Omdat Constantin Brâncusi se werk so eenvoudig voorkom bestaan die verleiding om sy beelde as abstraksies te lees. Wat ‘n fout sou wees …
JOHAN MYBURG
Want het dié Roemeense baanbreker van moderne beeldhou nie juis gesê nie: “Daar is idiote wat my werk beskryf as abstrak, hoewel dit wat hulle abstrak noem eintlik die opperste vorm van realisme is. Wat realisties is, is nie die voorkoms nie, maar die idee, die wese van goed.”
Wat Brâncusi so duidelik geïllustreer het in sy kuns is dat eenvoud niks anders is nie as kompleksiteit wat opgelos is.
En so het dit ook in sy werkwyse gestalte gekry. Waar sy tydgenote, soos onder ander die grote August Rodin, in gips en klei geboetseer het (voordat die beelde in brons gegiet is), het Brâncusi verkies om te kerf, om stelselmatig wég te sny, om te reduseer tot die essensie.
As kind het hy kerfwerk as deel van die Roemeense volkskuns beoefen en toe ‘n weldoener later ‘n viool sien wat die 18-jarige jongeling eiehandig gemaak het, het dié hom aan ‘n Roemeense kunsskool laat studeer.
Op 27 is hy via München na Parys waar hy as assistent vir Rodin begin werk het. Hoewel hy Rodin se werk bewonder het, het hy nie lank in die Franse beeldhouer se ateljee vertoef nie. “Niks groei onder groot bome nie,” het Brâncusi gereken en sy eie koers ingeslaan.
Sy eerste opdragwerk, Die gebed, het hy in 1905 gemaak as ‘n beeld vir die graf van ‘n jong Roemeense prokureur. Kort daarna het hy verskeie weergawes gemaak van die Slapende muse en Die soen.
Constantin Brâncusi
Constantin Brâncusi, Slapende muse, 1923, marmer. Dié beeld is in die Metropolitan-kunsmuseum in New York.
Constantin Brâncusi, Die gebed, 1905, brons. Dié werk is in die Roemeense nasionale kunsmuseum.
Constantin Brâncusi, Die soen, 1912, marmer. Dié werk is in die Philadelphia-kunsmusem in die VSA.
Buite Roemenië het sy werk aandag gekry in Parys en is sy beelde ingesluit in die Salon des Indépendants in 1913 en dieselfde jaar ook in die Armory Show in New York, die eerste uitstalling van Europese moderne kuns in die VSA.
Brâncusi se werk is sterk beïnvloed deur ‘n soort ouwêreldse en onopgesmukte verwysingsraamwerk. Dié sjarme gekombineer met die slanke afwerking lei tot tydlose beelde in marmer, klip, hout, brons en metaal.
Die afwerking van die medium waarin hy ook al gewerk het, was van besondere belang. Hy sou dae lank poets aan ‘n beeld totdat dit die verlangde gaafheid en glans verkry.
Een só ‘n beeld was Prinses X wat deel was van die 1920 Salon-uitstalling in Parys. Dié bronsbeeld van prinses Marie Bonaparte is gelees as die uitbeelding van ‘n penis en die beeld is terstond verwyder. Brâncusi was boos oor dié optrede en het volgehou die beeld was sy interpretasie van die ydel prinses wat glo aan etenstafel ‘n handspieël byderhand sou hê om haarself te bekyk.
Die beeld se C-vorm, het hy gesê, gee gestalte aan ‘n vrou wat afkyk, asof na ‘n objek. Die twee vorms wat die beeld aan die voetstuk anker is die verbeelding van die prinses se indrukwekkende boesem.
Constantin Brâncusi. Prinses X, 1915/6, brons. Dié werk is in die Philadelphia-kunsmuseum.
Twintig jaar lank het Brâncusi in marmer sowel as brons gestalte gegee aan verskeie weergawes van Voël in ruimte, geskoei op die Roemeense Maiastra-legende van die goue voël wat nie net die toekoms kan voorspel nie, maar blindes ook kan genees.
Constantin Brâncusi. Voël in ruimte, 1923, marmer. Dié werk is in die Metropolitan-kunsmuseum in New York.
“Waarna ek streef is, bo alles, realisme. Ek soek na die innerlike, verborge werklikheid,” het hy volgehou.
Brâncusi word gereken as een van die belangrikste beeldhouers van die 20ste eeu. Sy beelde is verbluffend eenvoudig. Verbluffend. Want die wese van goed, of dit diere, mense of objekte is, is nooit eenvoudig nie.
Kyk na dié video wat geskiet is in die Atelier Brancusi neffens die Centre Pompidou in Parys.