondgenote. Vir dié reeks het Ractliffe saam met voormalige soldate die verlate plekke besoek waar eens verbete stryd gevoer is. Onder dié foto’s is dié van ongemerkte massagrafte, mynvelde en dikwels onopvallende oorlogletsels in die landskap.
Die meeste van dié foto’s is sonder mense, behalwe die triptiek van muurskilderye met drie sentrale figure in dié oorlog: Fidel Castro, Agostinho Neto en Leonid Bresjnef.
In die onlansge The Borderlands sit sy haar verkenning van landskappe, verweef met die Grensoorlog, voort, maar maak mense deel van dié foto’s. Dis mense, die slagoffers van gedwonge verskuiwings, woon in haglike omstandighede.
Drie van Ractliffe se werke is nog tot volgende maand te sien op die Venesiese Biënnale in Italië.
Jo Ractliffe se Roadside Stall on the Way to Viana, 2007 (50 x 50 cm). Foto: Met die vergunning van Stevenson Kaapstad en Johannesburg
In dié uitstalling, What Remains is Tomorrow, is die triptieke uit The Borderlands ingesluit: 31/201 Battalion Commemoration Service, Platfontein, 2012; Decommissioned Military Outpost, Schmidtsdrift, 2012; en The Second Slaughter, Riemvasmaak, 2013. Foto: Met vergunning van Stevenson, Kaapstad & Johannesburg
Vir nog inligting oor die New York-uitstalling besoek die webwerf
Jo Ractliffe
Jo Ractliffe (55) het kuns studeer aan die Universiteit van Kaapstad. Deesdae woon en werk sy in Johannesburg.
Haar loopbaan lank rig Ractliffe haar kamera op landskappe waarin ontheemding, konflik, geskiedenis, herinnering en uitwissing ter sprake is.
In 2010 is haar As Terras do Fim do Mundo aangewys as een van die beste fotoboeke van die jaar op die internasionale fotoboekfees in Kassel, Duitsand aangewys, en in 2011 is sy benoem vir die Discovery-prys op die Rencontres d’Arles-fotografiefees in Frankryk.
Sy gee klas aan die Universiteit van die Witwatersrand en is betrokke by PhotoFocus, ’n onderrigforum wat spesialiseer in fotografie wat strek ook disciplines, geskiedenisse en ervarings.
Sy gee ook klas aan die Market Photo Wotkshop in Johannesburg en is ’n navorsingsgenoot aan die sentrum van kuratorskap en argivering aan die Universiteit van Kaapstad.