“Logika en gesonde verstand befoeter net alles”
Johan Myburg
In 1917 het die Franse dramaturg en digter Guillaume Apollinaire ? nuwe verhoogteks van hom beskryf as “’n surreële drama in twee bedrywe met ‘n proloog”. Dié gebruik van die woord “surreël” het in 1924 opgeduik in die “Surrealistiese manifes” van André Beton en aanleiding gegee tot die kunsbeweging bekend as die Surrealisme.
Waar Apollinaire (1880-1918) die betekenis van “teen-logies” aan die woord geheg het, het Breton (1896-1966) Surrealisme gaan plaas in die domein van Freud se onbewuste, en in die estetiese moontlikhede wat verskuil lê in die kreukels van die onbewuste.
Soos Dada, waaruit die Surrealisme ontstaan het, was Surrealisme aanvanklik ‘n literêre beweging. Woorde is gesien as die ideale voertuig vir die verbeelding. Soos Breton opgemerk het: “Woorde … is nou klaar met lawwe speletjies. Woorde het nou ontdek hoe die liefde werk.”
In die 1920’s en 1930’s het die invloed van Breton en die Surrealiste in Europa gedy en ook gesprei na die VSA, maar in ‘n volgende rubriek meer hieroor. Benewens letterkunde (soos onder meer dié van die Spaanse digter Federico García Lorca) het Surrealisme as ‘n benadering tot die lewe, eerder as ‘n styl, ook uiting geskry in musiek (soos dié van Franse komponis Erik Satie) en die rolprentkuns (soos dié van die Spaanse regisseur Luis Buñuel).
Die Spaanse digter Federico García Lorca (1898-1936) het in sy poësie die gees van die Surrealisme vertolk. Die gedig “Hora de estrelles” (“Hour of Stars”) kom uit sy tweede bundel, Libra de poemas (Book of Poems) van 1921. García Lorca was goeie vriende met Salvador Dalí en Luis Buñuel.
Hour of Stars
(1920)
The round silence of night,
one note on the stave
of the infinite.
Ripe with lost poems,
I step naked into the street.
The blackness riddled
by the singing of crickets:
sound,
that dead
will-o’-the-wisp,
that musical light
perceived
by the spirit.
A thousand butterfly skeletons
sleep within my walls.
A wild crowd of young breezes
over the river.
Luis Buñuel (1900-1983) was ‘n Spaanse rolprentmaker wat in Spanje, Mexiko en Frankryk gewerk het. Hy is veral bekend vir sy kortprent Un chien andalou (vertaal as Die Andalusiese hond) van 1929, ‘n swart-wit prent van 16 minute waarin ‘n jong Dalí gespeel het.
Kyk hier (op jou eie risiko) na Buñuel se Un chien andalou. Die openingstoneel is nie vir sensitiewe kykers nie. Daar is geen storielyn nie en die tydsverloop spring van “eens op ‘n tyd” tot “agt jaar later” sonder enige storie- of karakterontwikkeling. Die droomkwaliteit van die prent hou verband met Freud se siening van vrye assosiasie.
[iframe width=”420″ height=”315″ src=”https://www.youtube.com/embed/BIKYF07Y4kA” frameborder=”0″ allowfullscreen=””]
Die Franse komponis Erik Satie (1866-1925) het in 1916-17 die musiek geskryf vir Jean Cocteau se ballet Parade. Cocteau het dié eenakter geskryf vir Sergei Diaghilev se Ballet Russes. Die stel- en kostuumontwerp is gedoen deur Pablo Picasso.
Kyk hier na ‘n uittreksel uit ‘n voorstelling van Parade.
[iframe width=”420″ height=”315″ src=”https://www.youtube.com/embed/_Chq1Ty0nyE” frameborder=”0″ allowfullscreen=””]
Breton het aanvanklik getwyfel of die visuele kunste binne die Surrealisme van nut kan wees aangesien dié kunsvorm dalk nie so oop sou wees vir outomatisme – die ontginning van materiaal wat voortkom uit die onbewuste – nie. Maar nuwe tegnieke soos onder meer frottage.
Frottage as ‘n kunsterm verwys na ‘n potlood of ‘n tekeninstrument wat gevryf word op papier wat op ‘n ongelyk oppervlak lê. Die kunstenaar Max Ernst het in 1925 die grein van ‘n plankvloer verewig deur papier op die planke te lê en die patrone van die grein vasgelê deur met ‘n sagte potlood oor die papier te vryf.
Al meer kunstenaars het onder die invloed van die Surrealisme gekom: soos Giorgio de Chirico, Max Ernst, Joan Miró, Francis Picabia, Yves Tanguy, Salvador Dalí, Luis Buñuel, Alberto Giacometti, Valentine Hugo, Méret Oppenheim en Kansuke Yamamoto. En weer eens het hulle kuns nie uit die lug geval nie – hulle het gewoon gevolg in die spore van die Kubisme, Dada, die abstraksie van Wassily Kandinsky en selfs so ver terug as die werk van Hieronymus Bosch.
Tussen 1911 en 1917 was dit die jong Italiaanse kunstenaar Giorgio de Chirico (1888-1978) wat ‘n brug geslaan het tussen metafisika en die visuele voorstelling. Om onsterflik te word moet ‘n kunswerk vry kom van alle menslike begrensings, het De Chirico geglo. “Logika en gesonde verstand befoeter net alles. Maar as dié grense oorskry is, sal die kunswerk die domein betree van kinderlike visioene en drome.”
Dié siening kry kwalik beter gestalte as in sy Geheimenis en melancholie van ‘n straat van 1914. In ‘n eindeloos leë omgewing (so tipies van De Chirico se werk) is daar twee figure: ‘n meisie met ‘n hoepel en ‘n standbeeld wat slegs ‘n skadu gooi. Die kind hardloop in die rigting van die ligbron, wat die een helfte van die skildery in ‘n herfslig baai en die ander helfte in skemerte hul.
Kyk ‘n mens mooi besef jy die dubbel-perspektief met twee verdwynpunte wat De Chirico gebruik plaas die tafereel buite die werklikheid. Boonop het die wa in die voorgrond (wat van ‘n eie onverklaarbare ligbron gebruik maak) ‘n eie en kontrasterende isometriese perspektief.
In 1914, kort voor die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog, was die geheimenis van wat die toekoms inhou allesoorheersend en die melancholie, die hunkering na ‘n era wat onherroeplik verby was, dalk die bepalende emosies. Niemand kan sê waarheen die kind op pad is of wat sy gaan ervaar nie.