Vroeër vanjaar het die Johannesburgse kunstenaar Jaco van Schalkwyk ’n solo-uitstalling in die Absa-galery in Johannesburg aangebied en direk daarna is dié uitstalling, Eden, in die Barnard-galery in Kaapstad vertoon.
JOHAN MYBURG
Vroeër vanjaar het die Johannesburgse kunstenaar Jaco van Schalkwyk ’n solo-uitstalling in die Absa-galery in Johannesburg aangebied en direk daarna is dié uitstalling, Eden, in die Barnard-galery in Kaapstad vertoon. Boonop was Van Schalkwyk ook een van die 40 finaliste in Sanlam en Rust en Vrede se nasionale portretkompetisie en tot verlede maand is van sy werk op die Beijing-biënnale in China vertoon.
Gewis ’n bedrywige jaar vir ’n kunstenaar wat so onlangs as 2012 die kunswêreld betree het met ’n eerste solo-uitstalling, Just a Matter of Time. Die volgende jaar is hy aangewys as ’n merietepryswenner in die landswye Absa L’Atelier-kunskompetisie.
Dié prys het hom onder meer ’n kunstenaarsverblyf van ’n maand op die Sylt-eiland, noord van Hamburg in Duitsland gebied. Die prys is moontlik gemaak deur die Sylt-stigting.
Van Schalkwyk (34) het ná skool begin skilder en hoofsaaklik op wilde- en plaasdiere (veral Nguni-beeste) gefokus. Dié werk het gespruit uit blootstelling aan die plaaslewe as jong seun op sy oupa se plaas naby Carolina in Mpumalanga. Later het portretstudies van sy oeuvre deelgeword.
Tot en met 2011 het hy ’n ateljee gedeel met die Pretoriase kunstenaar Marie Vermeulen-Breedt.
Hoewel sy werk ná 2011 ’n “minder kommersiële” loop geneem het, het die dissipline van detail en fyn kwaswerk behoue gebly in sy realistiese uitbeeldings van landskappe, soos in Eden, die jongste versameling werk.
Dié groot doeke in olie, gemiddeld 1520 x 2030 mm, dien as ’n verkenning van landskappe waarin verweer die gemene deler is: die omgewing van Benoni waar hy grootgeword het, die Everglades in die Amerikaanse deelstaat Florida en uiteraard ook die windgeteisterde Sylt-eiland in die Noordsee.
Met die paradysverwysings wat Eden oproep kry die versameling werk ’n ironiese ondertoon. Van Schalkwyk se Eden getuig van die mens se pogings om die idee van die paradys te laat vlot, om dit aan die gang te hou.
In die skilderye van die verweerde (en verwerende) Eden is die mens afwesig. Maar die verweer van die mens teen die erosie en aftakeling van die natuur blyk in die werk. Op Sylt is daar byvoorbeeld aanduiding van talle pogings deur die jare om te verhinder dat die see (en die wind) sand wegkalwe. Verskeie pogings was egter vrugteloos teen die geweld van die natuur. In die 19de eeu is houtpale geplant op die kuslyn om die erosie te probeer stuit. Jare later is betondolosse as ’n keerwal gepak. Ook met beperkte sukses. Die enigste manier om die eiland te bewaar is deesdae om sand voortdurend te bagger.
Hoewel klimaatverwarming en die mens se gulsigheid asook sy argeloosheid bydra tot die aftakeling van die natuur, meen Van Schalkwyk daar ís die moontlikheid van herstel: “Soos die aanbreek van die Ystydperk eens die einde van lewe op die planet beteken het, het daarna tóg weer nuwe lewe tot stand gekom. Miskien is ons nou weer getuies van die einde van ’n fase, waarna iets nuuts in die plek kan kom.”
Iets van Marcel Proust se opmerking blyk uit Van Schalkwyk se siening asook sy werk: “Die ware paradyse is dié wat ons verloor het.”
Van Schalkwyk se werk is nie betogend van aard nie. Dit is juis in die stilte van sy werk waarin die krag lê. En in die gedempte kleurgebruik, in die monochromatiese afwesigheid van primêre kleure. En bowenal in die poëtiese weergawe van geliefde landskappe.
Jaco van Schalkwyk se skildery van die Everglades, FL 2015/02/22 17:42, olie op doek (1520 x 1520 mm).
Jaco van Schalkwyk Foto: IVAN MULLER
Hier is ook voorbeelde van Jaco van Schalkwyk se vroeër werk.
Jaco van Schalkwyk, Middaghappie in die kamp, 2006, olie op doek (3050 x 4050 mm)
Jaco van Schalkwyk, Hunter/Hunted, The Kill, 2007, olie op doek.
Jaco van Schalkwyk, I, John (Self Portrait), 2013, olie op doek (610 x 510 mm).
Jaco van Schalkwyk se uitstalling Eden in die Absa-galery in Johannesburg, 2015.
Meer oor die L’Atelier-kunsprys, van hierdie jaar aangebied deur Barclays
>Dié kompetisie, wat al die loopbaan van heelwat van Suid-Afrika se voorste kunstenaars ’n stewige hupstoot gegee het, spog met pryse wat nie te versmaai is nie.
Die wenner kry benewens ’n kontantprys van R125 000 die geleentheid om tot ses maande in die hartjie van Parys te gaan woon en werk. Toegang tot museums is by die prys ingesluit. Die wenner kry ook die geleentheid om binne ’n jaar nadat hy of sy teruggekeer het van Parys ’n solo-uitstalling in die Absa-galery in Johannesburg aan te bied.
Twee naaswenners kry van vanjaar ook die geleentheid om hul vlerke te sprei. Een merietepryswenner word ’n genoot van die Ampersand-stigting en kry die geleentheid om vir ’n maand in New York te woon en werk. Die ander merietepryswenner kry ’n kunstenaarsverblyf van twee maande van die Sylt-stigting op die Sylt-eiland in Duitsland. Reis en verblyf, ’n dagtoelae en ’n solo-uitstalling in die Absa-galery is by albei dié pryse ingesluit.
Soos in die verlede word die Gerard Sekoto-prys weer aan ’n kunstenaar met ’n inkomste van minder as R60 000 per jaar toegeken. Dié prys, geborg deur die Alliance Française, die Franse instituut en die Franse ambassade, sluit verblyf van drie maande in Parys in en ’n uitstalling in Johannesburg en nog stede.
Vorige ontvangers van dié gesogte prys sluit in Stefanus Rademeyer (2001), Marco Cianfanelli (2002), Sanell Aggenbach (2003), Conrad Botes (2004), Berco Wilsenach (2005), Ruth Sacks (2006), Pierre Fouché (2007), James Webb (2008), Stephen Rosin (2009), Ilka van Schalkwyk (2010), Pauline Gutter (2013) Liberty Battson (2014) en Kai Lossgott (2015).