Terug by die Barnett Newman. Wat kan ’n mens sien in ’n groot rooi skildery met links ’n blou streep en regs ’n gele. Nie veel nie, sou ’n mens maklik kon dink.
Johan Myburg
Maar dit was die einste skildery wat ene Gerard Jan van Bladeren, ’n Amsterdamse kunstenaar, in 1986 sover gekry het om dit met ’n Stanley-mes te laat aanval.
Hou ’n mens in gedagte die abstraksie waarmee Amerikaanse skilders soos Jackson Pollock en Mark Rothko vorendag gekom het, kan Newman se werk gelees word as deel van ’n beweging wat wou afreken met Wes-Europese kuns – kuns wat die Amerikaners as nostalgies en passé beskou het.
Konflik, vrees en tragedie wat ná die Tweede Wêreldoorlog lank lang skadu’s bly gooi het, het tradisionele benaderings tot (skilder)kuns onder verdenking geplaas. Soos Newman opgemerk het: “[O]ld standards of beauty were irrelevant: the sublime was all that was appropriate – an experience of enormity which might lift modern humanity out of its torpor.”
Toe die Stedelijk Museum dié betrokke Newman-skildery in 1969 aangekoop het, het dit ’n prominente plek in die museum ingeneem. En iets geproklameer van ’n ou vasteland wat sy dag gehad het. Dit was die era van Amerikaanse kuns en die ‘ervaring van die onmeetlike’.
Vir Van Bladeren was dié gedagte een te veel…
Maar dis nie waar die storie eindig nie. Kunskenners het aangevoer dat die skildery twee keer verwoes is: Die eerste keer deur Van Bladeren en die tweede keer in 1991 deur Daniel Goldreyer, die restourateur. Daar is aangevoer Goldreyer se restourasie het die subtiele skakerings in die drie kleure vernietig.
Die een hofsaak op die ander het gevolg en die Amsterdamse museumraad het besluit om die skildery in ’n stoorkamer toegesluit te hou.
In 2013 is ’n verslag oor die restourasie gepubliseer en het dit aan die lig gekom dat dele van die skildery inderdaad oorgeverf is met akriel. Vir dié verfwerk is ’n roller gebruik. Boonop is twee lae vernis aangebring – wat die skildery aanvanklik nié gehad het nie.
Die Nederlandse dagblad De Volkskrant het destyds aangevoer dat die werk ‘vir ewig geruïneer’ is.
Kyk hier na ’n video gemaak deur die Stedelijk Museum oor dié skildery:
http://www.stedelijk.nl/en/exhibitions/63824