Gerhard Marx is vanjaar die feeskunstenaar op die Clover Aardklop Nasionale Kunstefees in Potchefstroom. Johan Myburg skryf meer oor dié formidabele kunstenaar.
Johan Myburg
Maar hierdie is nie Marx se eerste Aardklop-ervaring nie. In 2008 was hy op dié kunstefees met They Say, ’n verhoogproduksie saam met die akteur Lionel Newton. Marx was die skrywer en regisseur van dié stuk, ’n verwerking van sy meestersgraad in visuele kunste aan Wits.
Sy M-skripsie was ’n ondersoek na voorwerpe en hoe dit in verband staan met die mens, en hoe die mens se verhouding daarmee dit ’n spesifieke betekenis gee. They Say het hy as’t ware gebou rondom die ‘legende’: ‘Hulle sê dat my oupa tydens die Anglo-Boereoorlog ’n tafel in die plaasdam verdrink het…’
Kort duskant 40 het Marx ’n loopbaan met vele fasette.
Saam met Lara Foot het hy gewerk aan die 2003-produksie Tsepang; twee jaar later was hy saam met Foot mederegisseur van Hear and Now; en in 2006 het hy die stelontwerp gedoen vir die Amerikaner Michael Lessick se Truth in Translation.
Daardie einste jaar het hy saam met die Johannesburgse komponis Clare Loveday gewerk aan The Collison Project en in 2007 was hy regisseur van Rewind, a Cantata for Voice, Tape and Testimony. Vir dié produksie wat ook ingesluit is in verlede jaar se Suid-Afrikaanse aanbod op die Venesiese Biënnale, het Philip Miller die klankbaan geskryf. Gerhard en Maja Marx het ’n rolprent vir die stuk vervaardig.
Sy ‘tapyte’– party daarvan lyk soos topografiese kaarte van stede – weef Marx van plantmateriaal, van ragfyn haarwortels. Hy gebruik plantmateriaal wat hy versigtig droog, op doek plak en waarvan hy die oppervlak skuur tot dit glad en gaaf is.
Een van die tuintapyte wat hy in Potchefstroom uitstal, is van sy nuwe tuiste, Kaapstad. En daarvoor het hy Kaapse plantmateriaal gebruik. Ná jare in Johannesburg woon hy sedert verlede jaar saam met sy gesin in Simonstad.
‘Die plantegroei asook beskikbare plantmateriaal is anders in die Kaap. Die verandering is ’n goeie ding, maar ek bring steeds sakke vol kakieboswortels terug as ek in Johannesburg op besoek was. Die sanderige grond van die skiereiland lei tot minder interessante wortels, maar dan bied die weerstoestande aan die ander kant weer interessanter boomtakke.’
Meer inligting
• Marx se The Garden at Night is van 7 tot 11 Oktober te sien in die NWU-galery op die Puk-kampus in Potchefstroom.