In vandeesweek se rubriek in Vrouekeur skryf Johan Myburg oor opera van die vroeë Romantiek. Die inligting hier onder is ter aanvulling tot die Vrouekeur-rubriek
Johan Myburg
Oorsig van stemsoorte wat in opera voorkom
Operastemme word geklassifiseer onder meer op grond van die stemomvang. Daarvoor het die Duitsers vorendag gekom met die Fach-stelsel wat voorsiening maak vir ‘n sopraan, mezzosopraan, kontratenoor, tenoor, bariton en bas.
Sopraan
Die sopraan is die hoogste vrouestem en dikwels ook dié van die vrouehoofrol in die opera. Die omvang van dié stem sterk rofweg van middel C tot die C twee oktawe hoër – hoewel kolorature hoër kan sing.
Daar is vyf soorte soprane:
Koloratuur
Die stem is besonder soepel en kan so hoog reik as die derde F bó middel C, en dalk hoër. ‘n Voorbeeld is Joan Sutherland met haar opname van die waansintoneel uit Donizetti se Lucia di Lammermoor.
Soubrette
Die stem is soet en helder en bekend vir ‘n koketterige karakter. ‘n Voorbeeld is Diana Damrau se vertolking uit Humperdinck se Hansel und Gretel.
Liries
Die stem is voller, ryker en het ‘n volwasser kwaliteit. Van die mooiste operamusiek is vir dié tessituur (stemsoort) geskryf. ‘n Voorbeeld is Ana Maria Martinez se “Tanto amore segreto” uit Puccini se Turandot.
Spinto
Die stem het die helderheid van die liriese sopraan en die gewig in die klimakse van die dramatiese sopraan. ‘n Voorbeeld is Adrianne Pieczonka se vertolking in Tsjaikowski se Eugene Onegin.
Dramaties
Die stem is groot in omvang en kan bó ‘n orkes uittroon sonder om enige subtiliteit prys te gee. ‘n Voorbeeld is die Suid-Afrikaans gebore Elizabeth Connell as Brünnhilde uit Wagner se Götterdämmerung.
Mezzosopraan
Die mezzosopraan (ook genoem mezzo) is ‘n vrouestem effe laer as dié van die sopraan. Die omvang van dié stem sterk rofweg van die G onder middel C tot die A twee oktawe hoër. Mezzo’s vervul dikwels ‘n ondersteuningsrol of vertolk dié van die boef. ‘n Voorbeeld van ‘n mezzo in ‘n hoofrol is Bizet se Carmen.
Daar is drie soorte mezzosoprane:
Koloratuur
Die stem kan so hoog as die hoë C bereik, maar het ewe veel krag in die middel- en lae register. ‘n Voorbeeld is Agnes Baltsa se vertolking van “Una voce poco fa” uit Rossini se Il Barbiere di Siviglia.
Liries
Die stem is nie so glansryk soos die koloratuur nie en word dikwels ingespan vir ‘n manskarakter. ‘n Voorbeeld is Jennifer Larmore se vertolking van Hänsel uit Humperdinck se Hansel und Gretel.
Dramaties
Die stem is warm, ryk en luidend. Dis dikwels die stem van ‘n ma-figuur of ‘n heks. ‘n Voorbeeld is Waltraud Meier se voorstelling van Eboli uit Verdi se Don Carlos.
Kontratenoor
Die kontratenoor is die hoogste manstem, min of meer met die omvang van ‘n mezzo. Daar is min rolle vir dié stemgroep geskryf in die Romantiek. ‘n Voorbeeld is Jochen Kowalski se vertolking van Oberon uit Britten se A Midsummer Night’s Dream.
Tenoor
Die tenoor word gewoonlik gebruik in die manshoofrol. Die omvang strek van C onder middel C tot die C bó middel C. ‘n Voorbeeld is Juan Diego Florez se vertolking van “Ah! mes amis, quel jour de fête!” uit Donizetti se La fille du regiment.
Dié stemgroep word in vier onderdele verdeel:
· Liries
Die liriese tenoor kry van die sjarmantste rolle. ‘n Voorbeeld is Rolando Villazon se vertolking uit Offenbach se Les contes d’Hoffmann.
· Spinto
Spinto is na aan die liriese tenoor hoewel dié groep meer oemf het in die hoër register. ‘n Voorbeeld is Placido Domingo se vertolking van Radames uit Verdi se Aïda.
· Dramaties
Die dramatiese tenoor beskik oor die vermoë om triomfantelik bó die orkes uit te troon. ‘n Voorbeeld is Jon Vickers se vertolking van “Niun mi tema” uit Verdi se Otello.
· Heldentenor
Die helde-tenoor kom veral in die Duitse operaliteratuur voor (soos dié van Wagner) en dié stemgroep word aangewend vir omvangryke rolle wat oor lang periodes volgehou moet word. ‘n Voorbeeld is Siegfried Jerusalem se vertolking van die naamrol in Wagner se Siegfried.
Bariton
Die omvang van die bariton se sangstem is rofweg van die G onder middel C tot die G bó middel C.
Drie soorte bariton word onderskei:
Liries
Die liriese bariton kry dalk die komiese rolle, maar dit beteken nie noodwendig oppervlakkigheid nie. ‘n Voorbeeld van dié sangstem is Stephan Degout se weergawe van “Ein Mädchen oder Weibchen” uit Mozart se Die Zauberflöte.
Verdi
Die Verdi-bariton is, soos die naam aandui, ‘n stemgroep eie aan Verdi-operas. Dié sangers is in staat op note aan albei kante van die bariton-register met ryk en ronde klank te sing. ‘n Voorbeeld is Leo Nucci se vertolking van “Pieta, rispeto, amore” uit Verdi se Macbeth.
Dramaties
Die dramatiese bariton se omvang strek van die G twee oktawe onder middel C en boontoe. ‘n Voorbeeld is Bryn Terfel se vertolking van die karakter Scarpia se “Te Deum” uit Puccini se Tosca.
Bas
Die basstem is die laagste sangstem en die omvang strek van die E bó middel C tot die E twee oktawe laer.
Drie soorte basstem word onderskei:
Basbariton
Die basbariton kan die laagste note van die basomvang haal, maar ook hoër, in die rigting van die baritongroep sing. ‘n Voorbeeld is Hans Hotter se vertolking van die rol van Jokanaan in Strauss se Salome.
Buffo
Die buffo-bas kry veral in bel canto-operas die komiese rolle, dikwels met heelwat tongknopers. ‘n Voorbeeld is Alessandro Corbelli se vertolking van Dokter Magnifico in Rossini se La cenerentola.
Basso profundo
Dis die laagste stemsoort in opera en dié sangers beskik oor ‘n ryk en kragtige stem. ‘n Voorbeeld is Eric Halfvarson se vertolking van Sarastro se “In diesen heiligen Hallen” uit Mozart se Die Zauberflöte.