Die Britse Turner-kunsprys is die één prys wat jaarliks die kunswêreld aan die gons het. So het ‘n kunskritikus van die Evening Standard byvoorbeeld opgemerk “die Turner-prys as jaarlikse klug in November is nou al net so onafwendbaar as die pantomime tydens Kersfees”.
Op die prysaand vroeg Desember in die Tramway in Glasgow was dit toe ook nie ‘n kunstenaar wat as wenner van die 2015 Turner-prys aangewys is nie, maar ‘n kollektief van 18 lede wat bekend is vir argitektuur- en ontwerpprojekte.
Assemble, soos die kollektief bekend staan, se oogmerk is om betrokke te raak by gemeenskapsprojekte met ‘n blywende effek – soos die Granby Four Street-projek in Liverpool, ‘n klomp huise wat dateer van die 1900’s en wat die inwoners met mag en mening wou red voor die slopers se masjiene.
Die kollektief het in 2010 tot stand gekom toe die groepie afstudeer het aan Cambridge. Hoewel die meerderheid argitektuur gestudeer het, is daar ook dié lede met ‘n agtergrond in Engels, geskiedenis, filosofie en konstruksie.
Hulle praktykbenadering is om aandag te gee aan “die tipiese diskonneksie tussen die publiek en die proses waarvolgens ontwikkeling tot stand kom”.
Dit is juis hierdie “voetsoolvlak-benadering tot opknapping, stadsbeplanning en ontwikkeling in ‘n tyd van korporatiewe verburgering” wat die beoordelaars beïndruk het.
Die beoordelaars was Alistair Hudson, direkteur van die Middlesbrough-instituut vir moderne kuns; Jan Verwoert, kunskritikus en kurator; Joanna Mytkowska, direkteur van die Warsaw-museum vir moderne kuns; Kyla McDonald, artistieke direkteur van die Glasgow-beeldhouateljees en Alex Farquharson, direkteur van die Tate Britain.
Die ander benoemdes was die Britse multimedia-kunstenaar Bonnie Camplin, die Kanadese klank en performance-kunstenaar Janice Kerbel, en die Duits beeldhouer, installassie- en collage-kunstenaar Nicole Wermers.
Assemble is vroeg in die aanloop tot die aankondiging al gesien as die gunsteling om die prys te wen.
Kort voordat die kollektief die Turner ingepalm het, het Assemble aangekondig dat hy ‘n opdrag van Art on the Underground, die amptelike kunsprogram van Transport for London gekry het, vir die Seven Sisters-ondergrondsetreinstasie. Dié projek is deel van Underline, ‘n reeks opdragte op die Victoria-lyn.
Die kollektief het in die media planne bekendgemaak om vir dié projekte gebruik te maak van die dienste van keramiekkunsternaars, stasiepersoneel en plaaslike inwoners om deel te neem aan eksperimente soos die maak van teëls en glasuring. Dié eksperimentering klop met Assemble se sosiaal-geskoeide benadering tot projekte. (Hoor ‘n mens iets van ‘n herlewing van William Morris en die Britse Arts and Crafts Movement van die laat 19de eeu’n)
Die feit dat Assemble vanjaar as die wenner gekroon is, kan gelees word as ‘n aanduiding van wat in die kunswêreld besig is om te gebeur. Aan die een kant is die galery met kunsobjekte (soos byvoorbeeld skilderye en beelde) wat die kunsmark voed nie meer in die sentrum nie, en aan die ander kant is dit die openbare ruimte, wat weliswaar al meer privaat-georiënteerd raak, wat die aandag toenemend trek.
Assemble se werk wat in die Tramway in Glasgow vertoon word, is nie die “wenwerk” nie, maar eerder ‘n model of ‘n aanduiding van die werk wat gedoen word “tussen regte mense in die regte wêreld”.
‘n Nadeel van gemeenskapsintervensies soos dié van Assemble, hoe goed bedoel ook al, is dat owerhede maklik hul verantwoordelik kan afskuif op ‘n private sektor.
Die lede van Assemble by die aankondiging van die 2015 Turner-prys in Glasgow, Skotland. Foto: Ian Watson
Kyk na die video gemaak deur Tate oor Assemble:
[iframe width=”350″ height=”197″ src=”https://www.youtube.com/embed/OsSD9ZutRzU?rel=0″ frameborder=”0″ allowfullscreen=””]
Meer oor die Turner-prys
Die Turner-prys word jaarliks toegeken aan ‘n Britse kunstenaar jonger as 50 vir ‘n uitmuntende uitstalling of ander voorstelling van sy of haar (of nou ook hulle) werk in die voorafgaande jaar.
Die prysaand vind al om die ander jaar in ‘n Britse stad anders as Londen plaas. Die 2015-prysaand is in die Tramway in Glasgow in Skotland aangebied. Die Tramway is ‘n uitstalruimte wat wêreldwyd gereken word as ‘n ideale plek om kontemporêre kunsprojekte aan te bied.
Die kortlys het vir dié kompetisie bestaan uit die Britse multimedia-kunstenaar Bonnie Camplin, die Kanadese klank en performance-kunstenaar Janice Kerbel, en die Duits gebore beeldhouer, installassie- en collage-kunstenaar Nicole Wermers.
Hoewel die prysgeld sowat R800 000 is, wat die Turner in internasionale terme een van die kleinste kunspryse maak, het dié prys ‘n prestige-waarde wat kwalik in monetêre terme omgereken kan word.
Vorige wenners sluit in Damien Hirst, Anish Kapoor en Antony Gormley, drie kunstenaars wat deesdae gereken word onder die tien rykste kunstenaars.
Selfs al was Tracy Emin nie ‘n wenner nie, het haar benoeming in 1999 bygedra tot haar statuur as kunstenaar. Steve McQueen is daardie jaar aangewys as die wenner hoewel Emin se installasie My Bed, ‘n dubbelbed met bevlekte lakens en langs die bed op die vloer onderklere, kondome, pantoffels en leë drankbottels, besonder baie media-aandag ontvang het.
Daar is ook … die Turnip-prys
Soos in vorige jare is die Turnip-prys in dieselfde tyd as die Turner-prys aangekondig. Dié tong-in-die-kies-prys word as teenhanger van die Turner gesien en is niks meer nie as ‘n middelvinger in die rigting van kontemporêre kuns nie.
Vanjaar se finaliste was Pat McGroin se Hung like a Donkey, ‘n klein figuur van ‘n donkie wat as ‘n hangertjie aan ‘n silwer toutjie om die nek gedra kan word.