Francisco José de Goya y Lucientes, kortweg Goya, is op 30 Maart 1746 in die Aragón-streek in Spanje gebore.
Johan Myburg
Goya het by twee geleenthede, in 1763 en weer in 1766 aansoek gedoen om toelating tot die koninklike kunsteakademie, maar sonder sukses.
In 1771 is hy na Rome waar hy die tweedeprys gewen het in ’n kompetisie aangebied deur die stad Parma. Dieselfde jaar is hy terug na Saragossa waar hy die koepels van die Pillar-basilika beskilder het.
Goya se portret van die hertog van Wellington, 1812, in olie
op doek.
Familie en vriende
In 1773 is hy getroud met Josefa, die suster van die skilder Francisco Bayeu y Subías en dié se lidmaatskap van die koninklike kunsteakademie het vir Goya deure oopgemaak. Dis hoe hy opdrag gekry het om tapisserieë vir die hof te ontwerp. Eindelik is hy ook aanvaar as lid van die akademie.
Sy vriendskap met kroonprins Don Luis het daartoe gelei dat Goya talle opdragte ontvang het en in 1786 is hy aangestel as Carlos III se hofskilder en later ook vir Carlos IV.
Al het Goya die familieportret van Carlos IV en sy familie nie as parodie bedoel nie, soos Robert Hughes aanvoer in sy biografie Goya, beteken dit nie Goya het hom weerhou van priemende sosiale kommentaar nie. Agter die groepportret sluit hy ’n skildery in van Lot en sy dogters – as aanduiding van verval. Die sentrale plek wat María Luisa inneem verklap heelwat van haar posisie in die regering van die land …
Selfportret van Goya, 1815, olie op doek (46 x 35 cm) in die
Prado in Madrid.
Nie siekte of oorlog kon Goya stuit nie
In 1792 het Goya siek en uiteindelik doof geword. Terwyl hy aangesterk het, het hy begin werk aan Los caprichos, ’n reeks etse en akwatinte.
Ná die Franse inval in Spanje in 1808 en die oorlog wat tot in 1814 geduur het, het Goya aanvoorwerk begin doen vir die reeks wat later bekend sou staan as Los desastres de la guerra.
Van 1814 tot 1819 het sy werk hoofsaaklik uit opdragportrette bestaan. In 1819 het hy hom buite Madrid gevestig waar hy direk op die mure van die huis sy sogenaamde swart skilderye (waaronder Saturnus vreet sy seun op) aangebring het.
Goya is in 1828 op 82-jarige ouderdom dood in Bordeaux in Frankryk. Hy is in die koninklike kapel van St. Antonius van La Florida in Madrid begrawe.