In Februarie is The Railroad, ? ets van die Amerikaanse kunstenaar Edward Hopper, op ? aanlynveiling verkoop vir net meer as R1,5 miljoen (96 000 dollar) – die hoogste prys wat nog vir ? ets op ? aanlynveiling betaal is. Dié ets is een van 50 grafiese werke wat Hopper gemaak het.
Johan Myburgh
Nietemin is Edward Hopper (1882-1967) bekender vir sy skilderye waarin stilte seëvier in die konteks van interieurs – onder meer dié van eetplekke, motelkamers en rolprentteaters.
As ? mens dan sê dat Hopper se skilderye gaan oor die kuns van stilte, moet jy byvoeg dat hy dit bewerkstellig juis deur die nuanses in die houding en postuur van mense. Die essensie (of die innerlike waarheid) omtrent die alledaagse en innerlike bestaan van gewone mense was wat hy verbeeld het. In die strak omgewings wat hy verbeeld is dit bowenal die mens, en die situasie waarin die mens van die middel-20ste eeu verkeer, wat na vore kom.
Sy figure is portrette van isolasie en alleenheid, van mense wat losgekom het van die wêreld en in hulself gekeer geraak het. In dié melancholiese tonele het Hopper daarin geslaag, dalk meer as enige ander Amerikaanse kunstenaar van sy tyd, om die tekstuur van die VSA in sy skilderye vas te vang. Daarvoor gebruik hy tipies Amerikaanse argitektuur, soos byvoorbeeld dié van die diner, dikwels só weggesny om die sielkundige spanning op te jaag en die gevoel van isolasie te verhoog.
Hopper se bekendste werk, Nighthawks, 1942, is juis een van ? laatnag-diner – saamgestel uit argitektoniese elemente van sulke eetplekke in Greenwich Village. Die gekurfde wigvorm herinner selfs aan die Flatiron-gebou.
Asof in ? rolprent kry die kyker toegang tot die helderverligte restaurant deur die tamaai-venster. Buite is die strate verlate en donker, wat bydra tot die somber stemming van die skildery.
Dalk is dit juis Hopper se hantering van lig en die manier waarop elemente belig word wat dié skildery sy besondere bekoring gee. Neonligte het in die vroeg 1940’s vir die eerste keer op die toneel gekom en die kunstenaar gebruik dié uitvinding om die restaurant as’t ware te laat uitstaan as ? baken van lig in ? donker stad.
Binne kry ? mens ? blik op geel mure, ? bleek plafon, die bokante van die kroegstoeltjies en die toonbank wat inwig. Dis dié toonbank wat die klante, al drie verlore in hul eie wêrelde, as’t ware bind.
Tussen die kyker en die vier nagwolwe in die Phillies-restaurant is ? naatlose glas, sonder enige aanduiding van ? deur wat toegang bied tot die plek, wat die wêreld binne die restaurant net so onbereikbaar maak as wat die vier mense daarbinne vir mekaar is.
Hopper se vrou, Josephine, het ? joernaal van bygehou en deurentyd aantekeninge gemaak van haar man se skilderye. Oor die figure in die restaurant het sy opgemerk: “Aantreklike jong seun in wit (jas en kep) agter die toonbank. Meisie in rooi bloese, bruin hare besig om toebroodjie te eet. Man nagwolf (met die neus van ? valk) in donker pak, staalgrys hoed, swart band, blou hemp (skoon) wat sigaret vashou. Ander figuur donker, agter links. Ligte sypaadjie buite liggroen. Oorkant donkerige rooi steengehou. Uithangbord bokant restaurant – Phillies 5c sigaar. Prentjie van sigaar. Buitekant van winkel donker, groen.”
Volgens Hopper is dié skildery aanduiding van die vervreemding wat die Tweede Wêreldoorlog teweeggebring het.
Edward Hopper, Nighthawks, 1942, olie op doek (84,1 × 152,4 cm). Die skildery is in die besit van die Institute of Chicago.
Edward Hopper se ets The Railroad, wat verkoop is vir net meer as R1,5 miljoen.
Hopper se Nighthawks is nie net een van die VSA se bekendste skilderye nie, maar ook een van dié wat op verskeie maniere geparodieer is. Miskien juis omdat dit so ikonies en geliefd is.
In die TV-reeks That 70’s Show in die episode met die titel “Drive In” is daar ? toneel waarin Red en Kitty Forman in ? restaurant met die naam Phillies sit. Kyk gerus daarna.
[iframe width=”420″ height=”315″ src=”https://www.youtube.com/embed/jDKick0Fy8E” frameborder=”0″ allowfullscreen=””]
En hier is ? kort huldeblyk aan Hopper se skildery met musiek deur Tom Waits en ? hele rits legendariese Amerikaanse nagwolwe. Kyk hoeveel van hulle jy kan herken.
[iframe width=”560″ height=”315″ src=”https://www.youtube.com/embed/4OAeMGJl-OM” frameborder=”0″ allowfullscreen=””]
In 2014 het die regisseur Gustav Deutsch ? rolprent gemaak met 13 Hopper-skilderye as vertrekpunt. Hier is die lokprent van Deutsch se Shirley: Visions of Reality, die verhaal van ? vrou wie se gedagtes en emosies afspeel aan die hand van ? snit uit die Amerikaanse geskiedenis.