‘n Mens sou ‘n hele klomp voorbeelde kon noem van Suid-Afrikaanse kunstenaars wie se werk val binne die raamwerk van die Surrealisme, maar daar is maar één Fred Page – die enigmatiese kunstenaar wat sedert 1937 tot en met sy dood in Port Elizabeth gewoon en werk het.
Johan Myburg
Frederick Hutchinson Page (1908-1984) het nie gedink sy werk is geheimsinnig of “diep” nie. “Ek is ‘n gewone mens. Ek het ‘n klomp idees wat in my kop draai en ek skilder dit. Kunsmense, veral kritici, probeer diep betekenis in my werk inlees. Daar is nie diep betekenis nie.” Só het hy kort voor sy dood oor sy werk gepraat.
Nietemin kan ‘n mens nie anders nie as om raakvlakke te sien tussen Page se werk en dié van Giorgio de Chirico, een van die vroeë Europese Surrelaiste: Al is dit net oor die fokus op argitektuur en die groot afwesigheid in die tonele, of die perspektief in die taferele en die ekonomiese gebruik van aardse kleure – selfs nog meer gestroop as dié van De Chirico.
Die ysige stiltes in leë strate, swart, uitsiglose vensters wat jou aan doodskiste laat dink, koppe wat bokant ‘n lyf sweef of deur ‘n turksvy vervang word, praat alles die taal van die Surrealisme.
Dis juis die gestileerde voorstellings van Port Elizabeth se argitektuur, se stad- en straattonele, waarvoor Page bekend is; vir die fyn geskilderde besonderhede van fasades, vensters, deure en argitektoniese versierings.
Met allerlei tegnieke – soos abstrahering van komposisie, vereenvoudiging van driedimensionele vorms tot tweedimensionele patrone, redusering van kleur tot ‘n kontras tussen wit en swart, soms opgehelder met subtiele variasies in kleurskakering, naasmekaarstelling van onlogiese situasies en voorwerpe – lei die kunstenaar die waarnemer weg vanuit die werklikheid van die hier en die nou in ‘n droomwêreld in, na die idees wat in die kunstenaar se kop gedraai het.
Page se werk is meer as blote “dokumentasie” van ’n herkenbare omgewing. Sy geboue word wesens met ‘n eie hart en siel – metafore vir psigiese toestande, visuele merkers van gevoelens en ervarings waarmee die waarnemer kan identifiseer, of wat ‘n mens verbysterd laat.
In ‘n radio-onderhoud in 1978 het Page sy vinger gelê op belangrike saak: “Iets wat ek dink dikwels voorkom is ons neiging om iets te ignoreer as dit ongemak by ‘n mens wek.”
Page het alleen in die sentrale deel van Port Elizabeth gewoon. Sy omgewing het hy soos die palm van sy hand geken en tussen 1947 en 1980 het hy gereeld dié buurt gebruik in foto’s en sketse wat hy gebruik het in sy skilderye.
Benewens ‘n jaar se studie aan die Port-Elizabeth-kunsskool onder leiding van Jack Heath het hy homself geleer skilder. Die media waarin hy graag gewerk het, is tempera of akriel, waterverf, gouache en pen en ink.
Ná militêre diens in die Tweede Wêreldoorlog het hy in 1945 besluit om voltyds te skilder en met Heath se aanmoediging het hy begin deelneem aan groepuitstallings van die Oostelike Provinsie se kunsvereniging. Sy eerste solouitstalling was in 1960.
Page neem jou saam met hom op ’n reis na die onsienlike – die onderdrukte begeertes en wroegings in die onbewuste, na ’n werklikheid wat rasionele begrip en ontleding ontduik. Dit is waar assosiasie en verbeelding ’n plek kry. Deur enige vaste betekenis te ontken het Page verseker dat sy werk sy magiese krag behou. ‘n Mens hoef (en moet dalk ook dalk) nie alles te analiseer en te verstaan nie.
Fred Page, The Bus (607 x 760 mm), 1966, akriel op bord.
In 2011 het Jeanne Wright en Cecil Kerbel ‘n boek ook Fred Page uitgegee – ‘n nodige publikasie waarin die belang van dié kunstenaar uitgewys word. Fred Page: Ringmaster of the Imagination kos R290 en is landwyd by boekwinkels beskikbaar. Vir meer besonderhede besoek die webwerf www.fredpage.co.za.