Wanneer voorwerpe nie in Westerse kategorieë ingepas het nie, is dit geklassifiseer as “primitiewe kuns”
Johan Myburg
Die rol wat “primitiewe kuns” gespeel het in 20ste eeuse kuns het veral na vore gekom in die werk van die Kubisme en later ook ander kunsbewegings. Teen 1900 was “primitiewe kuns” die versamelnaam vir voorwerpe wat nie in Westerse kategorieë ingepas het nie.
Van omtrent 1870 het duisende beelde uit die “eksotiese” kolonies in Europa aangekom, stukke wat nie in kunsmuseums opgeneem is nie, maar hul weg gevind het na antropologiese en etnografiese museums in Parys, Berlyn, München en Londen. Dié objekte is nie gereken as kuns nie, maar as kurio’s, hoogstens as artefakte. Omdat bittermin waarde aan dié werke geheg is, het baie daarvan op vlooimarkte beland.
Maar dié stukke, veral dié in die Musée d’Ethnographie du Trocadéro in Parys, was vir meer as een kunstenaar ’n besondere trekpleister. Henri Matisse, Pablo Picasso en sy vriende van die Paryse skool het die gestileerde benadering tot die menslike figuur in die Afrika-beelde meteen gekombineer met die verfbenadering van die post-Impressionisme.
Pablo Picasso se Demoiselles d’Avignon, 1907,
olie op doek (244 x 234 cm), is in die Museum
of Modern Art in New York.
Dié 19de-eeuse Fang-masker (66 cm)
van hout is deel van die Louvre-versameling.
Emil Nolde (1867-1956) se Maskers,
1911 (74 x 78 cm). Dié skildery is in die Nelson-Atkins Museum of Art in Kansas City, Missouri, VSA.
Kyk na dié analise van Picasso se Desmoiselle d’Avignon in MOMA se video:
http://www.moma.org/explore/multimedia/audios/373/6253