Die Pretoriase Kunsmuseum in Arcadia het uit sy permanente versameling ‘n uitstalling saamgestel wat bloot genoem word “Die verhaal van Suid-Afrikaanse kuns”.
Benewens die verantwoordelikheid wat ‘n openbare kunsmuseum het om na die kunswerke in sy versameling om te sien – en om die versameling deurentyd aan te vul – is die onderrig-aspek ‘n bepalende deel van museums se werksaamhede. Onderrig wat nie net beperk is tot skoolonderrig nie, maar ewenwel op skool behoort te begin.
Wêreldwyd word die rol wat kunsmuseums in skoolonderrig speel benadruk en word skole aangemoedig om die ervarings wat in galerye opgedoen word, te integreer in aspekte van die kurrikulum. Bowenal is blootstelling aan kuns op skoolvlak die grondslag vir latere en hopelik hegter kontak tussen museums en gemeenskappe.
Die Pretoriase Kunsmuseum in Arcadia het uit sy permanente versameling ‘n uitstalling saamgestel wat bloot genoem word “Die verhaal van Suid-Afrikaanse kuns”. Dié uitstalling is byeengebring deur Hannelie du Plessis en Gerda Guldemond, twee kurators van dié kunsmuseum, en sluit werk in van vroeg 20ste-eeuse kunstenaars, die werk van weerstandskunstenaars van die 1980’s asook dié van kunstenaars van die 21ste eeu.
Die uitstalling is saamgestel in samewerking met die museum se opvoedkundige beampte Mmutle Arthur Kgokong, en geskoei op die nasionale kurrikulum- en assesseringsbeleidsverklaring vir grade 10 tot 12. Die oogmerk is leerders as kreatiewe en verbeeldingryke individue met ‘n aanvoeling vir kuns.
Hoewel die uitstalling in die Albert Werth-saal voldoen aan die kriteria vir leerders wat kuns as skoolvak neem, is dié uitstalling juis ideaal vir enigiemand, jonk of oud, wat toegang wil kry tot die verhaal van Suid-Afrikaanse kuns.
In plaas van ‘n bloot chronologiese oorsig begin die uitstalling weliswaar by die San-rotskuns, maar gee onmiddellik konteks deur die tematiese en stilistiese invloede in die werk van kunstenaars soos Walter Battiss en Cecil Skotnes uit te wys.
Die Suid-Afrikaanse moderne meesters word in die keurigste voorbeelde moontlik verteenwoordig – werke van JH Pierneef, Irma Stern, Maggie Laubser en George Pemba – en heelwat plek word afgestaan aan die invloed van die Rorke’s Drift-kunssentrum in KwaZulu-Natal asook aan die Polly Street-sentrum in Johannesburg.
Een van die latere Rorke’s Drift-werke is Ester Nxumalo se handgeweefde woltapisserie, The Marriage Feast at Cana van 1981. Uit dié kunssentrum van die Evangelies-Lutherse Kerk het heelwat kunswerke met ‘n godsdienstige strekking gekom, soos die linodrukke van John Muafangejo.
In die 1950’s en 60’s, toe daar kwalik enige kunssentrum in die townships was, het die Polly Street-sentrum onder leiding van Skotnes dié leemte gevul. Dit was in dié jare waarin sosio-politieke kuns na vore begin kom het en wat uitgeloop het in die weerstandskuns van veral die 1980’s – veral in kunswerke wat uitdrukking gee aan die politieke wanbalans van die tyd, soos in die werk van Manfred Zylla.
Uit die era ná die totstandkoming van die demokratiese bestel in die land is daar werke wat aandag gee aan aspekte soos identiteit, etnisiteit, globalisering en verstedeliking.
Die wins van die uitstalling is die wonderlike gesprek wat die kurators tussen die werke onderling bewerkstellig. Die versameling portrette, van Noria Mabasa se portret in geverfde klei van ‘n polisieman tot Diane Victor se verbluffende selfportret, gee ‘n indruk van die verskeidenheid benaderings in dié genre.
Afgesien van die inhoudelike en konseptuele aspekte wat in dié versameling na vore kom – van landskappe tot stillewes; van realisme tot abstraksie – is die werk met sorg gekies om verteenwoordigend te wees van kunsmediums soos onder meer skilder-, beeldhou- en grafiese kuns.
Bel Mmutle Kgokong by 012 358 6750 om te bespreek vir ‘n begeleide toer.
Walter Battiss, Mantis Dance. Dié sykermdruk uit die 1960’s wys die invloed van San-kuns in Battiss se werk duidelik uit.
George Pemba, Vrou met mandjie, 1979, olie op bord. Dié werk is sedert 1991 in die versameling van die Pretoria Kunsmuseum.
Noria Mabasa, Polisieman (detail), geskilderde klei. Die Pretoria Kunsmuseum het dié beeld van Mabasa in 1986 aangekoop.
Ester Nxumalo, 1981, The Marriage Feast at Cana, handgeweefte woltapisserie, aangekoop in 1981.