Ons kyk na kunstenaars soos Bernini, Caravaggio, Carracci, Rembrandt en meer.
Johan Myburg
Waar die ou Grieke in die kunsgeskiedenis tot in daardie stadium taamlik eensydig die botoon gevoer het, het Rome met sý verstaan van die klassieke ideaal nou die middelpunt van die wêreld geword.
Barok, die era wat dikwels verkeerdelik gesien word as bisarre oordrywing en pure oordaad sonder enige struktuur, het juis in die orde van klassieke Rome sy vertrekpunt gevind.
Die kunstenaars
Gian Lorenzo Bernini (1598-1680) se Ekstase van die Heilige Teresa (1652) het wel vergulde strale wat uit die een of ander ligbron voortkom, maar die ekstase, die belewing van die goddelike sfeer, word nietemin so ongelooflik realisties en menslik verbeeld.
As Christus verskyn in Die roeping van Matteus, om en by 1600 geskilder deur Michelangelo Merisi da Caravaggio (1573-1619), is Hy nie meer die geïdealiseerde figuur wat op ’n afstand gehou word nie. Iets van ’n reformatoriese blik op die persoon van Jesus begin reeds na vore kom.
Dis veral die werk van die Italiaanse kunstenaar Annibale Carracci (1560-1609) wat met sy uitbeelding van ’n religieuse tema in die Vlug na Egipte (1604) die aandag op die landskap gevestig het.
Wat opval is nie alleen figure wat verdwerg word deur die landskap wat in soveel detail geskilder is nie, maar juis die orde en ordening in die landskap wat beklemtoon word. In dié opsig is Carracci as Barok-kunstenaar die wegbereider vir die die latere naturalistiese landskapskildering.
Maar mettertyd is dit Parys wat by Rome oorneem as die draer van die Barok-vaandel. En nêrens is die ordening van die landskap so doelgerig gedoen nie as juis by Versailles. André le Nôtre (1613-1700), bekend as ’n skilder, argitek en tuinboukundige, is gekry om die tuinerye vir Louis XIV by dié paleis aan te lê.
Hoewel dié tuine gefatsoeneer is met rojale parterres en oordadige fonteine, het landskapskilders soos Poussin daarenteen fantasie vermy en eerder gefokus op heroïese weergawes van landskappe, geskik vir ’n koning.
Van Frankryk het die Barok na Spanje, Nederland en Engeland versprei.
Die bekendste eksponent van die Spaanse Barok is Diego Rodríguez de Silva y Velasquez (1599-1660) en sy bekendste werk is waarskynlik Las meninas (1655), ’n enigmatiese skildery waarin die kunstenaar verbeeld word, besig om ’n skildery te maak van die koning en die koningin. Van dié twee sien ’n mens net die weerkaatsing in die spieël in die agtergrond.
In Nederland is onder die meesters van die dié land se ‘Goue Eeu’ Peter Paul Rubens (1577-1640), Rembrandt van Rijn (1606-1669), Carel Fabritius (1622-1654), Jan Steen (1626-1679) en Jan Vermeer (1632-1675).
Waar Rubens die skilder van die kontrareformasie was en wie se werk gehang het in Rooms-Katolieke kerke en paleise, het Rembrandt se protestantse sentimente meer ingepas in die Amsterdamse omgewing waar hy hom in 1624 gaan vestig het.
Hoewel Rembrandt Italië nooit besoek het nie – hy het aangevoer hy is te besig om te reis – het hy sy lewe lank inspirasie gevind in drukwerk en gravures van Italiaanse meesters. Caravaggio se gebruik van lig en donker in skilderye het Rembrandt bemeester en verfyn. Soos hier in die skildery van die Ou Testamentiese verhaal waarin Josef beskuldig word deur Potifar se vrou (1655).
Engeland se koning Charles I het twee Vlaamse skilders na sy hof genooi: Anthony van Dyck (1599- 1641) en Peter Lely (1618-1680). Uit dié twee se portrette blyk veral aspekte van die mode van die tyd: mans geklee in kant en satyn, en vroue met strikke en linte.
Nietemin verbeeld Van Dyck die koning as ’n Engelse heer eerder as ’n uitspattige eweknie vir byvoorbeeld die Franse koning, ’n monarg wat ten alle koste die goddelike reg van die monargie wou beklemtoon. Vergelyk Van Dyck se Charles I op jag (c1635), ’n skildery wat in die Louvre hang.