Die L’Atelier-kunsprys sprei vanjaar sy vlerke buite die landsgrense.
Johan Myburg
Sedert 1986 toe Penny Siopis as die eerste wenner van dié kompetisie aangewys is – toe nog die Volkskas Bank Atelier-kompetisie – weerspieël die lyswenners en merietewenners kunstenaars wat hul stempel in die Suid-Afrikaanse en internasionale kunswêreld afgedruk het. Onder hulle is Wayne Barker, Deborah Bell, Marco Cianfanelli, Diek Grobler, Lawrence Lemaoana, Colbert Mashile, Karel Nel, Bambo Sibiya, Minnette Vári, Diane Victor en James Webb.
Die Pretoriase kunstenaar Liberty Battson het die kompetisie verlede jaar gewen.
Elke jaar het die wenner van die kompetisie, benewens ’n geldprys, ook die geleentheid gekry om vir ses maande in die Cité Intenationale des Arts in Parys, Frankryk, te gaan woon en werk.
Mettertyd het die Gerard Sekoto-prys tot stand gekom onder die sambreel van die Absa L’Atelier-prys en onlangs het nog twee geleenthede vir kunstenaarsverblyf in New York en op die Sylt-eiland noord van Hamburg in Duitsland deel van die L’Atelier-pryspaket geword.
Vanjaar is nóg ’n residensie aan ’n merieteprys gekoppel: ’n merietepryswenner van een van die vier Afrika-lande sal vir drie maande in die Bag Factory in Johannesburg kan werk.
Die L’Atelier-prys is voortaan deel van die Barclays Africa-portefeulje nadat Barclays in 2013 die beherende aandeel in Absa bekom het. Geborg deur Barclays Africa word die kompetisie in samewerking met die Suid-Afrikaanse nasionale kunsvereniging (Sanava) aangebied.
Volgens dr Paul Bayliss, Absa se kuns-en-museum-kurator, is die oogmerk om die kompetisie na ander Afrika-lande waar Barclays ’n teenwoordigheid het uit te brei.
“Botswana, Zambië, Ghana en Kenia is alom bekend vir die kaliber van hul jong visuele kunstenaars en die insluiting van dié vier lande bied ’n vaste grondslag van waar ons mettertyd sal uitbrei,” het hy gesê.
Omdat Johannesburg die hoofkantoor van Barclays Africa is en die gallery ook in die middestad geleë is, word die kompetisie uit die Goudstad geadministreer en ook daar aangebied.
Met die oopstel van die kompetisie vir kunstenaars noord van die landsgrense is die L’Atelier-prys nie net een van Suid-Afrika se voorste kunskompetisies nie, maar word dit een die enigste in sy sort wat visuele kunstenaars van die vasteland die geleentheid gee om te wys waartoe hulle in staat is. Die kompetisie is oop vir kunstenaars tussen 21 en 35.
Die inskrywings word volgende maand deur tien verskillende beoordelaarspanele in tien streke getakseer. Die gekeurde werke word daarna na Johannesburg gestuur waar dié werke deur ’n finale panel beoordeel word en die wenners bepaal word. Die panele word uit kundiges in die verskillende streke saamgestel.
Uit die tien finaliste word ’n wenner, drie merietepryswenners en ’n wenner van die Gerard Sekoto-prys aangewys. Die tien finaliste kry die geleentheid om ’n kortkursus by te woon wat hulle sal help om hul loopbaan te bestuur en elke finalis kry ’n mentor met wie hy of sy vir ’n jaar kan saamwerk.
Die inskrywings van die 100 topkunstenaars word jaarliks in die Absa-galery in Johannesburg uitgestal. Die wenners word gewoonlik teen Julie by ’n geselligheid in Johannesburg aangekondig.
Benewens performance-kuns mag werk in enige medium ingeskryf word, mits dit aan die bepalings voldoen soos in die reëls van die kompetisie uiteengesit.
Meer inligting
Besoek www.absalatelier.co.za beskikbaar.
Lees verder
Op www.vrouekeur.co.za is meer inligting oor die L’Atelier-prys.