“Kuns is begaan oor die hóé en nie die wát nie,” het hy volgehou
Ondanks die verskrikking wat die Eerste Wêreldoorlog meegebring het, het dié oorlog nie die kulturele wisselwerking tussen Europese lande tot stilstand gebring nie. Dit was nie die geval tydens die Tweede Wêreldoorlog nie.
Die Nazi-besetting in Europa het daarvoor gesorg dat internasionale kontak tussen kunstenaars verbreek is. In die aanloop tot die oorlog het talle avant-garde kunstenaars – dié wat dit betyds kon regkry én kon bolwerk – gevlug voor die Nazi’s.
In ‘n totalitêre regime, soos dit die geval was in Nazi-Duitsland, is beheer oor kuns en ander maniere van kulturele uitdrukking immers ‘n integrale deel van politieke oormag. Juis omdat kuns die vermoë het om mense te beïnvloed, en omdat dit die identiteit en strewe van ‘n volk, gemeenskap of groep mense kan beliggaam.
Om kuns volledig onder beheer te kry, het Hitler aan die een kant geglo iets van ‘n “kulturele suiwering” was nodig. Kuns wat nie aan sy vereistes voldoen het nie, is as “entartete Kunst” (ontaarde kuns) gesien en moes uitgeroei word. Die moderne kuns van die eerste drie dekades of wat van die 20ste eeu is gereken as ontaarde kuns wat in wese on-Duits was en dié kunswerke is uit museums verwyder, kunstenaars het hul betrekkings aan kunsskole verloor en hulle kon ook nie meer hul werk uitstal nie.
In die plek daarvan het Hitler aangevoer figuratiewe (en konserwatiewe) kuns, sterk beïnvloed deur die Grieks-Romeinse skoonheidsideaal, sou bydra tot die hergeboorte van die Duitse kultuur en gemeenskap.
In 1937 is ‘n uitstalling van “ontaarde kuns” in München aangebied en 650 kunswerke wat uit museums verwyder is, is vir die publiek voorgehou as voorbeelde van die soort kuns wat uitgeroei moes word.
Kunstenaars wie se werk ingesluit is, is onder andere Marc Chagall, Georg Grosz, Wassily Kandinsky, Ernst Ludwig Kirchner, Paul Klee, Georg Kolbe, Wilhelm Lehmbruck, Franz Marc en Emil Nolde.
Vir ‘n oorlog-sat Europa het die VSA uitkoms gebied en namate dié land meer en meer as ‘n wêreldmoondheid begin ontluik het, het kunstenaars daar ‘n heenkome gevind.
Toe die Nazi’s die Bauhaus in 1933 sluit het iemand soos Josef Albers – wat in Duitsland onder andere Kandinsky en Klee as studente gehad het – na die VSA geëmigreer. In Noord-Carolina is hy die pos as hoof van die nuwe Black Mountain College aangebied. Daar het sy studente ingesluit Ruth Asawa, Ray Johnson, Robert Rauschenberg, Cy Twombly en Susan Weil.
Aan die Black Mountain College het Albers sy unieke onderrigbenadering voortgesit: “Kuns is begaan oor die hóé en nie die wát nie,” het hy volgehou, “nie met die letterlike inhoud nie, maar met die uitvoering van die feitelike inhoud. Die uitvoering (performance) – hoe dit gedoen word – dít is die inhou van kuns.”
Dit is dié benadering wat ‘n hupstoot vir performance-kuns in die 1930’s geword het, een waarin ruimte, vorm, kleur, lig, klank, beweging, musiek, ritme, tyd ensovoorts deel geword het van ‘n “performance”.
Ten tyde van die oorlog in Europa het Black Mountain College meer vlugteling-kunstenaars gelok, gegrond op die kollege se reputasie as ‘n eksperimentele omgewing – onder andere ook die Bauhaus-argitek Walter Gropius.
In die 1940’s het die komponis John Cage en die danser/choreograaf Merce Cunningham ook by Black Mountain aangesluit. Cage het in 1952 sy eerste “happening” aangebied, met stelontwerp deur Robert Rauschenberg en choreografie deur Cunningham.
Die dronkaard, ‘n skildery wat dateer van 1911/12. Chagall is een van die kunstenaars wie se werk volgens die Nazi’s nie “goeie kuns” was nie.
Die dronkaard, ‘n skildery van wat dateer van 1911/12. Chagall is een van die kunstenaars wie se werk wat volgens die Nazi’s nie “goeie kuns” was nie.
Ná ‘n lang hofstryd oor die kunswerke wat die Nazi’s gebuit het, wou Joodse groepe weet waarom die Duitse regering die vonds so lank geheim gehou het. Lees die berig hier
John Cage se Theater Piece No. 1 (1952), ook genoem The Event, was een van Cage se eerste grootskaal multimedia performance-stukke. Dié stuk het ingesluit poësievoorlesings, musiek, dans, skyfievertonings en die vier panele van Rauschenberg se White Paintings (1951). Cage het op ‘n trapleer gesit en besin oor Boeddhisme, of gewoon niks gesê nie, terwyl MC Richards en Charles Olson gedigte voorgelees het. Rauschenberg het onder meer Edith Piaf-plate gespeel en Cunningham het, gejaag deur ‘n hond, tussen die gehoorlede gedans. Dié performance was benewens ‘n voorbeeld van die nieu-Dada-beweging ook ‘n prototipe van die soort “happenings” wat later in die kunswêreld na vore sou kom in bewegings soos Fluxus, minimalisme en konseptualisme. Lees meer op www.theartstory.org/artist-cage-john
Robert Rauschenberg se White Paintings (1951). Met Zen-estetika as vertrekpunt het Cage dié wit doeke geïnterpreteer as “landingstroke” vir lig en skadu en eweneens vir stilte en omringende klank in musiek.