In Vrouekeur van 29 Januarie gee Johan Myburg sy indrukke van die 2015 Turner-prys wat in Desember toegeken is aan Assemble, ? kollektief wat gemeenskapsprojekte op sy agenda het. Dis die eerste keer dat die wenner van dié gesogte kunskompetisie nié ‘n kunstenaar of kunstenaars is nie. Die inligting hier onder is aanvullend tot die rubriek in Vrouekeur
Die Turner-prys word jaarliks toegeken aan ‘n Britse kunstenaar jonger as 50 vir ‘n uitmuntende uitstalling of ander voorstelling van sy of haar (of nou ook hulle) werk in die voorafgaande jaar.
Die prysaand vind al om die ander jaar in ‘n Britse stad anders as Londen plaas. Die 2015-prysaand is in die Tramway in Glasgow in Skotland aangebied. Die Tramway is ‘n uitstalruimte wat wêreldwyd gereken word as ‘n ideale plek om kontemporêre kunsprojekte aan te bied.
Die kortlys het vir dié kompetisie bestaan uit die Britse multimedia-kunstenaar Bonnie Camplin, die Kanadese klank en performance-kunstenaar Janice Kerbel, en die Duits gebore beeldhouer, installassie- en collage-kunstenaar Nicole Wermers.
Hoewel die prysgeld sowat R800 000 is, wat die Turner in internasionale terme een van die kleinste kunspryse maak, het dié prys ‘n prestige-waarde wat kwalik in monetêre terme omgereken kan word.
Vorige wenners sluit in Damien Hirst, Anish Kapoor en Antony Gormley, drie kunstenaars wat deesdae gereken word onder die tien rykste kunstenaars.
Selfs al was Tracy Emin nie ‘n wenner nie, het haar benoeming in 1999 bygedra tot haar statuur as kunstenaar. Steve McQueen is daardie jaar aangewys as die wenner hoewel Emin se installasie My Bed, ‘n dubbelbed met bevlekte lakens en langs die bed op die vloer onderklere, kondome, pantoffels en leë drankbottels, besonder baie media-aandag ontvang het.
Die lede van Assemble by die aankondiging van die 2015 Turner-prys in Glasgow, Skotland. Foto: Ian Watson
Kyk na die video gemaak deur Tate oor Assemble:
[iframe width=”350″ height=”197″ src=”https://www.youtube.com/embed/OsSD9ZutRzU?rel=0″ frameborder=”0″ allowfullscreen=””]
Turnip Prys
Soos in vorige jare is die Turnip-prys in dieselfde tyd as die Turner-prys aangekondig. Dié tong-in-die-kies-prys word as teenhanger van die Turner gesien en is niks meer nie as ‘n middelvinger in die rigting van kontemporêre kuns nie.
Vanjaar se finaliste was Pat McGroin se Hung like a Donkey, ‘n klein figuur van ‘n donkie wat as ‘n hangertjie aan ‘n silwer toutjie om die nek gedra kan word.