Johan Myburg skryf oor Claude Monet se Impression : soleil levant (sonsopkoms), die werk wat naam gegee het aan ’n kunsbeweging
Johan Myburg
Claude Monet het nie met die gebruiklike lig-en-donker kontraste gewerk nie, maar sy skildery Impression : soleil levant eerder geskilder as ’n komposisie van kleur: blou en groen in gesprek met geel en oranje.
Vergelyk byvoorbeeld die kleurweergawe en ’n swart-wit weergawe daarnaas: ’n Mens kan kwalik die son uitmaak in die swart-wit weergawe. Benewens die twee donker vaartuie in die hawe is daar min sprake van definisie, bereik deur lig en donker) in dié werk. Dis juis met kleurgebruik dat skakerings bewerkstellig word.
Hoewel Monet heelwat portrette geskilder het, is hy bowenal bekend vir sy landskappe. Dis deur die toedoen van Hugh Lane en ’n skenking van Otto Beit dat die Johannesburg Kunsmuseum (JAG) in Joubertpark ’n vroeë-Monet, Le printemps (Lente), 1875, bekom het. Dié skildery is deel van JAG se permanente versameling.
Een van Monet se grootse skilderye van waterlelies, Weerkaatsings van wolke op ’n waterleliepoel, 1920 (200 x 1276 cm), hang in die museum van modern kuns (Moma) in New York.
Video Kyk hier vir beeldmateriaal wat dateer van 1915 van Monet wat besig is om te skilder in sy tuin in Giverny.