Die Johannesburg Kunsmuseum (JAG) in Joubertpark, die statige sandsteengebou vasgeknyp tussen ’n stel treinspore na die suide en Joubertpark aan die noordekant
Johan Myburg
Sir Edwin Lutyens
Die Johannesburg Kunsmuseum (JAG) in Joubertpark, die statige sandsteengebou vasgeknyp tussen ’n stel treinspore na die suide en Joubertpark aan die noordekant, tans nog ’n park, maar met planne om dit in ’n taxi-staanplek te omskep, is vanjaar 100 jaar oud. As deel van die viering word ’n boek uitgegee om dié mylpaal te gedenk.
Maar dis nie ’n koffietafelboek met glansfoto’s van die Lutyens-gebou in sagte fokus nie. Dis nie ’n boek wat die verlede wil verheerlik nie, maar wat die winste en laste; bates en dilemmas; foute en vergissings in die oog te kyk.
Want soveel vreugde as wat ’n mens ervaar jeens JAG (die gebou waar die kunsversameling gestoor, vertoon en geadministreer word), soveel diepgewortelde wrewel is daar ook jeens dié museum. Onlangse wrewel, maar sonder twyfel ook ’n 100 jaar se wrewel.
Tracy Murinik, ’n onafhanklike en gerekende Johannesburgse skrywer, is die redakteur van dié boek wat eersdaags verskyn. Een van Murinik se onlangse bydraes tot die kunste is byvoorbeeld dié oor Johannesburg se kuns wat sy gelewer het vir Phaidon se Art Cities of the Future: 21st Century Avant-Gardes (2013).
Baie mense dink geld (of die gebrek aan geld) is JAG se enigste nypende probleem. Maar daar was deur die jare die kwessie van toegang, van in- en uitsluiting, van kortsigtigheid, van ontwikkeling wat ’n bepaalde koers inslaan. So was dit sedert die vroeë dae van Florence Phillips wat gemeen het die Hoëveld kort só ’n soort instelling “om die koloniale filistyn opgehef” te kry.
’n Maand of twee gelede het die Johannesburgse ontwikkelikgsagentskap (JDA) aanbeveel dat Joubertpark omskep word in ’n taxi-staanplek terwyl die Jack Mincer Garage vergroot word om meer plek vir taxi’s te bied. Dié aanbeveling het weerstand ontlok en gelei tot petisies om van dié planne af te sien – ter wille van die voortbestaan van JAG.
Murinik en haar bydraers het wyd gekyk en historiese sowel as huidige asook potensiële probleme probeer uitpluis.
Met as titel Constructure: 100 Years of the JAG Building and its Evolution of Space and Meaning kom meer as net die voorhande in sig. En bied die boek ’n verkenning van “ruimte en betekenis” in die wydste betekenis in die bestek van sowat 260 bladsye (met onder meer foto’s).
Benewens Murinik se inleiding bied Jillian Carman en Louis Grundlingh ’n historiese oorsig van die omgewewing, die oorspronklike gebou asook van die problematiese aanbouings.
In die tweede hoofstuk gee Reshma Chhiba aanduiding van skuiwe in ruimtes, ’n publiek en gehore. Nontobeko Ntombela beskryf aspekte omtrent die belang van onderrig in kuratoriale gebruike, en JAG se bibliotekaris, Jo Burger, benader die kwessie van uit die konteks van die biblioteek en argief. Hierdie is enkele van die bydraes tot dié hoofstuk, “New Engagements”.
In die derde hoofstuk, met onder meer ’n volledige lys van uitstallings wat in JAG aangebied is, word uitstallings en uitstalpraktyke uit verskeie invalshoeke belig.
In “Changing Visions”, die vierde hoofstuk kry voormalige museumdirekteure die geleentheid om terug te kyk op die tyd wat hulle aan die hoof was van JAG. Antoinette Murdoch, die huidige direkteur, gee ook haar visie en inligting oor opknapping van die kunsmuseum.
Die boek word afgesluit met ’n transkripsie van ’n gesprek onder die titel “Collective Vision”, ’n gesprek wat belanghebbendes met Murinik aan die stuur gevoer het.
Besoek JAG se Facebook-blad.
Meer oor JAG
Hoewel die kunsversameling van die Johannesburg Kunsmuseum reeds in 1910 tot stand gekom het, is die gebou in Joubertpark eers later opgerig. Die gebou is in November 1915 geopen.
Dit was Hugh Lane (1875-1915), die man wat lady Florence Phillips (1852-1930) gekry het om die aanvangsversameling saam te stel, wat aan die Britse argitek sir Edwin Lutyens getorring het om die gebou te ontwerp.
Lutyens (1869-1944) was verantwoordelik vir verskeie bouprojekte in Suid-Afrika, maar dit was in Indië waar hy as argitek sy merk gelaat het. Hy was verantwoordelik vir die ontwerp van groot dele van Delhi, nou bekend as Nieu-Delhi, wat ligweg ook indertyd Lutyens’ Delhi genoem is.
Die Johannesburg Kunsmuseum (JAG) was die eerste kunsmuseum wat Lutyens ontwerp het en ook die enigste wat ooit gebou is.
Lutyens het die ontwerp vir JAG geskoei op die ontwerp wat hy vir Castle Drogo in Devon gemaak het. Dié kasteel was na alle oordeel die laaste kasteel wat in Engeland gebou is, en meteen ook die laaste woning in dié land wat van granite gebou is. Bouwerk aan dié kasteel het in 1911 begin en dit is eers in 1930 voltooi.
Lutyens het voorgestel dat JAG van baksteen gebou moet word, maar daar is anders besluit en sandsteen is gebruik. Dit het die boukoste aansienlik opgejaag en daartoe gelei dat slegs ’n gedeelte van Lutyens se ontwerp gebou is.
Die tweede fase van die bouwerk – die oostelike en westelike vleuels – is in 1940 voltooi.
In 1986 is die nuwe, noordelike vleuel en fasade toegevoeg. Die argitekfirma Meyer Pienaar was verantwoordelik vir die ontwerp.
In 1940 is die tweede fase van die bouwerk aan JAG voltooi volgens die volledige Lutyens-ontwerp.
Die Philllips-saal, die groot vertoonlokaal reg agter die suidelike portico wat aanvanklik die ingang van die kunsmuseum was.
Tracy Murinik Foto: VIAD