Min of meer dieselfde tyd as wat Florence Phillips haar in Johannesburg beywer het vir die “opheffing van die koloniale filistyn” en die totstandkoming van ’n kunsmuseum in die stad, het Arthur B. Davies, Walt Kuhn en Walter Pach hulle in 1912 by die Association of American Painters and Sculptors (AAPS) aangesluit met die oogmerk dat dié vereniging “oor openbare smaak in kuns die leiding moet gee, eerder as om dit te volg”.
JOHAN MYBURG
Met Davies as die president en Kuhn as sekretaris het die AAPS besluit om sy eerste groot projek aan te pak: die International Exhibition of Modern Art, ’n uitstalling soos wat in New York nog nie gesien is nie. Die 69th Regiment Armory is gekies as die plek om die uitstalling aan te bied en mettertyd het die uitstalling bekend geword as The Armory Show.
Die Armory was die AAPS se eerste en enigste uitstalling, maar kunshistories was die trefkrag daarvan groter as wat enige van die lede kon vermoed.
Walter Pach, die man wat ’n leeue-aandeel gehad het in die keuse van die werk vir die 1913 Armory Show.
In September 1912 het Kuhn na Europa vertrek om galerye en kunstenaars te besoek met die oog daarop om werk te kry vir die uitstalling. In Parys het hy Pach, wat toe in dié stad gewoon het en die Franse kunswêreld goed geken het, gekry om te help. Pach se noukeurige oog het hom die brein van die Armory gemaak. Davies het hom in November by hulle aangesluit.
Benewens werk van Vincent van Gogh, Paul Cézanne, Paul Gauguin, Pablo Picasso en Edvard Munch het Kuhn later in Parys ook afgekom op die werk van Constantin Brancusi, Odilon Redon en die drie Duchamp-broers, Marcel Duchamp, Jacques Villon en Raymond Duchamp-Villon.
Drie van die werke waarop hulle besluit het vir die Armory was Henri Matisse se Souvenir de Biskra, Le madras rouge en Marcel Duchamp se Nu descendant un escalier wat hy in 1912 voltooi het en wat dieselfde jaar afgekeur is vir die Paryse Salon des Indépendants.
Marcel Duchamp se Nu descendant un escalier n° 2 (Naakfiguur wat teen ’n trap afkom, no. 2), 1912, in olie op doek (147 x 89,2 cm). Dié werk is deel van die versameling van die Philadelphia-kunsmuseum.
Henri Matisse se Le madras rouge (Die rooi madras-kopdoek), 1907, in olie op doek (100 x 81 cm). Dié skildery is opgeneem in ’n Amerikaanse versameling.
Henri Matisse se Souvenir de Biskra (Blou naakfiguur), 1907, in olie op doek (92,1 x 140,3 cm). Dié skildery is in die versameling van die Baltimore-kunsmuseum.
Onder die Amerikaners wie se werk ingesluit is, was Alfred Maurer, John Marin, Marsden Hartley en die Amerikaans gebore Britse kunstenaar James Abbott McNeill Whistler.
Op 17 Februarie 1913 is die Armory-uitstalling in New York geopen. Teen 1913 was naturalisme nog besonder gewild in Amerikaanse kunskringe en nie almal was gaande oor die kuns wat in die Armory vertoon is nie. Theodore Roosevelt het onder meer opgemerk: “Dis nie kuns nie.”
Kyk na ’n bespreking van die 1913 Armory Show en hoe die Amerikaanse publiek dié uitstalling beleef het.
[iframe width=”350″ height=”315″ src=”https://www.youtube.com/embed/qJWLoXziXC4″ frameborder=”0″ allowfullscreen=””]
Tussen die sowat 1 300 skilderye en beelde van sowat 300 kunstenaars was werke wat verteenwoordigend was van Europese strominge van daardie tyd: Impressionisme, Fauvisme, Futurisme en Kubisme. Twee derdes van die werke was van Europa en ’n derde dié van Amerikaanse kunstenaars wie se werk nog binne die realisme gestaan het.
Meer as 75 000 mense het die uitstalling in New York besoek en nog 225 000 toe dit later in Chicago en Boston vertoon is.
Die trekpleister was gewis Duchamp se naakfiguur op ’n trap. ’n Resensent van The New York Times het die werk beskryf as “’n ontploffing in ’n dakteëlfabriek”. Maande ná die uitstalling is nog in koerante daaroor geskryf; daar was resensies, opstelle en spotprente, rubrieke en grappe.
Jare later het Kuhn gesê daar is twee aspekte wat tot die Armory-uitstalling gelei het: Die begeerte om meer te weet van dit wat in die res van die wêreld gebeur en die behoefte om iets te doen aan die mufheid van Amerikaanse kuns.
Hoewel net 174 werke verkoop is, het dié kunswerke mettertyd die kern geword van verskeie vername Amerikaanse versamelings en terselfdertyd die weg vir moderne kuns in die VSA voorberei.
Dié uittreksel uit The Great Confusion: The 1913 Armory Show is geskryf, geregisseer en aangebied deur Michael Maglaras. Die wins van dié video is die konneksie wat gemaak word tussen die werk van Edward Muybridge en dié van Marcel Duchamp en Frances Picabia.