Johan Myburg skryf oor die Nederlandse skilder Jan (Johannes) Vermeer (1632-1675).
Johan Myburg
Ons weet min oor dié skilder
Teenoor sy tydgenote het Vermeer bittermin geproduseer en ewe min biografiese inligting is oor hom bekend. Hy het geen tekeninge of briewe nagelaat nie en gevolglik weet ons besonder min omtrent sy tegniek.
Vermeer het op 20 begin skilder en dis onbekend wie sy leermeester was. Die volgende jaar, in 1653, is hy getroud en het by sy skoonfamilie ingetrek. Hy is in 1675 op 43-jarige ouderdom dood en het sy vrou en 11 kinders agtergelaat. Sy vrou het sy dood toegeskryf aan stres en geldelike druk.
Tot en met die ineenstorting van die Nederlandse ekonomie teen die begin van die 1670’s het Vermeer se skilderye goeie pryse behaal.
Vermeer en die camera obscura
Vermeer se skilderye van meestal interieurs met noukeurige komposisies, sy gebruik van lig, sy belangstelling in optiese effekte en sy ongewoon primêre kleurgebruik het desnoods aanleiding gegee tot teorieë dat hy ’n camera obscura ingespan as deel van sy werkmetode.
Die opvatting dat Vermeer ’n camera obscura, die voorloper van ’n moderne kamera, sou gebruik het vir sy fotorealistiese detail, het in 2001 ’n stewige hupstoot gekry met die publikasie van twee boeke oor die onderwerp: dié van die Britse akademikus Philip Steadman, Vermeer’s Camera: Uncovering the Truth behind the Masterpieces, en onafhanklik daarvan ook die Britse kunstenaar David Hockney se Secret Knowledge: Rediscovering the Lost Techniques of the Old Masters.
Hockney het aangevoer Vermeer het, soos Holbein en Velasquez, optiese hulpmiddels gebruik: goed soos boogspieëls, ’n camera obscura en ’n camera lucida. Dié teorie staan bekend as die Hockney-Falco-teorie, genoem na Hockney en Charles M. Falco, die man wat hom steun in dié opsig.
Vir sy teorie maak Steadman ook gebruik van die camera obscura-idee. Hy reken Vermeer het al sy skilderye in dieselfde kamer geskilder en dat ses van dié skilderye presies voldoen aan die grootte van die kamermuur.
Camera obscura (donker kamer) is in wese ’n vertrek of iets soos ’n boks met ’n gaatjie aan die een kant. Die lig kom van buite deur die gaatjie en word aan die teenoorstaande kant, weliswaar onderstebo, geprojekteer. Die kleur en die perspektief bly egter ongeskonde. Met behulp van ’n spieël in die boks kan die beeld reggedraai word.
In 2008 het die Amerikaner Tim Jenison aangevoer Vermeer het benewens ’n camera obscura ook die sogenaamde camera lucida gebruik, ’n instrument waarmee die voorwerp wat geteken word sowel as die tekenoppervlak gelyktydig waargeneem kan word.
Sy navorsing het gelei tot die dokumentêre rolprent Tim’s Vermeer (2013).
Hoe oortuigend die teorieë ook mag wees, daar is geen afdoende bewyse dat Vermeer enige hulpmiddel gebruik het nie.
Kyk Die volgende videos gee meer agtergrond oor Vermeer se tegniek
’n Kort lokprent vir Tim’s Vermeer – klik hier
’n Omvangryke dokumentêre program van bykans 60 minute gemaak deur die BBC, The Madness of Vermeer – Secret Lives of the Artists