Die kunsbeweging bekend as die Duitse Ekspressionisme het heelwat raakvlakke met die Franse Fauvisme – veral in die opsig dat albei ontwikkel het in reaksie op die post-Impressionisme.
JOHAN MYBURG
Die grootste verskil was egter die Duitse Angst wat onderliggend was aan die werk van die twee groot stromings binne Duitse Ekspressionisme: dié van Die Brücke (Die brug) en Der Blaue Reiter (Die blou ruiter).
Wat Paul Cézanne vir die Fauvisme was, was die Noorweegse skilder Edvard Munch vir die Duitse kuns van die vroeg-20ste eeu. Soos Cézanne het Munch nie net die koers aangedui nie, maar self die pad geloop. Tot ’n groot mate het Munch heelwat van die genoemde Angst verpersoonlik en het sy kuns tekenend geword van ’n onmiskenbare morbiede emosionaliteit en beheptheid met die dood.
Sterk beïnvloed deur die filosofie van Friedrich Nietzsche en Søren Kierkegaard was Munch die beliggaming van die mens as twyfelende en sensitiewe siel te midde van ’n vyandige en materialistiese wêreld.
As die (vernaamste) lede van Die Brücke – Carl Schmidt-Rottluff (1884-1976), Ernst Ludwig Kirchner (1880-1938), Erich Heckel (1883-1970), Max Pechstein (1881-1955), Otto Mueller (1874-1930) en Emil Nolde (1867-1956) – dan nie noodwendig Munch se styl nagevolg het nie, het hulle wel sy gees en gevoel laat voortleef.
In dié gees het Schmict-Rottluff Die Brücke beskryf as ’n rigting wat “alle rewolusionêre en gistende elemente byeenbring”. Getrou aan die geesdrif van die vroeg 20ste eeu het alle skilders gemeen hulle verteenwoordig die toekoms!
Die Brücke het gehou by tradisionele onderwerpe en selfs figuratief getrou gebly. Die houtdrukke van die groot Duitse meester Albrecht Dürer het steeds ’n beduidende invloed op dié skilders gehad en inspirasie gebied vir baie van hulle prente.
Daarenteen het Die Blaue Reiter in navolging van die Kubisme mistieke, spirituele aspekte nagestreef. Die hooffigure was Wassily Kandinsky (1866-1944), Franz Marc (1880-1916), Paul Klee (1879-1940), August Macke (1887-1914) en Gabriele Munter (1877-1962).
Dit was Kandinsky wat die naam vir die groep só verduidelik het: “Ons albei (hy en Marc) hou van blou; Marc hou van perde en ek van ruiters. Die naam spreek vir sigself.”
Die gedagte dat kuns en musiek innig verweef is, is nie ’n nuwe opvatting nie. Dit kom onder meer al van die Grieke het telkens opgeduik in die geskiedenis. Goethe het byvoorbeeld geglo argitektuur is “gestolde musiek”.
Maar in die vroeg 20-ste eeu was Wassily Kandinsky die een kunstenaar wie se werk musiek maak. Benewens skilderytitels soos Komposisie en Improvisasie heet sy boek met houtdrukke van 1913 Klänge (Klanke).
[iframe width=”350″ height=”197″ src=”https://www.youtube.com/embed/oU8D7j4P6Xw” frameborder=”0″ allowfullscreen=””]
Kyk na ’n kort video oor die latere werk van Kandinsky, maar wat nietemin insig bied in die skilder se siening van die rol en plek van moderne kuns.
Kyk hier na ’n kort video oor Die Blaue Reiter.
[iframe width=”350″ height=”197″ src=”https://www.youtube.com/embed/jRIlx5dXO_M” frameborder=”0″ allowfullscreen=””]
Die Rus Alexei von Jawlensky (1864-1941) het by die groep aangesluit en ’n verdere mistieke element (wat dikwels aan Rusland gekoppel word) na Die Blaue Reiter gebring. Nóg ’n Rus uit dié jare, Marc Chagall (1887-1985), het grootliks sy eie koers ingeslaan en sy lewe lank as’t ware vry van kunsstromings gebly.
[iframe width=”350″ height=”263″ src=”https://www.youtube.com/embed/AcBj9qYZCBY” frameborder=”0″ allowfullscreen=””]
Kyk na ’n kort video oor die werk van Marc Chagall.
Dis opvallend dat nie die lede van Die Brücke of Der Blaue Reiter aan hulself gedink het as Duitse Ekspressioniste nie. Dié term was immers eerste gekoppel aan die Fauviste en hulle meelopers. Dit was eers toe ’n besliste Duitse emosionele karakter aan hulle werk toegeskryf is dat die lede van Die Brücke en Der Blaue Reiter as ekspressioniste begin bekendstaan het.
Die openheid wat vroeg in die 20ste eeu posgevat het ten opsigte van kunsdissiplines – nie meer net skilders en beeldhouers nie, maar ook grafiese kunstenaars, ontwerpers, argitekte en dies meer – het ruimte gemaak vir kunstenaars om buite die Ekspressionistiese groepe ’n eie stem in Europa te vind. Benewens Chagall was daar ook Max Beckmann (1884-1950), Oskar Kokosschka (1886-1980), Otto Dix (1891-1969) en die beeldhouer Ernst Barlach (1870-1938).