In die bestek van vier jaar het Heidi Fourie, ‘n 25-jarige Pretoriase kunstenaar, met volgehoue ywer ‘n besonder belowende loopbaan vir haar oopgeverf.
JOHAN MYBURG
Sedert haar studiejare aan die Universiteit van Pretoria het sy deelgeneem aan ‘n hele rits groepuitstallings en haar merk gemaak in talle kunskompetisies. In 2011 het sy die eindronde gehaal van die Sasol Nuwe Handtekeninge-kompetisie. Toe was Fourie nog ‘n voorgraadse kunsstudent. Sy het haar graad eers die volgende jaar, met lof, voltooi.
Hoewel haar inskrywing vir dié kompetisie ‘n werk in film, fotografie, silikon en perspeks was met die titel Artifice, het sy haar sedertdien toegelê op skilder – waarin sy gespesialiseer het – en monodrukke.
In 2012 het sy die Bettie Cilliers Barnard-studiebeurs ontvang; daarna het sy in 2013 en 2014 weer deurgedring na die eindronde van die Sasol Nuwe Handtekeninge-kunskompetisie; sy was een van die tien top-kunstenaars in die Absa L’Atelier; sy het die eindronde gehaal van die Thami Mnyele-kompetisie in 2012 en 2013 en verlede jaar het twee van haar skilderye deurgedring tot die top-40 portrette in die landwye 2015 SPI-portretkompetisie.
Hoewel haar werk ‘n sterk figuratiewe element het – die onderwerpe wat sy skilder, of dit portrette of landskappe is, is onmiddellik herkenbaar – is dit die kwaliteit en tekstuur van die verf wat Fourie aantrek. “Ek hou van die feit dat ‘n mens ‘n gedeelte van die beheer aan die onvoorspelbare beweging van die verf kan (of dalk moet) oorgee,” sê sy. “Ek probeer so min as moontlik kwashale gebruik om ‘n toneel te skep, sodat die kyker die gapings self kan invul.”
Haar kwashale word onderwerpe in die kleine – nie net as boustene vir ‘n groter geheel nie kry haar kwaswerk ‘n lewe van sy eie en is haar oogmerk om elke merk so aantreklik moontlik te maak. So gebeur dit soms dat “die toneel of die beeld bloot ‘n houer of aanspoorder vir die merke” word.
‘n Mens kry al die gevoel dat haar skilderwerk iewers tussen dié van Lucian Freud en Frank Auerbach ‘n staanplek kry. Benewens haar sielvolle hantering van haar onderwerpe (soos in die werk van Freud) en die onlangse aanwending van verf in dik lae (soos in die werk van Auerbach) deel sy met dié twee Britse skilders ‘n oog vir ‘n beeldhouagtige kwaliteit.
Bowenal is dit Fourie se vars benadering tot haar skilderwerk was ‘n mens allereers bewus maak daarvan dat jy met ‘n skildery te doen het, as’t ware selfs nog voordat jy die onderwerp registreer.
Vra ‘n mens Heidi Fourie uit na aansporing wat sy put uit eietydse skilders hier te lande verwys sy na Nigel Mullins, Anton Karstel, Frikkie Eksteen, Clare Menck, Michael Taylor en Georgina Gratrix.
Internasionale kontemporêre skilders wat haar fasineer is die Franse skilder Edwige Fouvry wat deesdae in Brussel woon; die Amerikaanse skilder Hernan Bas met sy voorstelling van manlike jeugdigheid in tonele wat deur die natuur oorheers word en die Nederlandse kunstenaar Simon Schrikker met sy ongelooflik verleidende “dik plakke verf”.
“Geen medium kom vir my naby olieverf nie, danksy die lang droogtydperk wat ‘n mens toelaat om die kleure oor die oppervlak te smeer en rond te stoot totdat dit op die regte plekke sit,” sê Fourie. “Dit neem die intimidasie van die plasing van ‘n merk weg en laat ‘n mens toe om risiko’s te vat. Ek hou ook daarvan om reduktief te werk. Omdat ek verf en byna nooit teken nie kan ek amper nie meer objekte of tonele in lyne visualiseer nie. As ek verf, dink ek aan kleurvlakke. Selfs in my alledaagse lewe breek ek soms dit wat ek sien op in vlakke en dink hoe ek elke vlak as ‘n merk kan neersit.”
Afgesien van skilderwerk het sy onlangs saam met die meesterdrukker Tim Foulds ‘n reeks monodrukke gemaak wat straks al die (ken)merke van die oliefverfskilderye het, maar nietemin ‘n eiesoortige allure besit. Teenoor die intensheid van die olieverfwerk het haar monotipes ‘n sagter waterverfkwaliteit.
Verlede jaar het sy Islands, haar eerste solo-uitstalling met ‘n reeks monodrukke in Lizamore & Associates in Johannesburg aangebied ná ‘n mentorskap onder leiding van Frikkie Eksteen. En later vanjaar wys Fourie en mede-kunstenaar Allen Laing hul werk in die uitstalling Skerwe verbeeld op die Klein Karoo Nasionale Kunstefees in Oudtshoorn.
In Februarie het sy saam met die Kaapstadse galery Salon 91 werk vertoon op die Cape Town Art Fair en in Julie is haar werk te sien op die Turbine Art Fair in Johannesburg. Volgende maand stal sy saam met beeldhouer Cobus Haupt uit in Is Art in Franschhoek.
Teen die einde van Augustus begin haar tweede solo-uitstalling – dié keer in die Kaap in Salon 91.
‘Skerwe verbeeld’
Oor haar uitstalling saam met Allen Laing op die Klein Karoo Nasionale Kunstefees in Oudtshoorn, van 24 tot 30 Maart, sê Heidi Fourie:
Die titel van ons uitstalling is Skerwe verbeeld of in Engels Fragments Imagined.
Die meeste museumuitstallings wat ons al besoek het, is gewoonlik ‘n mengelmoes van feitelike diagramme en bevindings, teoretiese voorstellings geskoei op leidrade en raaiskote en vermaaklike versierings. Ons oogmerk is om die elemente in ons uitstalling dalk eerder op ‘n arbitrêre wyse te laat kommunikeer met heelwat ruimte vir interpretasie.
Laing se argeologiese artefakte stel gereedskap voor wat oplossings vir alledaagse probleme bied – probleme wat ‘n mens dalk in ‘n fiktiewe samelewing sou teëkom – maar wat wel hedendaage sosiale uitdagings takel. Soos byvoorbeeld die energie wat vermors word op padwoede. Dié kan ‘n mens nou met behulp van sy gereedskap in ‘n botteltjie in die vorm van vloekwoorde opvang vir latere gebruik. Sommige van die gereedskap kan vir selfverdediging gebruik word – teen die uitbuiting van ander.
Looming Large I, 2015, olie op doek (28 x 28 cm), een van Heidi Fourie se skilderye.
Een van Heidi Fourie se monodrukke, ‘n portret van Allen Laing, 2015, (35 x 32 cm). Die werk heet all I said was….
Allen Laing se Wordpower Accumulator, gemaak van teak, jakaranada, rooshout, glas, geelkoper, koper, leer en plastiek, is een van die werke wat op die KKNK in Oudtshoorn te sien is. Oor dié werk se Laing: Die doel van die objek is om al die krag op te vang van kragwoorde/vloekwoorde wat ‘n mens in die verkeer gebruik. So in plaas daarvan om hardop te vloek en almal om jou te ontstel, vloek ‘n mens net saggies in die versamelaar, en dan kan ‘n mens al daardie frustrasie op ‘n latere stadium gebruik vir iets beter. Die drie buise sorteer die kragwoorde volgens die aard van die vloekwoorde. seksuele vloekwoorde, vloekwoorde wat te doen het met liggaamlike funksies, en godslastering. Dis gemaak van jakaranda, teak en rooshout wat ek deur die jare versamel het met ou glas botteltjies wat ek op ‘n plaas uitgegrawe het, en ook koper en geelkoper wat ek met die hand uitgehamer het, en plastiek dele van n ou gasmasker, en leer.
Oor haar werk vir die KKNK sê Heidi Fourie: “My werk bestaan uit voorstellings van landskappe wat op die oog af onbewoond en dor is, maar die bo-grond en ondergrond is terselfdetyd sigbaar en dit kom voor asof daar baie meer ónder die grond aangaan as bo. Lae verf en voue en skeure van kwashale herinner meer aan ‘n broeiende energie en abstrakte kragte wat teen mekaar werk. Waar Laing na die fiktiewe “spasie” kyk op ‘n intieme vlak waar oorlewing, tegnologie en gebruike sigbaar is, kyk ek na die landskappe van ‘n afstand waar slegs natuurlike elemente sigbaar is – geïsoleerd, ontwortel en verwyderd van konteks.”