In die suide van Swede is Wanås Konst, ’n plek waar natuur en kuns nie net ontmoet nie, maar in simbiose gedy.
Johan Myburg
Hannelie Coetzee, ’n Johannesburgse kunstenaar, was een van ses Suid-Afrikaanse kunstenaars wie se werk onder die titel Barriers tot November te sien is in dié park, sowat 100 km noordoos van Malmö. Die ander is kunstenaars is Igshaan Adams, Kudzanai Chiurai, Nandipha Mntambo, Mary Sibande en James Webb.
Hannelie Coetzee se kuns is nie dié soort wat jy sommer in ’n galery sal teëkom nie. Hoewel sy as fotograaf begin werk het, is dit hout en klip in hul natuurlike vorm wat haar aandag boei. Voor die hand liggend is heelwat van haar werk in die oopte van die openbare domein waar sy met die ongeskonde natuur omgaan. Maar verrassend genoeg takel sy eweneens die uitdaging wat stedelike omgewings haar bied.
’n Mens sou na haar benadering tot kuns kon verwys as “omgewing-spesifiek”, bedoelende dat ’n bepaalde omgewing die aard van die werk medebepaal. As Coetzee egter omgewing-spesefiek werk kom daar tussen die omgewing en haar werk ’n woord-wederwoord-verhouding tot stand, en tree kuns en omgewing as’t ware in ’n voortdurend dialektiese verhouding.
Met die opdragwerk vir Wanås is dit nie anders nie. In dié park met sy reuse-bome het sy ’n kunswerk geskep wat tegelyk tamaai en indrukwekkend is.
Die werk, Ou sog tussen bome / Old sow between trees / Gamla suggan mellan trade, gemaak van dooie inheemse bome soos eik, berk en beuk, metaal en olie (7 m hoog x 5 m wyd x 10 m diep), verbeeld op sigwaarde die snoetaansig van ’n wildevark, maar lewer ook kommentaar op die mens se verhouding tot die natuur. Soos Coetzee opmerk: “Luister ons na die natuur se stem of vertel ons vir die natuur wat om te doen?”
Ná jare lange afwesigheid in die Sweedse woude begin wildevarke nou weer terugkeer na dié voormalige habitat. Die Swede bejeen dié diere egter nie net negatief nie, maar ook met ’n mate van (ongegronde) vrees. Deel van Coetzee se navorsing vir die projek het juis gegaan oor dié pejoratiewe blik op die varke.
“Dis vir my belangrik dat my projekte daartoe moet kan bydra dat mense anders oor goed begin dink. As ek daartoe kon bydra dat die vreesgrens (as “barrier” waarna die uitstallingtitel verwys) deurbreek kan word, is ek tevrede,” sê sy.
Coetzee het besluit om ’n varkvooraansig uit te beeld met droë boomstompe en takke as haar palet. Van voor sien jy die snoet en die priemende ogies; van agter versin die warboel takke iets van die “vaart” waarmee die sog tussen die bome in is.
Soos haar portrette, byvoorbeeld dié van Tant Koek in Pretoria, gemaak van porselein, glas en glasteëlmosaïek (2 x 3 m), het Coetzee dié ou sog verbeeld met ’n komposisie van aanwesige en áfwesige pieksels – ’n teruggryp na die fotografie waarmee sy haar loopbaan begin het.
Tant Koek, van porselein, glas en glasteëlmosaïek (2 x 3 m), wat Hannelie Coetzee gemaak het op die hoek van Helen Joseph- en Sisulustraat in die Pretoriase middestad. Foto’s: Réney Warrington
Bowenal kan ’n mens kwalik anders as om haar komposisies met boomstomp, staal en klip ook te lees as kommentaar op tapisserie, die bedryf waarmee vroue eeue lank stekie vir stekie taferele optower.
• Coetzee se eerste galery-uitstalling in jare is Junie volgende jaar te sien in die galery van Lizamore & Associates in Parkwood, Johannesburg.
Meer oor Wanås
Die Wanås-landgoed in die suide van Swede spog met ’n 16de-eeuse kasteel, ’n organise boerdery, ’n kunsgalery en ’n wêreldbekende beeldhoupark waarin meer as 50 kunswerke permanent vertoon word. Onder die 250 kunstenaars wat hul werk sedert die ontstaan van Wanås Konst in 1987 al daar uitgestal het, is Louise Bourgeois, Janet Cardiff, Ann Hamilton, Yoko Ono en Robert Wilson.
Marika Wachtmeister, stigter van dié kunsmekka, en met Elisabeth Millqvist en Mattias Givell as kuratoriale span, het ses Suid-Afrikaanse kunstenaars genooi om van 17 Mei tot 1 November omgewing-spesifieke werk te maak en te vertoon onder die titel Barriers.
Volgens Millqvist “is Suid-Afrika ’n belangrike setel vir kuns, een wat kunstenaars van Afrika lok”.
Met Barriers as uitgangspunt wil Wanås Konst aspekte van opkomende en verdwynende grense ondersoek, sê sy. “Dié soort grense wat mense van mekaar skei.”
In dié opsig het Hannelie Coetzee se Ou sog tussen bome nie net ’n brug geslaan tussen mens en natuur nie, maar ook tussen die mense van Swede en dié van Afrika.
Kyk hier na ’n video gemaak deur Réney Warrington oor Hannelie Coetzee se werk aan Ou sog tussen bome.
https://www.youtube.com/watch?v=dydi0qZ_teY