In Vrouekeur van 15 Januarie skryf Johan Myburg oor enkele aspekte van Ludwig van Beethoven se musiek. Die inligting hier onder is ter aanvulling van dié rubriek
JOHAN MYBURG
In die 1970’s, toe simfoniese rock hoogty gevier het, het Beethoven se Vyfde nogal wyd opgeduik, soos in die Britse Electric Light Orchestra se weergawe van Chuck Berry se “Roll over Beethoven”. Die openingsakkoorde van dié simfonie kom voor aan die begin en die einde van dié treffer.
[iframe width=”350″ height=”263″ src=”https://www.youtube.com/embed/PLNR4xfh1Qc” frameborder=”0″ allowfullscreen=””]
Kyk na ? greep uit Saturday Night Fever, die 1977-fliek van John Badham met John Travolta as Tony Manero waarin ‘n disko-weergawe van Beethoven se Vyfde Simfonie gebruik word: bekend as “A Fifth of Beethoven” van Walter Murphy en die Big Apple Band.
[iframe width=”350″ height=”263″ src=”https://www.youtube.com/embed/KSXC_lPWoyo” frameborder=”0″ allowfullscreen=””]
Daar bestaan wonderlike opnames van Beethoven se vyf Klavierkonserte. Soliste wat ‘n mens kan oorweeg is onder andere Wilhelm Kempff, Rudolf Serkin, Claudio Arrau, Emil Gilels, Vladimir Ashkenazy, Marta Argerich, Radu Lupu en Murray Perahia.
Verskeie CD-stelle met al nege Beethoven-simfonieë is beskikbaar – onder meer dié van Herbert von Karajan met die Berlynse Filharmonie, sir Georg Solti met die Chicago Simfonie-orkes en dié van Kurt Mazur met die Leipzig Gewandhaus. ‘n Mens kan ook The Hanover Band se opname op oorspronklike instrumente, sonder ‘n dirigent, oorweeg.
As jy na die grootste Beethoven-“treffers” wil luister oorweeg die volgende:
- Simfonie no. 6 in F, op. 68 (Pastoraal)
- Simfonie no. 9 in d, op. 125
- Klavierkonsert no. 5 in E-mol, op. 73 (Keiserkonsert)
- Sonate no. 14 in c-kruis “Quasi una fantasia”, op. 27, no. 2 (Maanlig-sonate)
- Konsert vir viool, tjello en klavier in C, op. 56 (Tripelkonsert)
- Fidelio, die opera wat in 1805 vir die eerste keer opgevoer is
- As jy jou luisterervaring wil verruim, oorweeg dan die volgende:
- Klaviertrio in D, op. 70, no. 1 (“Spook-trio”)
- Klaviersonate no. 32 in c, op. 111 (die laaste van die 32-sonates)
- Vioolsonate no.9, op. 47 (Kreutzer)
- Tjellosonate no. 3 in A, op. 69
- Strykkwartet no. 13 in B-mol, op. 130