Teen die middel van die 18de eeu het die musiekwêreld die nuwe kosmpolitiese kultuur wat in Europa posgevat het, weerspieël. Huwelike tussen maghebbers en monarge het gelei tot ’n Duitse koning in Engeland, Swede en Pole; ’n Spaanse koning in Napels; ’n Franse hertog in Toskane en ’n Duitse prinses as die keiserin van Rusland.
Johan Myburg
So het die Duitser Georg Friedrich Händel byvoorbeeld verengels en George Friedrich Handel geword toe sy beskermheer, die Duitse prins George van Hanover, in 1714 koning George I van Engeland en Ierland geword het.
In 1752 het die komponis Johann Joachim Quantz opgemerk die ideale musiekstyl was dié een waarin die beste eienskappe van die musiek van al die Europese nasies versmelt is.
Nietemin moet ’n mens, te midde van hierdie “internasionale kultuur” wat begin posvat het, ’n oog oop hou vir die opkoms van nasionalisme wat ’n hooftema van die 19de eeu sou word.
Teen die einde van die 18de eeu het die politieke landskap onherkenbaar verander. Die Franse Revolusie het ’n nuwe politieke en sosiale era ingelui en die middelklas het groter, welvarender en vernamer geword. Saam met die opkoms van die humanisme en die gedagte van ’n wêreldwye broederskap (soos dit onder meer gestalte gekry het in die Vrymesselaars-beweging) het behoefte aan kennis asook ’n waardering vir musiek en letterkunde toegeneem.
Dis teen die middel van die 18de eeu, ná die Barok, dat musiek in die “Klassieke styl” sy verskyning begin maak het. Dis nou die musiek van Haydn, Mozart en die vroeë Beethoven, van 1730 tot 1815.
Die Klassieke periode is gekenmerk deur ’n teruggryp na die klassieke ideale van die Griekse en Romeinse kuns: ideale soos edel eenvoud, balans, formele perfeksie en die afwesigheid van oordaad, ornamentasie en die fieterjasies van die Barok.
Hoewel konings, kerke en state die maak van musiek nog bly steun het, het musici al meer op die publiek begin staatmaak. Deur middel van openbare konserte kon komponiste en uitvoerende kunstenaars sélf hul inkomste aanvul en boonop ’n groter gehoor bereik.
Voor Haydn en Mozart was daar niemand wat sulke wyduiteenlopende gehore bereik het as juis dié twee nie. Hulle musiek het aanklank gevind by connoisseurs sowel al dié wat beperkte musiekagtergrond gehad het.
En hoewel vroue, benewens as sangers, nie as professionele musikante toegelaat is nie, het hulle as amateurs ’n leeue-aandeel gehad in die totstandkoming van musiek as tuisvermaak. Komponiste het veral klaviermusiek spesiaal vir hierdie amateurs begin skryf.
[iframe width=”350″ height=”197″ frameborder=”0″ src=”https://www.youtube.com/embed/rM6-DJZc6uI” allowfullscreen=””]
Kyk hier na ’n kort oorsig oor die ontstaan van die klavier.
Die klavier, oftewel die pianoforte, wat ontwikkel is deur Bartolomeo Christofori (1655-1732), is aanvanklik met agterdog bejeen, maar teen 1760 het dié instrument wat hard én sag kon speel (vandaar die piano + forte), die klavesimbel begin oorskadu. Klaviere is in Oostenryk, Duitsland, Frankryk en Engeland vervaardig.
Kyk hier na ‘n artikel oor Britanje se oudste klavier, wat 240 jaar nadat dit gemaak is, weer gespeel is. Luister ook hier na ’n gedeelte van ’n Haydn-sonate gespeel deur Norberto Broggini op die klavier wat in 1772 met die hand gemaak is deur Americus Backers in Londen.
Dit was ook in die Klassieke era dat strykkwartette (gewoonlik twee viole, ’n altvioole en ’n tjello) ’n standaardsamestelling begin word het. So ook houtblaasensembles bestaande uit die hobo, die fagot en die fluit is teen 1780 aangevul met die klarinet. Die kombinasie van twee hobo’s en/of twee klarinette saam met twee horings en twee fagotte het taamlik algemeen geword.
Die konsertorkes van die 18de eeu was aansienlik kleiner en tussen 1760 en 1785 was daar selde meer as 25 orkeslede. Die rol van orkesleier – tot in daardie stadium behartig deur die klavesimbelspeler – het oorgegaan na die leier van die eerste viole.
En as jy meer wil weet oor hedendaagse klaviere, laat John Steinway (1917-1989) jou op ’n toer neem deur Steinway se fabriek in New York om te wys hoe dié befaamde firma hulle klaviere bou.