“Ek skilder myself omdat ek so dikwels alleen is en omdat ek die onderwerp is wat ek die beste ken.”
Johan Myburgh
Die werk van die Mexikaanse muurskilder Diego Rivera het nie net die aandag getrek van magnate soos Rockefeller nie, maar ook dié van die jong kunsstudent Frida Kahlo. Sy het van haar werk vir hom gewys en hy het haar aangemoedig. Hoewel Rivera toe nog getroud was, het ? verhouding ontstaan en die twee is in 1929 getroud.
<copy>Kahlo se ma het haar bedenkinge gehad. Kahlo was 22 en Rivera 43. Die huwelik was gewis stormagtig. Kahlo het talle verhoudings met mans en vroue gehad, en Rivera het ? verhouding gehad met Kahlo se jonger suster, Cristina. In 1939 is die twee geskei, maar die volgende jaar is hulle weer met mekaar getroud. Hulle het wel besluit om nie in dieselfde huis te woon nie, hoewel naby mekaar. Kahlo (1907-1954) het haar lewe lank in La casa azul, die blou huis waarin sy gebore is in Mexiko Stad, gewoon en is ook daar dood.
“Ek skilder myself omdat ek so dikwels alleen is en omdat ek die onderwerp is wat ek die beste ken,” het Kahlo by geleentheid gesê.
As kind het sy polio opgedoen en haar regterbeen was daarna dunner as die linkerbeen. Maar die groot ingryping in haar lewe het in 1925 gekom toe sy betrokke was in ? trem-ongeluk. Dié het met ? bus gebots en Kahlo het benewens verskeie gebreekte bene ook ? ruggraatbesering opgedoen. Boonop het ? handreling in haar buik gesteek wat daartoe gelei het dat sy nie kinders sou kon kry nie.
Sy was drie maande lank bedlêend in ? harnas. Sy het wel haar vermoë om te loop herwin, maar was haar lewe lank in pyn. Soveel as 35 operasies het ná die ongeluk gevolg. Uit haar korrespondensie blyk dat sy wel by meer as een geleentheid swanger geword, maar dat die swangerskappe telkens beëindig moes word. In 1932 het sy ? miskraam gehad en die skildery Henry Ford Hospital, 1932, verwys na dié voorval in Detroit. Dié skildery is gemaak op koue plaatmetaal.
Kahlo se werk word dikwels beskryf as surrealisties as gevolg van dikwels bisarre en onthutsende temas. Nietemin was sy nie – soos die Surrealiste – geïnteresseerd in die verbeelding of drome as de bron van haar kunswerke nie. Haar werk is veel meer biografies van aard.
Benewens die impak van die ongeluk en haar mediese toestand daarna waarna sy deurgaans in haar skilderye verwys het, het haar gemengde Duits-Mexikaanse afkoms en haar man se sterk Mexikaanse nasionalisme ? sterk invloed op haar werk gehad. Kahlo het byvoorbeeld die spelling van haar voornaam van Frieda na Frida verander sodat dit minder Duits sou lyk.
Las dos Fridas (Die twee Fridas), 1939 en ook die jaar van die egskeiding, is ? werk waarin heelwat biografiese besonderhede skuil, veral ten opigte van Kahlo se siening van identiteit.
Die Frida aan die regterkant is geklee in eietydse Europese kleredrag, die soort wat sy gedra het voor haar huwelik met Rivera. In dié portret hou sy ? hangertjie met ? portret van Rivera. Ná haar huwelik het Kahlo toenemend begin belangstel in tradisionele Mexikaanse kleredrag, wat sy in die portret aan die linkerkant dra. Die lug is stormagtig en die bloeiende hart, met verwysing na Rooms-Katolieke en meteen Asteekse offerande, dui onder meer op haar eie emosionele pyn. Dié skildery is in die versameling van die kunsmuseum in Mexiko-Stad.
[iframe width=”560″ height=”315″ src=”https://www.youtube.com/embed/uOUzQYqba4Y” frameborder=”0″ allowfullscreen=””]
Kyk na die lokprent van Julie Taymor se fliek van 2002 oor die lewe van Frida Kahlo. Die rol van Kahlo word vertolk deur Salma Hayek en dié van Rivera deur Alfred Molina.
[iframe width=”560″ height=”315″ src=”https://www.youtube.com/embed/kcdDLUdX3Kc” frameborder=”0″ allowfullscreen=””]
Kyk in dié video na kort agtergrond oor een van Kahlo se bekendste skilderye, Selfportret met halssnoer van dorings, 1940.
Klik hier om te kyk na dié video oor Kahlo se huis, La casa azul.