Die profiel van die stad Chicago en die weidse lug word deur die boonste gedeelte weerkaats
Deur JOHAN MYBURG
Chicago se Cloud Gate, die tamaai, blink beeldhouwerk van Anish Kapoor, wat byna onmiddellik tot The Bean (of Jelly Bean) gedoop is, is dié stad se gewildste toeriste-aantreklikheid. Dit is waarskynlik dié beste plek in dié stad om foto’s, of selfies, te neem. Daar is selfs mense wat meen dié spieëlblink beeldhouwerk is die gewildste kontemporêre kunswerk in die VSA. Condé Nast Traveler het in 2005, toe konstruksiewerk nog aan die gang was, Cloud Gate as een van die sewe nuwe argitektoniese wonders van die wêreld aangewys.
Onlangs het Kapoor (63), die Indies gebore Britse beeldhouer, dié beeld die eerste keer sedert dit in 2006 op Chicago se Millennium Park voltooi is, besoek. “Dit is emosioneel en vreemd om nou na dié beeld te staan en kyk waaraan ek 15 jaar gelede vir die eerste keer gedink het,” het hy gesê. “Wat ’n vreemde, vloeibare beeld is dit nie, teenwoordig en tog nie ten volle hier nie.” Kapoor was aanvanklik nie gaande oor The Bean as bynaam vir dié beeld wat eintlik ’n vergestalting van ’n druppel kwiksilwer is nie. “The Bean is ’n totaal simpel naam,” het hy opgemerk. Die stadsvaders van Chicago het beeldhouers die geleentheid gebied om ontwerpvoorstelle vir ’n beeld vir die AT&T Plaza in dié stad se Millennium Park in te dien.
Ondanks tegnologiese hoofbrekens oor die ontwerp, konstruksie en onderhoud van Kapoor se voorgestelde beeld, het hy tog wel die kompetisie in 2004 gewen en met die projek begin. Gemaak van 168 plate vlekvrye staal wat aanmekaargesweis is, weeg die werk net minder as 100 ton en is 10 m x 20 m x 13 m groot. Geen sweisnate is sigbaar nie en dit is die spieëlkwaliteit wat die grootste aantrekkingskrag het. Tot en met Cloud Gate het Kapoor sonder ’n rekenaar oor die weg gekom – sy modellering het hy met die hand gedoen. ’n Werk op dié skaal het wel programmering geverg.
LEES OOK: Kuns: Aki Inomata se (skaal)dier
Rekenaars en robotte is ingespan om die plate te buig en te vorm. Die plate is gepoleer en met ’n wit lagie bedek voordat dit aanmekaargesit is. Ná die sweiswerk (sweisnate van iets soos 744 m in totaal is aangebring) is dit finaal gepoleer. Aanvanklik was daar onsekerheid of dié blink boontjie skoon sal bly, en meer nog, van graffiti en vandalisme gevrywaar sal bly. Trots soos wat Chicago op dié beeldhouwerk is, word dit daagliks so hoog as wat toeriste daaraan kan vat, skoongevee en snags gewas. Twee keer per jaar word die hele beeld met sorg skoongemaak, juis omdat weerkaatsing die magiese element van dié kunswerk is.
Die profiel van die stad en die weidse lug word deur die boonste gedeelte weerkaats (vandaar die titel Cloud Gate) en die onderkant, die nawel van die beeld wat ’n soort poort vorm, bied die heerlikste beeldverwringings wat om fotogeleenthede smeek. In ideale weersomstandighede lyk dit asof die beeld in die kamoeflering van sy gereflekteerde omgewing verdwyn. Kapoor het in die 1990’s vol in die kollig gekom. Die eerste van ’n rits pryse wat hy verwerf het, was dalk die Turner-prys, die één kunsprys wat wêreldwyd mense se aandag aangryp en wat hy in 1991 gewen het. Verlede jaar was Kapoor in die nuus toe hy die regte vir Vantablack-pigment verkry het, glo die swartste skakering swart wat ooit gemaak is. Hy is tans die enigste mens wat met dié pigment mag werk.