Johan Myburg skryf oor die vroegste boustene van kuns
Johan Myburg
In die tyd voor die aanvang van die Christelike jaartelling is boustene vir die kunsgeskiedenis wat sou volg onwetend van heinde en ver aangedra – van die vroegste ryke van die Egiptenare, Mesopotamiërs en Grieke tot die klassieke Griekse era en dié van die Romeine, maar ook uit die Ooste, uit Indië en China.
Teen sowat 4000 VHJ het die Mesopotamiërs in die gebied wat vandag Iran en Irak is, reeds fyn pottebakkerswerk gemaak en om en by 2000 VHJ die sogenaamde Gilgamesj-epos gelewer – wat beskou word as die wêreld se eerste groot letterkundige werk.
Dié verhale het ‘n invloed gehad onder meer op Bybelverhale soos dié van Noag en die sonvloed, maar duik ook op in die epiese gedigte van Homeros.
In die sogenaamde Klassieke tydperk (die vyfde en vierde eeu VHJ) het beeldhoukuns in Griekeland gefloreer. Uit dié tyd kom onder meer die beeldhou- en reliëfwerk vir die Parthenon op die Akropolis in Athene. Dié werk is gemaak tussen 443 en 428 VHJ onder leiding van Phidias. Fragmente is te sien in die British Museum in Londen (as deel van die sogenaamde Elgin Marbles) en die Louvre in Parys.
(VK 1 3okt) ONDERSKRIF: ‘n Gedeelte van die oostelike fries wat oorspronklik die Parthenon versier het, nou in die Louvre in Parys.
Van die vroeg-Klassieke tyd (om en by 480 v.C.) dateer die Kritios-seun, so genoem omdat dié beeld, “die eerste pragtige naakstudie in die kunsgeskiedenis”, soos die Britse kunskenner Kenneth Clark daarna verwys het, gemaak is deur Kritios en waarskynlik Aristogeitos. Contrapposto, ‘n tegniek wat beeldhouers gebruik om die meeste gewig op die een voet plaas, kom reeds in hierdie vroeë beeld na vore.
(VK 2 3okt) ONDERSKRIF: Die Kritios-seun wat van ongeveer 480 VHJ dateer.
In 1877 is ‘n beeld in die Hera-tempel in Olimpia in Griekeland ontdek – dié van Hermes en die kind Dionisos, ook genoem Hermes van Praxiteles, aangesien dit aan dié Griekse beeldhouer toegeskryf word. Die beeld dateer van die vierde eeu VHJ.
(VK 3 3okt) ONDERSKRIF: Hermes en die kind Dionusos, tans te sien in die argeologiese museum van Olympia.