Dink ’n mens aan die skilderye van Hugo Naudé is dit Wes-Kaapse landskappe en veral die sonlig op die velde van Namakwaland wat by jou opkom
Deur JOHAN MYBURG
Kort voordat Emily Hobhouse in 1908 terug is Engeland toe omdat haar gesondheid so agteruitgegaan het, het sy op Worcester die befaamde “artist Naudé”, soos die mense van die omgewing na die skilder Hugo Naudé verwys het, ontmoet.
Hobhouse was op besoek by vriende en benewens die hulp wat sy aangebied het met reëlings vir ’n klein uitstalling vir Naudé in Pretoria, het sy ook ingewillig om vir Naudé te poseer. Oor die portret was Hobhouse nie gaande nie. Sy het gemeen dit het nie voldoende “krag” (force) nie en het ook besluit om dit nie op haar terugreis saam te neem nie, maar dit vir bewaring in die sorg van genl Jan Smuts te laat. Dit is tans in die Ditsongkutuurhistoriese museum in Pretoria. Maar miskien sê Hobhouse se opmerking oor die portret (“It is my most dreamy, miserable and forlorn self”) meer oor die sitter as die skilder. Naudé (1869–1941) het ná sy studie in die buiteland as portretskilder met ’n bra konserwatiewe, realistiese benadering na Suid-Afrika teruggekeer.
In 1889 is hy saam met Olive Schreiner na Londen waar sy hom aan Havelock Ellis, ’n gesiene mediese dokter en skrywer, voorgestel het, wat op sy beurt voorgestel het dat die jong Naudé aan die Slade School gaan studeer. Ná voltooiing van sy studie aan die Slade is hy na die Kunstakademie in München waar hy portretkuns bestudeer het. Ná ’n jaar lange verblyf in Fontainebleau naby Parys, waar hy saam met ’n groep natuurskilders, die sogenaamde Barbizon-skool, gewerk het, en ’n besoek aan Italië, het hy in 1896 teruggekeer en hom in die Kaap gevestig.
LEES OOK: Kuns uit eie bodem: Pierneef
In 1904 het hy vir hom ’n huis in Worcester gebou en daar gewoon. In 1913 het hy weer vir ’n jaar in München gaan studeer. Maar dit is as landskapskilder wat Naudé sy stempel afgdruk het. In sy verrassend klein landskappe het hy Impressionisme – dié skilderbenadering van dié tyd in Europa – bemeester en daar is selfs kunshistorici wat na Naudé as ’n “Kaapse Impressionis” verwys, hoewel hy nooit werklik by die konvensies van dié rigting gehou het nie. Sy benadering was eerder intuïtief as wetenskaplik. As ’n mens aan die skilderye van Hugo Naudé dink, is dit Wes- Kaapse landskappe, en veral die sonlig op die velde van Namakwaland, wat by jou opkom, en dalk ook die berge en die vallei van die Breederivier in die omgewing van Worcester.
Ná sy blootstelling aan die sagte Europese lig het Naudé lank gesukkel (sy woorde) om die Suid-Afrikaanse landskap op doek vas te lê. Dit het hom lank geneem om ’n tegniek te ontwikkel wat voldoen het aan ’n uitbeelding van die landskap onder die fel Suid-Afrikaanse son, ’n tegniek wat ’n spontane sprankel in sy werk bewerkstellig het. Dit is juis sy gebruik van lig en die manier waarop lig val wat die samebindende krag in Naudé se landskappe is. Benewens skilderekspedisies het Naudé sy lewe lank op Worcester gewoon. In meer as een opsig is “artist Naudé” onlosmaaklik aan dié dorp gekoppel. Hy is nie net buite die dorp op die plaas Aan-de- Doorns gebore nie, maar is ook in 1941 op Worcester dood. Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns het in 1939 ’n eremedalje aan Hugo Naudé toegeken uit erkenning vir sy bydrae tot die Suid-Afrikaanse skilderkuns.