In Vrouekeur van 6 November word die tyd van 1680 tot 1750, alom bekend as die Laat-Barok-periode, bespreek.
JOHAN MYBURG
In Vrouekeur van 6 November word die tyd van 1680 tot 1750, alom bekend as die Laat-Barok-periode, bespreek. Die inligting wat hier gegee word moet in samehang met dié rubriek in Vrouekeur gelees word.
Hierdie is die rekonstruksie van die fasade van die Silbermann-orrel in die Frauenkirche in Dresden, Duitsland. JS Bach het op 1 Desember 1736, ’n week ná die installasie van die orrel, ’n uitvoering in dié kerk gegee. Die bouwerk aan dié kerk het van 1726 tot 1743 geduur. Dis tydens die bombardering van Dresden in die Tweede Wêreldoorlog verwoes. Die restourasiewerk is in 2004 voltooi. Daar is besluit om nié die orrel van Gottfried Silbermann (1683-1753) te herbou nie, ondanks die feit dat die oorspronklike ontwerpdokumente beskikbaar is. ’n Orrel van die Duitse orrelbouer Daniel Kern is in 2005 in die kerk voltooi.
In Duitsland het orrelmusiek hoofsaaklik bestaan uit twee soorte: dié geskoei op protestantse korale en die sogenaamde improvisatoriese musiek soos preludes, fugas, fantasias en tokkates. Die belangrikste eksponente was Dieterich Buxtehude (1637-1707), Johann Pachelbel (1653-1706), Georg Philipp Telemann (1681-1767) en Johann Sebastian Bach (1685-1750).
Bach se 48 preludes en fugas in die versameling Das Wohltemperierte Klavier (die gestemde klavier/klawerbord) van 1722 in al 24 majeur- en mineur-sleutels is die duidelikste voorbeeld hiervan.
Luister hier na Das Wohltemperierte Klavier
Luister hier na “Wachet auf ruft uns die Stimme” BWV140 van Johann Sebastian Bach met Tom Koopman voor die Amsterdam Barokorkes en -koor. Die soliste is Lisa Larsson (sopraan), Lothat Odinius (tenoor) en Klaus Mertens (bas).
George Friedrich Handel
George Friedrich Handel (1685-1759) se Messiah (1741), met die lewe van Christus as onderwerp, is in kerke uitgevoer maar eweneens in konsertsale. Onder sy sekulêre oratoriums tel Semele (1744) en Hercules (1745).
Die aria “Lascia ch’io pianga” uit George Friedrich Handel se opera Rinaldo. Dié sekwens kom uit Farinelli, die 1994-rolprent gemaak deur Gérard Corbiau. Die fliek is losweg geskoei op die lewe van Farinelli (Carlo Broschi, 1705–1782), die castrato van die laat-Barok. Stefano Dionisi, die akteur wat die rol van Farinelli vertolk, se praatstem is in die prent gebruik, maar die sangstem is dié van die Poolse sopraan Ewa Malas-Godlewska en die kontratenoor Derek Lee Ragin. Dié twee stemme is apart opgeneeem en later digital gemeng om die kwaliteit van ’n castrato te verkry. Die musiekregisseur was die Franse klavesimbelspeler en dirigent Christophe Rousset.