In die musiekgeskiedenis is die tyd van 1680 tot 1750 alom bekend as die Laat-Barok-periode.
In die musiekgeskiedenis is die tyd van 1680 tot 1750 alom bekend as die Laat-Barok-periode. Die eerste deel van dié periode is nog deur die Italianers oorheers, maar teen die middel van die 18de eeu het die fokus na Duitsland en via dié land ook na Engeland verskuif.
Een van die vernaamste redes vir dié skuif is die ontwikkeling in die Duitse orrelboutegniek. Tussen 1650 en 1750 het Duitsland die kruin van orrelbou bereik en die een na die ander katedraal en kerk het kragtige orrels bestel wat geleentheid kon bied vir virtuositeit. Dis egter nie altyd maklik om te bepaal wat die aanleidende faktor was nie: Was dit komponiste wat groter orrels nodig gehad het of was dit die omvang van die orrels wat meer van die komponiste geverg het?
Hierdie is die rekonstruksie van die fasade van die Silbermann-orrel in die Frauenkirche in Dresden, Duitsland. JS Bach het op 1 Desember 1736, ’n week ná die installasie van die orrel, ’n uitvoering in dié kerk gegee. Die bouwerk aan dié kerk het van 1726 tot 1743 geduur. Dis tydens die bombardering van Dresden in die Tweede Wêreldoorlog verwoes. Die restourasiewerk is in 2004 voltooi. Daar is besluit om nié die orrel van Gottfried Silbermann (1683-1753) te herbou nie, ondanks die feit dat die oorspronklike ontwerpdokumente beskikbaar is. ’n Orrel van die Duitse orrelbouer Daniel Kern is in 2005 in die kerk voltooi.
In Duitsland het orrelmusiek hoofsaaklik bestaan uit twee soorte: dié geskoei op protestantse korale en die sogenaamde improvisatoriese musiek soos preludes, fugas, fantasias en tokkates. Die belangrikste eksponente was Dieterich Buxtehude (1637-1707), Johann Pachelbel (1653-1706), Georg Philipp Telemann (1681-1767) en Johann Sebastian Bach (1685-1750).
Bach se belangstelling in die musiek van die Italianaanse komponiste het daartoe gelei dat hy hulle musiek gaan oorskryf het. Talle van Vivaldi se konserte het hy byvoorbeeld gereduseer vir orrel of klavesimbel. In sommige gevalle het hy die kontrapunt versterk en dikwels binnestemme uitgebou.
Met die orrel as vernaamste instrument was die prelude en fuga teen die middel van die 18de eeu gevestig in Duitsland. ’n Fuga is ’n musiekvorm waarin meerstemmigheid en gevarieerde herhaling ’n leidende rol speel. Die fuga het die virtuositeit van die tokkate gekombineer met ’n meer gestrenge benadering waarin dieselfde melodie (subjek) in verskillende polifoniese “stemme” weer ingebring word met reëlmatige intervalle.
Bach se 48 preludes en fugas in die versameling Das Wohltemperierte Klavier (die gestemde klavier/klawerbord) van 1722 in al 24 majeur- en mineur-sleutels is die duidelikste voorbeeld hiervan.
Luister hier na Das Wohltemperierte Klavier
[iframe width=”350″ height=”197″ frameborder=”0″ allowfullscreen=”” src=”https://www.youtube.com/embed/HlXDJhLeShg”]
Maar dit was veral die Duitse laat-Barok se bydrae tot die tradisie van religieuse musiek wat uitstaan in die musiekgeskiedenis. In navolging van Martin Luther se nadruk op liedere wat die kerkvolk in eredienste kon sing, het die komponiste van die 18de eeu vorendag gekom met kantates, meerstemmige uitbouings op protestantse liedere.
Van hierdie kantates is Bach se “Wachet auf” waarskynlik die bekendste. Anders as die koormusiek van die Renaissance het “Wachet auf” onderdele wat suiwer instrumentaal is.
“Wachet auf ruft uns die Stimme” BWV140 van Johann Sebastian Bach met Tom Koopman voor die Amsterdam Barokorkes en –koor. Die soliste is Lisa Larsson (sopraan), Lothat Odinius (tenoor) en Klaus Mertens (bas).
Op groter skaal deel die oratorium die vorm van die kantate. Hoewel die meeste Duitse kantates vir kerkgebruik geskryf is, het oratoriums ook sekulêre onderwerpe ingesluit.
George Friedrich Handel
George Friedrich Handel (1685-1759) se Messiah (1741), met die lewe van Christus as onderwerp, is in kerke uitgevoer maar eweneens in konsertsale. Onder sy sekulêre oratoriums tel Semele (1744) en Hercules (1745).
Hoewel Handel in Duitsland gebore is as Georg Friedrich Händel, het hy in Engeland roem behaal as komponis. In 1710 is hy aangestel as Kapellmeister van die Duitse prins George van Hanover wat in 1714 koning George I van Engeland en Ierland geword het.
In 1712 het hy hom in Engeland gevestig.
Anders as Bach het Handel wel operas geskryf, onder meer Rinaldo (1711), sy eerste opera in Engeland, en Serse (ook genoem Xerxes) (1738).
[iframe width=”350″ height=”197″ frameborder=”0″ allowfullscreen=”” src=”https://www.youtube.com/embed/WuSiuMuBLhM”]
Die aria “Lascia ch’io pianga” uit George Friedrich Handel se opera Rinaldo. Dié sekwens kom uit Farinelli, die 1994-rolprent gemaak deur Gérard Corbiau. Die fliek is losweg geskoei op die lewe van Farinelli (Carlo Broschi, 1705–1782), die castrato van die laat-Barok. Stefano Dionisi, die akteur wat die rol van Farinelli vertolk, se praatstem is in die prent gebruik, maar die sangstem is dié van die Poolse sopraan Ewa Malas-Godlewska en die kontratenoor Derek Lee Ragin. Dié twee stemme is apart opgeneeem en later digital gemeng om die kwaliteit van ’n castrato te verkry. Die musiekregisseur was die Franse klavesimbelspeler en dirigent Christophe Rousset.