Alfredo Jaar het sy oog gevestig op militêre konflikte, politieke korrupsie en die magswanbalans tussen die ryk en ontwikkelende lande.
Welcome to Kalakuta Republic, ? solo-uitstalling van die Chileense kunstenaar Alfredo Jaar, is tot 23 Maart te sien in die Goodman-galery in Johannesburg.
Die uitstallingtitel verwys na die blyplek van die Nigeriese menseregteaktivis, musikant en Afrobeat-baanbreker Fela Kuti, of ook net Fela, wat in 1997 dood is. Fela het dié kommune in Lagos, waar hy, sy gesin en orkeslede gewoon het, onafhanklik van Nigerië verklaar nadat hy in 1970 van die VSA teruggekeer het.
Dié kommune was in 1977 die teiken van Nigeriese regering nadat Fela die album Zombie uitgereik het. Dié album, wat oombliklik ‘n treffer was, was ‘n openlike aanval op die Nigeriese soldate, een waarin Kuti “zombie” gebruik het as metafoor vir die werkwyse van die Nigeriese weermag.
Die regering het 1 000 soldate ontplooi in ‘n aanval op Kalakuta Republic. Die plek is afgebrand, Fela is in die aanval beseer en sy bejaarde ma, wat oorkant sy kommune gewoon het, is dood toe sy uit ‘n venster gegooi is.
Fela se ateljee en toerusting is in die aanval vernietig.
Jaar het Fela in die 1980’s ontmoet en Kalakuta Republic by verskeie geleenthede besoek.
In dié uitstalling bring Jaar hulde aan Fela, maar ook aan verskeie Afrika-intellektuele en kultuurleiers soos Frantz Fanon, Amílcar Cabral en Patrice Lumumba.
Die uitstalling in die Goodman-galery bestaan uit ou en nuwe foto’s waarin Jaar die “politiek van die visuele beeld” en rasverteenwoordiging in die VSA en wêreldwyd as temas neem. Dit is ‘n herhalende tema in Jaar se werk.
Dié uitstalling val saam met ‘n video-installasie in die Wits-kunsmuseum in Braamfontein. Dié werk, The Sound of Silence, het Jaar in 2006 gemaak in antwoord op die Suid-Afrikaanse fotojoernalis Kevin Carter se beroemde foto van ‘n verhongerde Soedanese kind. Die Pulitzer-prys vir fotografie is in 1994 aan Carter toegeken vir dié foto.
Jaar se eerste solo-uitstalling in die Goodman-galery, Gold in the Morning, is in 2012 aangebied. Dié reeks foto’s in ligkaste is in 1986 vertoon op die Venesiese Biënnale. Vir dié reeks het Jaar foto’s geneem van werkers in Serra Pelada, ‘n oopgroefmyn in die noordooste van Brasilië. Die groef word met die hand gegrawe en meer as 80 000 werkers (garimpeiros) word gelok om in haglike toestande daar te myn.
Hoewel Jaar bekend is vir sy fotografie het dié argitek en rolprentmaker ook dié medium verruim in dié dat hy veel meer installasiekunstenaar is as tradisionele fotograaf.
Sy werk sluit in sy ses jaar lange The Rwanda Project waarin hy die Rwandese volksmoord van 1994 gedokumenteer het. Hy het ook ‘n rits openbare intervensie-werke op sy kerfstok, soos The Skoghall Konsthall, ‘n een dag papiermuseum in Swede, ‘n elektroniese advertensie-uithangbord genoem A Logo or America, en The Cloud, ‘n performance-projek aan albei kante van die Mexikaans-Amerikaanse grens.
Uit dié voorbeelde blyk Jaar se belangstelling in en betrokkenheid by gemeenskapgebaseerde prokjekte, spesifiek die vlak waartoe mense gedesensitiseer is ten opsigte van foto’s en die beperking wat foto’s het om die verskrikking van goed soos volksmoorde, epidemies en hongersnood te verbeeld. Daarmee saam het hy sy oog gevestig op militêre konflikte, politieke korrupsie en die magswanbalans tussen die ryk en ontwikkelende lande.
Jaar is in 1956 in Santiago in Chile gebore, maar het as kind in Martinique grootgeword. Op 16 is hy terug na Chile. Hy woon en werk tans in New York.
[iframe width=”350″ height=”197″ src=”https://www.youtube.com/embed/EjvRtNPVzgs?rel=0″ frameborder=”0″ allowfullscreen=””]
Kyk na ‘n video van 30 minute waarin Alfredo Jaar oor sy werk praat, oor die media, oor die manier waarop ons
kyk sonder om te sien. Hy praat onder meer oor Life en Newsweek se voorbladdekking van Afrika, die
gevangenskap van Osama bin Laden en les bes oor media-onverskilligheid.