Die herkenbaarste voorbeelde van Art Nouveau-ontwerp is seker die ingange na die Paryse metro, of die “wisteria”-lamp wat Clara Driscoll voor 1905 vir die Tiffany-ateljees in New York gemaak het
Deur JOHAN MYBURG
Onlangs vra iemand meer inligting oor Art Nouveau en Art Deco, albei kunsbewegings van die vroeë 20ste eeu. Is dit dieselfde? Indien nie, wat is die verskille?
Hoewel albei ’n Franse afkoms het en die voornaam “Art” deel, is dit twee afsonderlike rigtings, en elk met ‘n eiesoortige voorkoms.
In dié aflewering kom Art Nouveau, die oudste van die twee, aan die orde, en aanstons die jonger Art Deco.
Die Franse term Art Nouveau is in 1884 die eerste keer in die Belgiese tydskrif L’Art Moderne gebruik om die werk van Les Vingt, 20 progressiewe kunstenaars, te beskryf.
Art Nouveau (letterlik “nuwe kuns”) was ook die naam van die galery wat ene Siegfried Bing in 1895 in Parys geopen het: Maison de l’Art Nouveau (huis van die nuwe kuns). Die Engelse het die naam van dié nuwe rigting wat kuns ingeslaan het, net so oorgeneem (en dit as “aart noewou” uitgespreek). In Engeland was Art Nouveau die logiese voortsetting van die Arts and Crafts-beweging. In die res van Europa het sinonieme vir Art Nouveau ontstaan: In Duitsland en die Skandinawiese lande is van Jungendstil gepraat; in die Oostenryks-Hongaarse wêreld is na Sesessie-styl verwys en in die VSA het Louis Comfort Tiffany se betrokkenheid by dié beweging daartoe gelei dat Tiffany-styl ‘n algemene noemnaam vir dié styl geword het.
Teen die einde van die 19de eeu, met al die moontlikhede wat die moderne era gebied het, het die gangbare benaderings tot kuns ‘n bietjie tam voorgekom. Daar was behoefte aan iets nuuts vir die nuwe eeu wat voorlê, en derhalwe ‘n nuwe benadering tot ontwerp.
LEES OOK: Kuns: Op-kuns
Die invloed van die magdom uitvindings en ontwikkelings teen die draai van die eeu moet ‘n mens ook nie uit die oog verloor nie, én die optimisme wat dit meegebring het.
Teen dié agtergrond en met stilistiese invloede, van Rococo-kurwes en geometriese ontwerp tot Japanse grafiese kuns in die agterkop, was dit die plantvorms wat in die natuur voorkom wat die “iets nuuts” vir die beweging gebring het. Dié organiese en natuurlike vorms is in uiters elegante ontwerp aangepas en abstrak weergegee. Meubels, muurpapier, argitektuur, die skilderkuns, ontwerpkuns, beeldhoukuns, noem maar op: Oral het die kenmerkende vloeiende lyne opgeduik.
Boonop was die nadruk op vakmanskap en die gebruikswaarde van die voorwerpe wat gemaak is.
Die herkenbaarste voorbeelde van Art Nouveau-ontwerp is seker die ingange na die Paryse metro, of die “wisteria”-lamp wat Clara Driscoll voor 1905 vir die Tiffany-ateljees in New York gemaak het.
In Frankryk het die skilder Henri Toulouse-Lautrec die ideale van Art Nouveau beliggaam, in Engeland het William Morris se ontwerpe vir tekstiel en muurpapier die oog gesteel; in die VSA dié van Tiffany; in Spanje was dit die bouwerk van Antoni Gaudi wat uitgestaan het en in Oostenryk die skilderye van Gustav Klimt.
In hierdie rubrieke is die werk van Klimt reeds bespreek aan die hand van sy Portret van Adele Bloch Bauer (1907) wat in 2006 vir sowat R993 miljoen verkoop is – in daardie stadium die meeste wat nóg vir ‘n skildery betaal is. Dié portret word as een van die hoogtepunte in die skilderkuns van die Art Nouveau gereken.
Hier te lande was dit JH Pierneef wat in sy landskappe heelwat elemente van die Art Nouveau ingebou het. Dink maar aan sy skilderye van druipende wilgebome of die gestileerde bome en wolke-konstellasies.