Johan Myburg skryf oor die vroegste boustene van kuns
Baie elemente wat vandag nog in kuns gebruik word, het ‘n oorsprong in die geskiedenis, tot so ver terug as 6 000 jaar.
In die tyd voor die aanvang van die Christelike jaartelling is boustene vir die kunsgeskiedenis wat sou volg onwetend van heinde en ver aangedra – van die vroegste ryke van die Epigtenaars, Mesopotamiërs en Grieke tot die klassieke Griekse era en dié van die Romeine, maar ook uit die Ooste, uit Indië en China.
Dié tydperk strek van ongeveer 4000 VHJ tot en met die regering van keiser Augustus.
Die een groot gemene deler is dat die kuns van al dié beskawings (‘n woord wat ek met omsigtigheid gebruik en in sy wydste betekenis bedoel) deur die een of ander vorm van godsdiens bepaal is. As kuns nie in die vorm van argitektuur vir tempels ingespan is nie, is beeldhoukuns of reliëfwerk gebruik om gestalte aan religieuse sentimente te gee.
Die gebied vandag bekend as Iran en Irak was die bakermat van kunsbedrywighede. Teen 4000 VHJ het die Mesopotamiërs al besonder dun pottebakkerswerk gemaak, kleitablette beskryf en ‘n letterkunde ontwikkel wat die Gilgamesj-epos insluit. Uit marmer en ander gesteentes het hulle beeldjies gekerf, waarskynlik as deel van seremoniële rites.
Teen ongeveer 2780 VHJ het graftombes en piramides en later tempels verrys in Egipte: piramides as begraafplek vir die goddelike farao’s en tempels as aanbiddingsplekke vir die gode. Latere tempels is ryklik versier met suile wat die vorm van papirusplante en lotuslelies eggo.
Hoewel die Grieke al sedert 3000 VHJ bekend was vir hul vase asook bou- en reliëfwerk, het kuns in dié omgewing in die vyfde en vierde eeu VHJ ‘n bloeitydperk beleef, tydens die sogenaamde Klassieke Tydperk. Dit was die tyd toe die Parthenon op die Akropolis gebou is, maar ook die tyd van beeldhouers soos Miron, bekend vir sy Diskuswerper; Phidias, verantwoordelik vir heelwat van die Parthenon se beelde; Policlitus, bekend vir beelde van atlete, soos sy Diadumenus; en die latere Skopas, Lisippos en Praxiteles, bekend vir sy Hermes met die kind Dionusos.
Ná die Grieke het die Romeine hul heerskappy in argitektuur, in Rome maar ook dwarsdeur die Romeinse Ryk, benadruk. Op dié manier het die destydse wêreld, van Brittanje tot Sirië, van Frankryk tot Noord-Afrika, van Romeinse kuns en bouwerk kennis geneem.
Hoewel die kuns van Indië en die Verre Ooste, en die idees wat daarin beliggaam is, vir die Grieke en Romeine aanvanklik ‘n toe boek was, het ywerige handel tussen Indië sedert die ryk van Alexander die Grote en later binne die Romeinse Ryk plaasgevind. En gaandeweg het oor-en-weer-beïnvloeding plaasgevind. Toe beeldhouers van Gandhara in die weste van Indië aan die Boeddha gestalte wou gee, het hulle in hul vormgewing duidelik ‘n oog gehou op Griekse en Romeinse weergawes van die gode. Indiese praktyke om grotte as vereringsplek vir heiliges te gebruik, sou later op die Europese vasteland bestaansreg kry.
As die eerste prosiliterende godsdiens het Boeddhisme ook verder oos na China uitgereik. Dié land het egter ‘n kunserfenis wat veel ouer is. Om en by 2000 VHJ het China tydens die Shang-dinastie brons bemeester. So ook geglasuurde steenware, die voorloper van porselein.
Al dié oënskynlik uiteenlopende elemente het elk op ‘n eiesoortige manier tot ‘n kunspraktyk bygedra wat deur die eeue gestalte gekry het. Niks is onverwant nie. En niks val uit die lug nie. Wat sou volg, is niks meer nie as ‘n voortdurende verwerking en herinterpretering van dié boustene.