Sedert 2005 gedenk die Kaapstad Filharmoniese Orkes (KFO) jaarliks die lewe en bydrae van Huberte Rupert, weldoener vir die kunste en jare lank een van die orkes se hoofborge, deur middel van ’n konsert teen die einde van die jaar. Rupert is in Oktober 2005 oorlede.
JOHAN MYBURG
Ammiel Bushakevitz
Volgens Louis Heyneman, uitvoerende hoof van die KFO, het Huberte Rupert ’n hele aantal jong Suid-Afrikaanse kunstenaars gehelp sonder om dit ooit te noem of enige lof daarvoor te verwag. “Ons eer die nalatenskap van ’n uitsonderlike vrou op ’n gepaste manier: deur musiek.”
Die KFO se Huberte Rupert-gedenkkonsert vind vanjaar weer in Stellenbosch se Endlersaal plaas en die solis wat optree is die pianis Ammiel Bushakevitz. Hy speel saam met die KFO onder leiding van die dirigent Brandon Phillips Mozart se Klavierkonsert no. 23 in A, K 488.
Bushakevitz is in Jerusalem, Israel, gebore, maar het in George in die Suid-Kaap grootgeword. Ná sy plaaslike musiekopleiding onder andere by proff. Joseph Stanford en Heinrich van der Mescht het hy sy studie in Leipzig en Parys voortgesit.
Hy het hom van meet af onderskei as begeleier en as pianis. Onder sy mentors tel gevierde sangers soos Dietrich Fischer-Dieskau, Elly Ameling, Thomas Quasthoff, Thomas Hampson, Barbara Bonney, Robert Holl, Wolfgang Holzmair en Teresa Berganza; en pianiste soos Alfred Brendel, Helmut Deutsch, Wolfram Rieger, Pierre-Laurent Aimard en Graham Johnson.
Nadat hy ’n meestersgraad in klavier as solo-instrument behaal het, het hy ’n meestersgraad in Lieder-interpretasie aan die Hochschule für Musik und Theater “Felix Mendelssohn Bartholdy” in Leipzig onder Phillip Moll behaal.
Sonder twyfel was 2013 ’n goeie jaar vir Bushakevitz.
Saam met die Israelse mezzo-sopraan Hagar Sharvit het hulle die tweede prys in die internasionale Schubert-kompetisie in Dortmund, Duitsland, verower nadat hulle in 2012 die eerste prys in die Brahms-kompetisie in Pörtschach en ’n derde prys in die Hugo Wolf-kompetisie in Stuttgart ingepalm het.
Kyk hier na ’n opname van Franz Schubert se Der Erlkönig met Hagar Sharvit (mezzosopraan) en Ammiel Bushakevitz (klavier). Dié opname is verlede jaar gemaak tydens die Festival d’Aix-en-Provence in Frankryk.
[iframe width=”350″ height=”197″ frameborder=”0″ src=”https://www.youtube.com/embed/GFzURRTOlmk” allowfullscreen=””]
In 2013 het hy ook die prys as beste begeleier in die Wigmore Hall-sangkompetisie in Londen ontvang. By dié geleentheid het hy die Amerikaanse tenoor Timothy Fallon begelei.
Dit was ook die jaar waarin hy internasionale aandag op hom gevestig het toe hy aangewys is as die eerste ontvanger van die Richard Wagner-prys, ’n prys wat toegeken is by die herdenking van Wagner se 200ste geboortedag. Die oorhandigingsgeleentheid is op Duitse TV uitgesaai.
As kersie op die 2013-koek het hy ook daardie jaar sy solo CD-debuut opgeneem: ’n album met die laat-werke vir klavier van Franz Schubert. Die CD is opgeneem in die Salle Fleuret in Parys.
Huberte Rupert-gedenkkonsert
Die konsert op 4 Desember in die Endlersaal in Stellenbosch begin om 20:00. Die eerste werk op die program is die Romeo & Juliette-ouverture (Tsjaikowski), gevolg deur die Klavierkonsert no. 23 in A, K488 (Mozart). Die hoofwerk is die Simfonie no. 8 in G, op. 88 (Dvorak). Die Kaapstad Filharmonie word gedirigeer deur Brandon Phillips. Bespreek by Dial-a-Seat: 021 421 7695.
Vir meer inligting oor Ammiel Bushakevitz besoek sy amptelike webwerf hier.