Florence, die Britse regisseur Stephen Frears se rolprent geskoei op die lewe van die Amerikaanse sosiale vlinder wat daarvan gedroom het om ’n beroemde operasanger te wees, word glo volgende jaar uitgereik. Meryl Streep vertolk die rol van Florence Foster Jenkins in dié fliek.
Johan Myburg
Toe Florence Foster Jenkins (1868-1944) in 1909 besluit het om as sanger naam te maak, was dit nie geld wat in haar weg gestaan het nie. Daarvan het sy genoeg gehad. Haar welgestelde pa is daardie jaar dood en uit sy erflating het sy vlerke kon gee aan haar droom.
Wat sy nié gehad het nie, was sangtalent. Sy was toondoof, het nie ritme gehad nie, haar diksie was power en haar stem- en sangkwaliteit was nie waffers nie. Maar dit het haar nie gekeer nie. Die stem wat sy in haar binne-oor gehoor het was waarskynlik dié van ’n engel.
As kind het sy die klavier goed bemeester en selfs opgetree in die Withuis tydens die presidentskap van pres. Rutherford B. Hayes. Sy wou oorsee gaan studeer, maar haar pa het dit teengestaan. Sy is in 1885 in die geheim met dr. Frank Thornton Jenkins getroud, maar kort daarna het sy sifilis van hom gekry en hom verlaat. Sy het nietemin die Jenkins-naam behou.
In 1909 het sy kennis gemaak met die aristokratiese Engelse akteur St. Clair Bayfield en vir 36 jaar het dié twee ’n liefdesverhouding gehad. Hy het later Foster Jenkins se bestuurder geword. In Frears se rolprent vertolk Hugh Grant die rol van Bayfield.
Op 44 het Foster Jenkins in 1912 besluit sy is reg vir optredes en het sy haar “loopbaan” begin.
Uit opnames wat gemaak is, blyk dit dat Cosmé McMoon, haar begeleier (in die fliek vertolk deur Simon Helberg), deurgaans aanpassings gemaak het om te kompenseer vir haar variasies in tempo en ritme-foute.
Die nagevolge van die sifilis het haar brein, gehoor en senustelsel aangetas en boonop het sy haar lewe lank gely onder die newe-effekte van die behandeling (dit was voor penisillien).
St. Clair Bayfield het haar beskerm teen kritici en bywonings van haar optredes was gewoonlik slegs op uitnodiging. In die pers het daar nie resensies van haar optrede verskyn nie, en as daar oor haar geskryf is, was dit gewoonlik deur vriende of deur haarself.
Sy het haarself graag vergelyk met bekende soprano soos Frieda Hempel en Luisa Tetrazzini en gelag tydens haar optredes afgemaak as jaloesie. Nietemin was sy bewus van kritiek. “Mense kan sê ek kan nie sing nie,” het sy by geleentheid gesê, “maar hulle sal nooit kan sê ek het ek het nié gesing nie.”
Haar repertorium het werke ver bo haar vuurmaakplek ingesluit: soos “Der Hölle Rache”, Mozart se Koningin van die Nag-aria uit Die Zauberflöte, verskeie Brahms-Lieder en ook liedere wat sy en McMoon geskryf het.
Luister na Florence Foster Jenkins se opname van “Der Hölle Rache”, Mozart se Koningin van die Nag-aria, uit Die Zauberflöte.
[iframe height=”360″ frameborder=”0″ width=”480″ allowfullscreen=”” src=”https://www.youtube.com/embed/V6ubiUIxbWE”]
Teen die laat-1930’s het sy uit haar eie sak vyf plate by Melotone in New York opgeneem met opera-arias. Dié opnames is versamelitems geword (juis omdat dit so vrot was) en het later onder ander etikette verskyn (met spottende titels).
Onder dié opnames is A Florence! Foster!! Jenkins!!! Recital!!!! (RCA Victor, 1954), Florence Foster Jenkins: The Glory (????) of the Human Voice (RCA Victor 1962), Florence Foster Jenkins and Friends: Murder on the High Cs (Naxos Nostalgia, 2003) en The Muse Surmounted: Florence Foster Jenkins and Eleven of Her Rivals (Homophone, 2004).
Op 76 het Foster Jenkins in Carnegie Hall opgetree. Vir dié konsert op 25 Oktober 1944 was die kaartjies weke voor die tyd uitverkoop. In die gehoor was onder andere die liedjieskrywer Cole Porter, die komponis Gian-Carlo Menotti, die sopraan Lily Pons en haar man, die dirigent André Kostelanetz. Omdat dit ’n openbare optrede was kon resensente nie geweer word nie, en volgens McMoon het die openlik aanvallende resensies Foster Jenkins diep gekrenk.
Twee dae ná die Carnegie Hall-konsert het sy ’n hartaanval gehad en op 26 November 1944 is sy in haar New Yorkse woonplek, Hotel Seymour, dood.