In die 17de en vroeg-18de eeu was die Franse familienaam Couperin sinoniem met musiek, musiekonderrig en komposisie. Benewens twee befaamde komponiste was daar in dié familie ook ’n sanger of twee, orreliste en klavesimbelspelers.
Johan Myburg
Louis Couperin Die eerste van die beroemde Couperin-komponiste was Louis Couperin (1626-1661). In sy kort loopbaan van tien jaar is nie een van Couperin se komposisies gepubliseer nie. Nietemin het heelwat van dié Franse komponis van die middel-Barok (1630-1680) se manuskripte behoue gebly.
In dié 200 of so handgeskrewe stukke het Couperin sy naam gevestig en ’n beduidende bydrae gemaak tot Franse musiek vir die orrel en die klavesimbel.
Luister hoe die klavesimbelspeler Richard Egarr die Passacaille uit Louis Couperin se Suite in C speel
Couperin was op 20-jarige ouderdom ’n kranige klavesimbelspeler en orrelis. Jacques Champion de Chambonnières, Franse klavesimbelspeler aan die hof van die Franse koning, het sy talente raakgesien en hom aan die hof voorgestel. Couperin het na Parys verhuis en in 1653 orrelis geword van die kerk van Saint-Gervais.
Aude Heurtematte agter die historiese orrel van Saint-Gervais in Parys. Hy speel die Fantaisie van Louis Couperin
[iframe width=”350″ height=”263″ frameborder=”0″ allowfullscreen=”” src=”https://www.youtube.com/embed/m_rkBR3Kdcs?rel=0″]
Sy broers, Charles en François, was eweneens knap musici. Charles het ná Louis Couperin se dood die orrelpos by Saint-Gervais oorgeneem. Sy seun, François Couperin (1668-1733), het later die komponis geword wat bekend gestaan het as Couperin le Grand.
François Couperin
François Couperin (1668-1733) het musiekles van sy pa ontvang, maar dié is in 1679 dood. Ná sy pa se dood het die orrelis Jacques-Denis Thomelin as leermeester die jong Couperin in sy sy sorg geneem en soos ’n tweede pa vir hom geword. Op 18 het hy die orrelpos van Saint-Gervais gekry.
Hoewel Couperin later vir die koningshuis gewerk het, het hy die grootste deel van sy inkomste verdien uit onderrig en komposisie. Dit verduidelik die aantal klavesimbel-suites wat hy vir amateurs geskryf het.
Couperin het nie net Arcangelo Corelli se trio-sonate-vorm in Frankryk bekendgestel nie, maar was ook onomwonde oor die invloed wat die Italianer op hom gehad het. Een van Couperin se groot deugde was dat hy die Franse en Italiaanse benaderings in sy musiek vermeng het.
Sy meer as 230 individuele stukke vir klavesimbel (vir solo-instrument of as klein kamerwerke) het wyd byval gevind: ook by Johann Sebastian Bach en heelwat later by Richard Wagner en Maurice Ravel. Ravel se Le tombeau de Couperin (1914/17) is geskryf, soos hy gesê het, as huldeblyk aan die eie aard van die Franse Barok-suite.
Kyk na ’n opname van die pianis Angela Hewitt in ’n uitvoering van Maurice Ravel se Le tombeau de Couperin in die Royal Conservatory of Music in Toronto se Koerner-saal.
Die kerk van Saint-Gervais
Die kerk van Saint-Gervais waar die Couperins vir twee eeue lank orreliste was, is in Parys se Marais-distrik, oos van die Hôtel de Ville.
Die kerk in die gotiese styl is gebou in 1494 en die orrel is steeds dieselfde instrument waarop die Couperins gespeel het. Die Franse Barok-orrel is gebou deur die befaamde orrelbouers van die tyd, François-Henri Clicquot, Louis-Alexandre Clicquot en Robert Clicquot.
’n Video van die interieur van die kerk van Saint-Gervais (in Frans die Église Saint-Gervais-et-Saint-Protais) in Parys