Al is ‘n mens hoegenaamd nie vertroud met enige van die ander agt simfonieë wat Beethoven geskryf het nie, ken almal waarskynlik die ta ta ta taaa, ta ta ta taaa waarmee die Vyfde simfonie begin.
Al is dit ? herinnering uit die disko-weergawe van Walter Murphy en die Big Apple Band se “A Fifth of Beethoven” wat in die 1977-fliek Saturday Night Fever gebruik is.
Kyk na ‘n greep uit Saturday Night Fever, die 1977-fliek van John Badham met John Travolta as Tony Manero waarin ‘n disko-weergawe van Beethoven se Vyfde Simfonie gebruik word: bekend as “A Fifth of Beethoven” van Walter Murphy en die Big Apple Band.
[iframe width=”350″ height=”263″ src=”https://www.youtube.com/embed/KSXC_lPWoyo?rel=0″ frameborder=”0″ allowfullscreen=””]
In die 1970’s, toe simfoniese rock hoogty gevier het, het Beethoven se Vyfde nogal wyd opgeduik, soos in die Britse Electric Light Orchestra se weergawe van Chuck Berry se “Roll over Beethoven”. Die openingsakkoorde van dié simfonie kom voor aan die begin en die einde van dié treffer.
[iframe width=”350″ height=”263″ src=”https://www.youtube.com/embed/PLNR4xfh1Qc?rel=0″ frameborder=”0″ allowfullscreen=””]
Maar dis ook die eerste beweging van dié Simfonie no. 5 in c, op. 67, uitgevoer deur die Philharmonia Orchestra onder leiding van Otto Klemperer, wat ingesluit is op die Voyager Golden Record wat in 1977 die ruimte ingeskiet is aan boord van die Voyager-ruimtetuig. As buiteruimtelike wesens op dié tuig afkom, sou hulle ook kon kennis maak met dié simfonie.
Ludwig van Beethoven (1770-1827) was 34 toe hy aan dié simfonie begin werk het, in die tyd toe hy begin doof raak het.
Die eerste uitvoering van dié simfonie in die Theater an der Wien in Wene was nie ‘n sukses nie. Beethoven was op die podium en met net een repetisie-oefening voor die uitvoering op 22 Desember 1808 was die orkes nie heeltemal vertroud met dié nuwe werk nie. Die simfonie was deel van ‘n program van Beethoven-debuutwerke wat meer as vier uur geduur het.
Die eerste werk in dié program was die Simfonie no. 6 in F, op. 68 (die sogenaamde Pastorale simfonie).
Anders as die Klassieke simfonie met sy gebruiklike vier bewegings het dié simfonie vyf en ook beskrywende titels by elk van die bewegings. Nietemin het Beethoven benadruk dat die titels nie letterlik geneem moet word nie, maar eerder aanduiding is van “uitdrukking van gevoel as blote beskrywing”.
Hoewel Beethoven, of dan minstens die vroeë Beethoven, ‘n eksponent was van die Klassieke era, het die rewolusionêre element in sy musiek met klem op vrye, impulsiewe, misterieuse en begeesterde uitdrukking die weg gebaan vir die Romantiek.
Soos die skrywer en tydgenoot van Beethoven, E.T.A. Hoffmann (1776-1822), opgemerk het: “Beethoven se musiek het aspekte soos vrees, verwondering, afgryse en lyding in rat gekry en die oneindige gemis van die Romantiek wakker gemaak. Hy is derhalwe volledig ‘n komponis van die Romantiek.”
Hoe dit ook al is, ná Beethoven kon musiek nie meer dieselfde wees nie. Hy het die deure wyd oopgegooi na ‘n nuwe wêreld.
Luister na dié Beethoven
Daar bestaan wonderlike opnames van Beethoven se vyf Klavierkonserte. Soliste wat ‘n mens kan oorweeg is onder andere Wilhelm Kempff, Rudolf Serkin, Claudio Arrau, Emil Gilels, Vladimir Ashkenazy, Marta Argerich, Radu Lupu en Murray Perahia.
Verskeie CD-stelle met al nege Beethoven-simfonieë is beskikbaar – onder meer dié van Herbert von Karajan met die Berlynse Filharmonie, sir Georg Solti met die Chicago Simfonie-orkes en dié van Kurt Mazur met die Leipzig Gewandhaus. ‘n Mens kan ook The Hanover Band se opname op oorspronklike instrumente, sonder ‘n dirigent, oorweeg.
As jy na die grootste Beethoven-“treffers” wil luister oorweeg die volgende:
- Simfonie no. 6 in F, op. 68 (Pastoraal)
- Simfonie no. 9 in d, op. 125
- Klavierkonsert no. 5 in E-mol, op. 73 (Keiserkonsert)
- Sonate no. 14 in c-kruis “Quasi una fantasia”, op. 27, no. 2 (Maanlig-sonate)
- Konsert vir viool, tjello en klavier in C, op. 56 (Tripelkonsert)
- Fidelio, die opera wat in 1805 vir die eerste keer opgevoer is
- As jy jou luisterervaring wil verruim, oorweeg dan die volgende:
- Klaviertrio in D, op. 70, no. 1 (“Spook-trio”)
- Klaviersonate no. 32 in c, op. 111 (die laaste van die 32-sonates)
- Vioolsonate no. 9, op. 47 (Kreutzer)
- Tjellosonate no. 3 in A, op. 69
- Strykkwartet no. 13 in B-mol, op. 130