Gerhard Marx is vanjaar die feeskunstenaar op die Clover Aardklop Nasionale Kunstefees op Potchefstroom. Johan Myburg skryf oor Marx se feesuitstalling, The Garden at Night
Anders as die Midde-Oosterse tapyte waarin gekultiveerde variëteite soos tulp en roos ‘n ereplek het, woel Marx met onkruid, “met ‘n dreigende wildernis, ‘n aanduiding van plekke waar die mag, kontrole en beheer dreig om te verval”.
Gerhard Marx is ‘n karteerder, maar hy teken nie kaarte nie. Sy oogmerk is nie om te sê waarheen om te gaan nie, maar eerder om te sê waar ons is.
Marx is ‘n kunstenaar wat met fragmente uit ou atlasse teken: met rooi grootpaaie wat hy snit vir snit plak om die roete te word wat ‘n profiel vorm; of met knipsels kuslyne wat die buitelyne van ‘n skedel word.
Of hy teken met plantmateriaal: met haarwortels van onkruid. Dié pars hy soos ‘n wafferse Luca Ghini, die eerste mens van wie ons weet wat in 1544 gedroogde plantmateriaal in ‘n boek gepreserveer het. Met dié ragfyn wortels teken hy portrette en deesdae landskappe, argitekturele landskappe soos dié van stedelike ontwikkelings.
Dié diagrammatiese voorstellings noem hy “tuintapyte”.
Verlede jaar het Marx ses weergawes van sy Garden Carpet: Johannesburg in die uitstalling Lessons in Looking Down in die Goodman-galery in Johannesburg vertoon. Die titel van die uitstalling verwys na ‘afkyk op’ (soos met behulp van ‘n lugfoto), maar ook ‘deur kyk’ na wat onder die oppervlak (en desnoods verborge) is.
Dié ‘tapyte’, op doek opgebou met plantmateriaal, kleefstrokies en kouelym, herken ‘n mens dalk as ‘n blik van bo op Johannesburg se Parktown, of op Braamfontein, maar sonder straatname en herkenbare bakens is die kyker nie heeltemal seker nie. Soos wat Persiese tapyte sedert die 19de eeu afbeeldings was van tuine met waterkanale en bome, sonder dat ‘n mens presies weet watter tuin presies verbeeld word.
Wat hom interesseer, is nie die landskap nie, maar die ruitpatroon van die stadsbeplanner agter (of onder) die landskap. Dis nie die tuin wat sy aandag boei nie, maar die tuinargitektuur wat die geraamte van die tuin vorm en dit aan mekaar hou.
In Marx se weergawe neem die nagtelike tuintapyt derhalwe X-straal-kwaliteite aan en word om ín te kyk derhalwe belangriker as net om te kyk. Lae ónder die oppervlak kom in sig: dié van die wortelwêreld van onkruid.
Die feit dat die Potch-uitstalling The Garden at Night heet, dui reeds daarop dat die tuin oordag met al sy helderkleurige blomme en voëlklanke in die bome afwesig is. Dit gaan oor die buitelyne van die tuin in die donker.
Meer as die uitstallingstitel roep Marx se werk konseptueel en inhoudelik die musiek van Manuel de Falla se ‘En el Generalife’ uit Nagte in Spaanse tuine by ‘n mens op. Die Generalife in Granada in Spanje staan ook as ‘die tuin van die argitek’ bekend.
Falla beskryf nie dié nagtelike tuin in sy musiek nie, maar orkestreer ‘n gevoel van afstand en alleenheid.
In hierdie afgesonderdheid kry die kyker ‘n konneksie te maak met die landskap – soos wat die aanbidder dit ervaar wanneer hy op sy gebedstapyt kniel.
Sy gebruik van onkruid koppel hy terug na sy tuin in Johannesburg wat tydens ‘n afwesigheid deur bossies oorwoeker is. Tydens die uittrek daarvan het hy bewus geraak van die kalligrafiese kwaliteite van die wortels.
‘Die gedagte dat iets tydens jou afwesigheid binne die grense van jou eiendom groei, het ‘n gemaklike gesprek met temas van sterflikheid, verganklikheid en onsekerheid oopgemaak.
“Tog is daar ook ‘n duidelike lewenskrag in die lyne, dit praat van groei buite die rigiditeit van die intensies van stadbeplanner. Miskien asof voetpaadjies soos haarwortels aftak van die hoofroetes.”