“Bach is die begin en die einde van alle musiek,” het die komponis Max Reger eens opgemerk. “Bestudeer Bach: daar kry jy alles,” het Johannes Brahms gesê. En Ludwig von Beethoven se siening was: “Nie ’n stroompie nie, maar ’n oseaan (Nicht Bach, sondern Meer).”
JOHAN MYBURG
Dit is altyd ’n aanvegbare stelling om iemand as die “beste” of die “grootste” te bestempel. In dié reeks het heelparty baanbreker-komponiste reeds na vore getree. Maar as ’n mens dan die woord vat van Reger, Brahms en Beethoven: Wat is dit dan wat Johann Sebastian Bach (1685-1750) so ’n uitsonderlike komponis maak?
Dié vraag kan ’n mens ook op verskillende maniere antwoord. Maar dit is waarskynlik Bach se interpretasie van harmonie (vir Beethoven was Bach die “vader van harmonie”) wat hom so ’n reus maak. Volgens Bach se eerste biograaf, Johann Nikolaus Forkel (1749-1818), het Bach op vroeë ouderdom afgesien van die idee dat komposisie bepaal word deur klank. Dit het vir hom oor meer gegaan as die regte noot.
Vir hom was denke en uitdrukking belangriker as die material. Harmonie was dus nie blote begeleiding vir ’n eenvoudige melodie nie, maar ’n manier om uitdrukking te gee aan gevoel. Deur verskillende melodieë te vleg het hy die grense van musiek verskuif om uitdrukking te gee aan die rykdom van seggingsmoontlikhede.
Johann Sebastian Bach
Bach is in Eisenach in Duitsland gebore, maar anders as sy land- en tydgenoot, George Friedrich Handel (1685-1759), het hy nooit ver van sy geboortedorp gereis nie. En anders as Handel het hy ook nooit vir die verhoog geskryf nie.
In 1703 is hy as orrelis in Arnstadt aangestel. Daarna het hy ’n pos gekry aan die hof van Weimar en in dié tyd het hy ’n groot deel van sy werke vir die orrel geskryf. In 1717 het hy ’n pos in Köthen aanvaar en daar gekonsentreer op kamermusiek en komposisies vir die klavier (klavesimbel en klavichord), onder meer die Brandenburg-concerto’s en die eerste deel van Das wohltemperierte Klavier.
Kyk hier na Angela Hewitt se uitvoering en van dele uit Bach se Das wohltempierte Klavier, maar waarin sy ook inligting gee oor die uitvoering van Bach se werk op die klavier.
[iframe width=”350″ height=”197″ src=”https://www.youtube.com/embed/ZAeLjliS1LY” frameborder=”0″ allowfullscreen=””]
In 1720 is sy vrou, Anna Barbara, dood. Die volgende jaar is hy getroud met Anna Magdalena en in 1723 het hy ’n pos in Leipzig aanvaar en daar sowat 300 kantates (waarvan ’n derde verlore geraak het) gekomponeer asook die Matteus– en Johannes Passie, die tweede deel van Das wohltempierte Klavier en die Goldberg-variasies.
Bach is in 1750 ná ’n beroerte dood. ’n Paar maande voor sy dood het hy blind geword nadat hy behandeling ontvang het van dieselfde dokter wat Handel behandel het. Handel was die laaste ses jaar van sy lewe blind.
Luister hier na ’n uitvoering van Bach se Brandenburg Concerto No. 3 in G, BWV 1048 deur die Freiburger Barockorchester.
Oorweeg dié opnames
John Eliot Gardiner is voor die Monteverdi Choir & English Baroque Soloists in dié DVD van die BBC met Bach-kantates en ander koorwerke. Die soliste is Magdalena Kozená (sopraan), William Towers (alt), Mark Padmore (tenoor) en Stephen Loges (bas).
Opnames van die Goldberg-variasies sluit dié in van die Kanadese pianis Glenn Gould (hou net in gedagte dat hy hoorbaar saam neurie!), die Amerikaner Murray Perahia, en die Brits-Kanadese pianis Angela Hewitt.
Die Franse pianis en jazz-eksponent Jacques Loussier (1934) is onder meer bekend vir sy jazz-interpretasie van Bach se musiek, soos die Goldberg-variasies.
Oorweeg dié DVD wat gemaak is ter viering van Loussier se 70ste verjaardag in die St. Thomas-kerk in Leipzig. Jacques Loussier Trio play Bach … and more (2004/2014). Blu-ray | MPEG-4 AVC.
Kyk hier na Loussier en sy trio se weergawe van Bach se “Praeludium”.
[iframe width=”350″ height=”197″ src=”https://www.youtube.com/embed/-x6jzKpqeuw” frameborder=”0″ allowfullscreen=””]