JOHAN MYBURG
Sedert 2010 het die Duitse Harmonic Brass nog elke twee jaar ? konserttoer na Suid-Afrika onderneem. Van 1 tot 20 Maart is dié vyftal koperblaasinstrumentaliste van München op besoek aan die land en op 6 Maart tree hulle op in die Linder-ouditorium in Johannesburg.
Dié optrede is deel van die Johannesburg Musiekvereniging (JMS) se jaarprogram van minstens een uitvoering per maand. In die eerste twee programme vroeër vandeesmaand het die pianiste Peter Donohoe en Olga Kern onderskeidelik vir die JMS opgetree. Sien kassie hiernaas.
Harmonic Brass is in 1991 gestig en sedertdien het dié ensemble hom gevestig as een wat populêre treffers uit die klassieke repertorium vertolk met integriteit en die hoogste vakmanskap. Uit talle resensies blyk dié vyftal se vermoë om wyd aanklank te vind en nietemin puriste tevrede te stel. Dit doen die kwintet oënskynlik moeiteloos en met sy kenmerkende lighartigheid – van New York se Carnegie Hall tot Leipzig se Gewandhaus; van Kanada tot Japan.
Die ensemble wat hier kom optree bestaan uit Manfred Häberlein (tuba), Thomas Lux (tromboon), Elisabeth Fessler (trompet), Hans Zellner (trompet) en Andreas Binder (Franse horing).
Häberlein is sedert die ontstaan van die ensemble die tubaspeler, Lux het in 2004 aangesluit en Fessler tien jaar later in 2014. Zellner het in 1997 lid geword en Binder in 1992.
Tydens ? konsertbesoek in die Wes-Kaap in 2012 het Harmonic Brass kennis gemaak met leerlinge uit van die armste gemeenskappe rondom Kaapstad en by hul terugkeer na Duitsland het hulle musiekinstrumente begin bymekaarmaak vir jong mense uit dié omgewing wat graag ? koperblaasinstrument wil bemeester.
Meer as 100 instrumente het sedertdien hul weg na Suid-Afrika gevind en deur middel van sy samewerking met die Universiteit van Stellenbosch bly Harmonic Brass in kontak met die leerlinge wat onder leiding van Shean Cloete onderrig ontvang.
Intussen is die projek uitgebrei om die Universiteit van die Vrystaat ook te betrek. Die oogmerk is om tydens die 2016-toer werksessies op verskeie plekke in die land aan te bied.
Kry in dié video ? voorsmaak van Harmonic Brass se optrede.
JMS se program vir 2016
Die res van die jaar se program lyk so:
- Alexander Ramm (tjello) en Pieter Jacobs (klavier): 17 April om 17:00
- Melvyn Tan (klavier): 14 April om 20:00
- Kristof Barati (viool) en Bryan Wallick (klavier): 18 Junie om 20:00
- Alessandro Taverna (klavier): 13 Augustus om 20:00
- Trio Elegiaque met Sergey Malov (viool), Peter Martens (tjello) en Bryan Wallick (klavier): 17 September om 20:00
- Konstantin Schebakov (klavier): 15 Oktober om 20:00
- Jérôme Pernoo (tjello) en Jérôme Ducros (klavier): 12 November om 20:00
- Classic Nataniël: 30 Oktober om 16:00
Word ? lid van die Johannesburg Musiekvereniging en kry afslag op kaartjiepryse. Stuur e-pos na [email protected] of besoek www.jms.org.za.